[Video] Minki dra haar hart op haar mou

Minki van der Westhuizen (Foto: Verskaf)

Minki van der Westhuizen (Foto: Verskaf)

Deur Yolanda Wessels

ʼn Nuwe jaar, en nuwe uitdagings wink vir Minki van der Westhuizen.

Hoewel die plan nooit werklik was om ʼn aanbieder te raak nie, grotendeels omdat sy mal was oor modelwerk en nie geweet het of sy sou kon present nie, is dit presies waar dié borrelende blondekop haar vandag bevind.

“Amor Engelbrecht was jare lank my producer by Pasella en ná sewe jaar op dié stel, het ek ʼn groot liefde vir die televisiebedryf ontwikkel,” vertel sy.

Pasella het Boer soek ʼn vrou gevolg – kykNET beplan reeds aan die tiende seisoen en Minki gaan weer deel van die span wees. Nadat Minki se man, Ernst, einde 2015 uitgetree het as professionele rugbyspeler, het hulle teruggekeer vanaf St. Albans (net buite Londen) na Suid-Afrika en hulle in Stellenbosch gevestig. Hier woon hulle saam met hul twee dogtertjies, Katerien (3) en Elise (2).

“Kort ná ons terugkoms het Elmarie Botha, die vervaardiger van Boer soek ʼn vrou, my genader om te hoor of ek sou belangstel om die program aan te bied. Ek was skrikkerig aan die begin omdat ek nie gewoond was aan werklikheidstelevisie nie.” Kykers se terugvoer was dat sy uitgeknip is vir dié rol.

Minki vertel dat dit ʼn aanpassing en opoffering was om dikwels sonder haar gesin te reis vir opnames, maar dat geen sukses in die lewe maklik en sonder opofferings kom nie. “Ek is opgewonde om wéér deel van die volgende Boer soek ʼn vrou-reeks te wees. Die onderhoude hier is baie intens en vat nogal baie uit jou uit, so ek sien uit na die ligter trant van onderhoude op Kwêla.”

Soos in enige loopbaan, is daar hoogte- en laagtepunte. “Die hoogtepunte vir my op Boer soek ʼn vrou was beslis die mense se reaksie ná seisoen nege se loodsepisode. Ek was op ʼn ongelooflike high en só oorweldig en dankbaar oor almal se positiewe terugvoer. Die laagtepunt was die verlange na my man en dogtertjies wanneer ons op die pad is. Ons gaan so tien dae op ʼn slag weg en ek is baie bly as my kinders kan saamreis. Ek vertel vir hulle Mamma gaan werk by Boer soek ʼn vrou, sodat hulle verstaan. Ek sal beslis nooit ʼn stay-at-home-mamma kan wees nie, ek glo mens moet jouself voortdurend uitdaag en verryk. Dit is gesond vir my en my kindertjies.”

Sy het gelukkig ʼn ongelooflike ondersteuningsnetwerk wat dit vir haar moontlik maak om te reis. “Dit verg baie organising, maar my ma en skoonma help ook baie uit!”

Minki vertel dat sy hard probeer om haarself objektief te hou as aanbieder op Boer soek ʼn vrou. “Ek is iemand wat my emosies wys wanneer iets my raak en dan is dit moeilik om nié empatie te toon nie. Veral wanneer ek baie huis toe verlang, lê die trane maar vlak.”

Nou sprei Minki weer haar vlerke en gelukkig vir ons, is dié sprankelende vrou vanaf 25 Januarie te sien as veldaanbieder op Kwêla. “Dis ʼn wonderlike vooruitsig vir my en boonop is Kwêla een van my gunstelingprogramme waarby ek sélf aanklank vind. Die program is ʼn instelling op Afrikaanse televisie en ek hoop om my eie energie na die program te bring.”

Is daar iets wat vir haar uitstaan? Hierop sê sy kort en kragtig: “Daar staan nie werklik iets vir my uit as aanbieder nie, maar ek hou van die diversiteit van veldaanbieding. Ek is dankbaar dat dié geleentheid my te beurt geval het om nog meer televisiewerk vir kykNET te doen.”

Met haar borrelende persoonlikheid is dit nie altemit nie, kykers kán beslis uitsien na ʼn skitterende reeks waarin Minki ongetwyfeld die aanbieding op Kwêla haar eie sal maak.

Kwêla word Woensdae om 20:30 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Ruby ·

Beslis die beste aanbieder van Boer soek ‘n vrou sover.

Minki bied dit opreg en eerlik aan en dit wys.

Geluk en dankie met jou aanbieding Minki, ek geniet dit baie.

Karoomeisie ·

Mal oor Boer soek n vrou.Maar dink net daar moet na die reeks kla is mense net op hoogte hou hoe dit gaan met boere wat liefde gevind het. Al is dit ook maande daatna. Al die aanbieders daarvan was sover BAIE OULIKE vroue. Bly vir Hennie en Jakobu !

Hanna ·

Wil ook graag weet na die tyd hoe dit gaan met die boere en hulle liefies. Kan nog steeds nie glo daar is niks tussen Leon-Fritz en Chante nie. Ek dink hulle steek dit net weg vir die media.

Ada ·

Hierdie Boer Soek “N Vrou – was bietjie van ‘n “mishap” want die boere het weggehardloop behalwe vir Hennie en Jakobu. Weet nie of die ander boere waarlik ‘n vrou gesoek het nie. Het nie so voorgekom nie. Hulle het almal van die “prentjie wat hulle het oor hulle droomvrou -in die kop” gepraat. Vroue het ook ‘n prentjie in die kop vab ‘n droom -man – bv Superman maar vroue weet hulle gaan dit nooit kry nie. So verwyder die prentjies uit julle koppe uit boere en kyk wat staan voor julle.

Chris ·

Ada jy kan mos nie verwag hulle moet die meisies so n kort rukkie ken en dan n droomvrou daar kry nie. As hulle nie tot die dames aangetrokke is nie dan is dit nou maar so. Ek sal verseker ook nie n verhouding met iemand wil aangaan wat ek voor iets voel nie. Met die tipe manier van mense ontmoet is die luck maar vrek min.

Alvida ·

Ja boere weet dit is kort tyd maar ek stem saam mens weet gou as daar n spark is of nie en dan maar liewers wegloop of jare lank seer kry

Alvida van Zyl ·

Daar moet n spark wees anders is dit beter om weg te stap van n verhouding en mens weet gou of daar een is of nie

Dankbaar ·

Did n baie oulike reeks met die regte aanbieder. Minki het in almal se harte gekruip omdat sy iemand met integriteit is. Ietsie wat ek graag sou wou sien is dat die boere so bietjie meer wys van hul gevoelens. As daar dan n meisie is wat sy hartsnare roer, sou ek voel hy moet dit wys. Hierdie manier van “die regte vrou vir my” is baie eensydig. Wat van die regte boer vir haar? Dit sal darem so lekker wees vir die meisie om haar hart oop te maak vir die regte boer. n Saak het twee kante en aangesien die man tradisioneel al die jare die jagter was sou ek voel hy moet bietjie meer gevoelens teenoor die gekose enetjie wys. Ag, did bloot n voorstel. Verder is dit n puik program. Sien uit na die volgende.

Maria Van Dieweeck ·

Minki het baie talent en is baie mooi, maar ai die taalgoggas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.