Die amptelike lokprent van die nuwe jag-en-visvangreeks, Byt en buskruit, is pas uitgereik en dit is genoeg om jagters en hengelaars se opwinding te stook vir die bekendstelling van dié reeks.
Byt en buskruit word volgende maand op Dapper Media bekendgestel.
Die program word aangebied deur die gesoute jagprogram-aanbieder, sanger en liedjieskrywer Adam Tas, wat saam met talle bekendes soos Pieter Smith, Sorina ‘Die Flooze’ Erasmus, Chris Chameleon en Steve Hofmeyr kuier.
In elke episode reis een van die bekendes saam met Tas na ʼn eksotiese bestemming in Mauritius, Mosambiek, St. Helena-eiland en Namibië. Ná afloop van elke dag se avontuur word daar heerlik kos gemaak met die vangs van die dag en daar word gesellig om die kampvuur gekuier. Kykers sal eerstehands kan sien hoe vis- en wildsvleisgeregte berei word en dié resepte sal ook eksklusief op Maroela Media beskikbaar wees.
Boonop is dit alles vir ʼn goeie doel! Al die wild wat tydens die vervaardiging van die programme gejag word, word aan die #HelpJag-inisiatief van Solidariteit Helpende Hand geskenk. Dié inisiatief voed daagliks sowat 8 000 kinders en tot op hede is meer as 12 000 kg wildsvleis aan dié projek geskenk.
En die beste van als, dit is heeltemal gratis. Dapper Media is ʼn aanlynstromingsdiens wat intekenaars gratis toegang gee tot ʼn legio Afrikaanse programme wat vervaardig word deur Dapper Media en Forum Films. Al wat jy benodig is toegang tot die internet en ʼn Dapper Media-rekening.
Kliek hier om gratis op Dapper Media te registreer.