Video: Nico Panagio, Jo Black maak buiging in ‘Hotel’

Nico Panagio op die stel van ‘Hotel’. (Foto: Verskaf)

Die gewilde kykNET-komediereeks Hotel se vierde seisoen staan amper einde se kant toe, maar oudergewoonte maak ʼn paar bekende gesigte eers ʼn draai by die Fransen-hotel om te sorg vir skreeusnaakse komiese oomblikke.

In die 10de episode, wat vanaand (9 Maart) op die kassie te sien is, maak die akteur en Survivor SA-aanbieder Nico Panagio sy debuut in Hotel as Jeff.

Dit is tyd vir die jaarlikse vertrouenskursus en Ferdie, gespeel deur James Borthwick, het dit goedgedink om vir Jeff te kry om dié jaar se kursus aan te bied. Ferdie kry ook vir Jeff om ʼn spanbousessie te fasiliteer. Die personeel het hul bedenkinge oor sy metodes en wanneer Jeff se foon “gesteel” word, is almal onder verdenking.

Nico Panagio op die stel van ‘Hotel’. (Foto: Verskaf)

In ʼn poging om die skuldige op te spoor, moet elkeen van die personeellede in ware Survivor-styl ʼn naam van die persoon wat hulle dink skuldig is, neerskryf.

Jo Black verskyn in die 11de episode, wat volgende Maandag (16 Maart) uitgesaai word, as homself. Hy beland by die Fransen nadat al die ander venues in die Fransenburg-omgewing hom geboikot het.

Thomas, vertolk deur Beer Adriaanse, stem in dat hy sy praatjie by die hotel kan hou vir sy groep The Knights of Truth.

Jo Black en Mila Guy, wat die rol van Malanie vertolk, op die stel van ‘Hotel’. (Foto: Verskaf)

Danny (Schalk Bezuidenhout) vind uit dat Jo Malanie (Mila Guy) se sogenaamde hall pass is, en probeer dié twee so ver moontlik van mekaar af weghou.

Hotel handel oor die doen en late van die personeel van die Fransen Hotel in die hartjie van Mpumalanga in die klein dorpie van Fransenburg. Eers was dié hotel die dorp se trots, ʼn baken. Nou het dié hotel skaars ʼn een-uit-vyf-gradering op TripAdvisor.

Die gespartel van ’n middeljarige hotelbestuurder, Ferdie Kruger, en sy kleindorpie-personeel om dié substandaard-hotel se deure oop te hou, sorg vir talle skreeusnaakse oomblikke. Die reeks is ook propvol bekende name in die Afrikaanse vermaakbedryf.

Simoné Pretorius, De Klerk Oelofse en Martelize Kolver is ook in dié reeks te sien.

Hotel is elke Maandagaand om 20:00 te sien op kykNET, DStv-kanaal 144.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.