[Video] Idols lewer jongste wenner nóg op

Paxton Fielies. Foto: Idols SA/Facebook

Paxton Fielies is Sondagaand as die jongste Suid-Afrikaanse Idols-wenner nóg aangewys.

Die 17-jarige van Bishop Lavis in Kaapstad is die 13de Idols-wenner en het in die finaal stof in die oë geskop van Mthokozisi Ndaba (25) van KwaZulu-Natal om met die louere weg te stap. Die finaal het tydens ’n spoggeleentheid by Carnival City plaasgevind.

Fielies is in graad 11 aan die Belhar High School for the Arts in Bellville. Sy was net 16 jaar oud toe sy haar eerste oudisie vir die kompetisie afgelê het.

Fielies wen R1 miljoen geborg deur Telkom, Mzansi Magic en Capitec Bank. Sy ry ook weg met ’n splinternuwe Ford Focus en R100 000 se koopbewyse van Truworths. Sy wen verder klanktoerusting van Shure en Yamaha en ’n platekontrak by Gallo Music.

Volgens die organiseerders is daar die afgelope seisoen ’n rekord aantal stemme uitgereik. Tydens die reeks is daar meer as 98 miljoen stemme uitgebring terwyl daar die afgelope week ’n verbysterende 30 miljoen stemme vir die toptwee-deelnemers uitgebring is.

Die organiseerders het intussen ook reeds bekend gemaak dat die oudisies vir die 14de seisoen in Januarie in Durban en Kaapstad begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Genieve ·

You go Paxton jyt dit verdien ons in die Wes-kaap is trots op jou.

Lizelda Jv Rensburg ·

Paxton was my gunsteling vandat ek haar die eerste keer gesien het. Sy is n voorbeeld vir baie jong kinders. Bly sy het gewen, Hoop net sy bly nederig. :-)

Piet Pompies ·

98 Miljoen stemme, teen R1 per SMS, die selfoon maatskappye en aanbieders het heelwat geld gemaak.
Baie geluk aan die wenner.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.