[Video] Opwindende nuwe storielyn wag op ‘7de Laan’-kykers

Pierre van Pletzen as Oubaas (Foto: Instagram via Real 7de Laan)

Kykers van die gewilde Afrikaanse sepie, 7de Laan, kan binnekort uitsien na ʼn opwindende nuwe storielyn.

Rosa-Marie Erasmus, woordvoerder van 7de Laan, het aan Maroela Media bevestig daar sal vanaf 7 Julie vir die eerste keer tonele gebeeldsaai word wat nie op die sepie se gewone stel geskiet is nie.

“Die jong mense gaan vir ʼn langnaweek weg waarna die vliegtuig waarmee hulle gereis het, neerstort. Ons gaan vir vier tot vyf episodes kyk hoe hulle in die bos probeer oorleef. Dit gaan regtig survival of the fittest wees,” het Erasmus laat hoor.

Die tonele is glo by die Hennopsrivier-staproete verfilm.

Erasmus het gesê dié tonele het niks met die karakter Oubaas se verdwyning uit die sepie te doen nie. Maroela Media het vroeër berig Pierre van Pletzen, wat die afgelope 17 jaar die rol van Septimus “Oubaas” van Zyl in 7de Laan vertolk het, het vandeesweek uitgevind sy kontrak is nie hernu nie. Sandra Vaughn, Van Pletzen se vrou, het aan Maroela Media vertel Van Pletzen het net ʼn maand kennis hiervan gekry.

Erasmus het Vrydag verklap Oubaas sal nie doodgaan óf van Hilda, sy vrou in die sepie, skei nie. “Ons het nie onmiddellike planne met sy karakter nie, maar die moontlikheid bestaan altyd dat hy kan terugkeer vir nog ʼn draai in die Laan.”

Van Pletzen sal op 14 Augustus die laaste tonele vir 7de Laan verfilm.

“Pierre was jare lank ʼn waardevolle deel van 7de Laan en sy bydrae word hoog op prys gestel. Ons groet hom nie omdat hy nog van tyd tot tyd sal kom kuier,” het Erasmus gesê.

Kyk hier vir ʼn voorsmakie van wat op aanhangers wag:

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Tata ·

Ek kyk seker al maklik vir die afgelope 4 jaar+ nie meer 7deLaan nie, maar dit was altyd een van die min Afrikaanse (deesdae blykbaar amper meer Engels!) programme wat ook vir ‘n goeie kykertal onder andere verstandelik gestremdes gesorg het. Ek voel besorgd oor wat aangaan. Dit klink nou al hoe meer of julle neig na ‘n realiteitsaanslag en die feit bly dat die Afrikaanse gestremde tuis en gemaklik voel met iemand soos Oubaas, Hilda, ens. (Al hoe minder om deesdae op te noem!). Julle is besig om al hoe meer ‘n populêre, moderne, liberale rigting in te slaan en dit wil voorkom of jul die sg tradisionele ‘Afrikaanse’ wil vervreem.

Lana de Labuschagne ·

Tata as jy dit al so lank nie kyk nie hoekom lewer jy kommentaar?

BOLANDER ·

Dit is met groot heimwee dat ek ook 7de laan groet na vele jare se kyk genot. Totsiens en ek hoop die vervaardigers vind genoeg genot daaruit om met hierdie aaklige nuwe 7de laan aan te gaan. Nie meer baie lank nie, dan het julle geen kykers oor nie. Ek kyk veel eerder Binnelanders wat baieeeee beter is!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

ek ·

Ek het ook laaaaaankal 7de laan verruil vir Binnelanders. 1000 keer beter!

Anti 7de Laan ·

Ek kyk al vir meer as 4 jaar nie 7de laan nie en glo my ek het dit nie een dag gemis nie. Hulle storielyne is so eentonig en verveeld. Dit was ‘n goeie sepie op sy tyd.

Piet ·

Stem saam Bolander : storielyn is vervelig, voorspelbaar, verbeeldingloos, onderskat kykers se intelligensie en probeer kykers op ‘n amateuragtige manier manipuleer. Ag nee wat, nie totsiens nie, eerder vaarwel 7de Laan!

Lukas ·

Wie kyk nog SABC? Kyk net Beste van Nederland en Vlaandere (BVN). Met ‘n skottel en FTA (free to air) dekodeerder is dit gratis op die SES-5 satelliet.

jaco ·

dit bly maar n vreemde storie, lekker uit pas met die werklikheid. Hier is my voorbeelde:
1.Ons bly in die land met die hoogste misdaadsyfer ter wêreld, maar die Hillside Heights woonstelblok het nie sekuriteitstoegang nie.
2. Die Hillside Times maak toe en al die wit mense wat daar gewerk het, kry dadelik ander werk en sommer ook ordentlike werk, terwyl die swart en bruin mense wat daar gewerk het, tydelike kelner werk kry, of heeltemal niks. In die ware SA is dit NET andersom.
3. Gita bestuur n reisagentskap. Iemand besluit skielik, uit die bloute, hy moet more duitsland toe vlieg en sy doen dit dadelik die bespreking, SONDER om vir hom te sê hy het n visum vir duitsland nodig en dat dit tot 2 weke kan duur om n visum te kry.
4. Lesedi het by Stellenbosch universiteit regte gestudeer. gemeet aan haar ouderdom was dit in die tyd voor hierdie universiteit op groot skaal verengels het. Maar sy praat NET engels
5. verskeie wit afrikaanse karakters praat net Afrikaans met swart engelssprekende karakters, en dan verstaan die swart karakters hulle nogal. in die regte lewe sê swartes vinnig “sorry I don’t understand Afrikaans” en beskou hulle dit ook dikwels as rassisties as wit mense met hulle Afrikaans praat.

Vidi ·

Presies dieselfde ding van vliegtuig wat val en jongmense wat moet oorleef gebeur in Greys Anatomy!! Hoe werk dit? Kyk laaaankal nie meer 7de Laan!! Mis dit ook nie.

Cheryl ·

At toe nou mense ek LOVE my 7de laan van ek op skool was en dis toe hy net begin het toe was ek 15 ek is nou in my 30s en geniet dit nog al die pad….en so ook my kinders…as Jul nie belang stel in 7de laan en Jul storie Lyn nie hoekom Dan die moeite doen om die Berig oop te maak om te lees mmm tog is Jul niskuurig om te weet wat gaan gebeur!!!! Dog ek noem dit maar net….7de laan wys hierdie mense wat jul so onderskat hoe goeie sepie jul werklik is. Jul is TOPS!!!

Jax ·

Nou Ja, daar is dit nou! Ek is al lankal redelik krapperig oor die sogenaamde nuwe 7 de laan. Niks is nuut nie – elke 6 weke of so, is die storielyn presies dieselfde.
Dié nuwe rigting hierbo genoem, het my sopas laat besluit dat vanaand die laaste keer was wat ek 7 de laan sal kyk!
Nee wat, genoeg is nou genoeg – 7 de laan, julle storielyn is uiters ongesond vir n reeds baie siek samelewing!
My vyf sent vir wat dit werd is!

Aitoggie ·

Siestog, hulle probeer so hard om kort kort nuwe lewe in die sepie te blaas. Ipv net aanvaar die uurglasie het al leeggeloop vir 7de laan. Connie sal ook weer terugkom as n gemartelde, mishandelde vrou, wat ontsnap het van haar ex man.

Dewalene ·

Ek is bitter jammer om te hoor Oubaas gaan uit, hys my groot favourite. Ai ai hys soos die steunpilaar. Ja ek kyk 7de Laan en geniet dit. Ek neem dit elke middag 1uur op en kyk dit dan . Luv my sepies

Doortjie ·

Ek kyk 7de laan juis oor oom Oubaas!! 14 Aug sal die laaste keer wees wat ek dit kyk…veral oor die manier wat hul sy dienste beëindig het!

Ellisras ·

Soos daai ou oor Spur gesê het. Ek boikot nie. Ek het net my lus verloor

A. Mac ·

My koekie seep in die sepie-bad is dat ek vir jare geen sepies kyk nie. Sepies is net elkeen ‘n eentonige gekibbel tussen ewe oninteressant spul karakters waar die skrywers tog so elke nou en dan polities en hedendaags korrek wil wees. Familie-tye gaan heeltemal verlore omdat almal stilgemaak word sodat daar tog net nie iets gemis word in die stories nie.

Jannes ·

My 5c= mense wat tv kyk het te min aksie in die slaapkamer en skinder te veel. En jul kyk hoe ander mense fun tye het terwyl jul voor tv sit en vreet. Dis hoekom mense dik raak en dan loer jou man\vrou oor muur soos Oubaas. Jul lewe is eentonig soos die Laan. Lig jou bas en leef jou eie lewe. Maak dit opwindend vir jouself.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.