Video: Lokprent van finale ‘Game of Thrones’ is hier

HBO het onlangs ‘n reeks plakkaat bekendgestel vir die laaste seisoen van Game of Thrones. Hier sit Daenerys Targaryen (Emilia Clarke) op die ystertroon. Foto: HBO/Twitter.com

Die amptelike lokprent vir die finale seisoen van die epiese fantasie‑dramareeks, Game of Thrones, is vroeg Woensdagoggend bekendgestel. Te oordeel aan die video lyk dit of die tafel gedek is vir ʼn kolossale eindstryd om die legendariese ystertroon van Westeros se Sewe Koninkryke.

Miljoene kykers om die wêreld heen is sedert 2011 jaarliks voor die kassie vasgenael om David Benioff en DB Weiss se verwerking van George RR Martin se A song of Ice and Fire‑fantasieromans te sien.

Die boeke en televisiereeks handel oor nege koninklike families wat veg om die beheer van die mitiese lande van Westeros. Daar is natuurlik ook drake, reusagtige wolwe en die geheimsinnige kinders van die woud. Om sake nou te vererger is daar boonop ʼn ou vyand wat ná ʼn millennium se afwesigheid skielik dreig om die wêreld te verswelg met die aankoms van ʼn nuwe winter wat jare kan duur.

Benioff en Weiss het saam met die HBO-kanaal daarin geslaag om Martin se sewe boeke, wat elkeen meer as 700 bladsye beslaan, in ses seisoene van 10 episodes elk te verwerk. Seisoen sewe, wat in 2017 vertoon het, het egter net sewe episodes bevat en kykers laat smag na meer van die verhaal.

Martin het self nog nie sy boekereeks voltooi nie en die televisiereeks het in dié seisoen die boeke se storielyn verbygesteek.

Aanhangers van die televisiereeks en lesers kan nie meer wag om uit te vind hoe dit alles vir die karakters in die fantasiewêreld eindig nie en of enige iemand werklik ooit die ystertroon sal beset.

Die reeks het sedert 2012 meer Emmy-pryse as enige ander spitstyd televisiereeks ingepalm. ʼn Allemintige 47 Primetime Emmy-pryse is aan die reeks toegeken, wat die beste dramareeks vir 2015, 2016 en 2018 insluit.

Peter Dinklage het ook drie Emmy-pryse as beste ondersteunde akteur in ʼn dramareeks gekry vir sy vertolking van die dwerg Tyrion Lannister in dié reeks. Hy het ook ʼn Golden Globe in 2012 vir dieselfde rol ontvang. Lena Headey, Emilia Clarke, Kit Harington, Maisie Williams, Nikolaj Coster-Waldau, Diana Rigg en Max von Sydow het ook Emmys vir hulle optredes in die reeks ontvang.

Game of Thrones het rekordkykersgetalle vir HBO besorg. Kritici het die televisiereeks veral geloof vir die uitstekende toneelspel, komplekse karakters, storielyne en die omvang van die produksiewaarde. Die reeks is egter ook al skerp gekritiseer vir die gebruik van naaktheid en geweld wat seksuele geweld insluit.

Martin het ook berugtheid verwerf vir sy vermoë om lesers se gewildste karakters in sy storielyne te laat vermoor. Benioff en Weiss het by die tradisie in die televisiereeks gehou en dit laat kykers nou wonder wie van hulle gunstelingkarakters sal wel die laaste stryd oorleef.

HBO het oor die laaste paar maande aanhangers geterg met die uitreiking van ʼn paar korter lokprente en ʼn reeks treffende plakkate as lusmakers vir die laaste reeks van Game of Thrones. Die reeks sal op 14 April wêreldwyd en in Suid-Afrika begin wys.

Aanhangers het teen die tyd al erg begin bespiegel oor wie die ystertroon sal bestyg. ʼn Mens kan net hoop dat die reeks sal hou by die fantasiegenre se gebruik om die goeie die slegte te laat oorwin maar aanhangers weet ook dat Lord Ramsay Bolton (vertolk deur Iwan Rheon), een van die mees gehate karakters in die reeks, al in 2013 gewaarsku het: “If you think this has a happy ending, you haven’t been paying attention.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ruben ·

Ek vergeet van alle rugby krieket golf als as daai storie eers begin

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.