Video: Passie kerndeel van Divan Botha se suksesvolle sakemodel

Divan Botha by The Whippet in Linden. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Divan Botha se onblusbare passie vir Suid-Afrikaanse entrepreneurswese sal selfs die mees skeptiese mens positief oor die land se ekonomiese toekoms maak.

Oomblikke nadat die sakeman en televisie-aanbieder sy koffiewinkel The Whippet in Linden, Johannesburg, binnekom word dit ook duidelik wat hom as entrepreneur uniek maak.

Hy groet kelners én klante soos ou vriende, vra almal om ʼn happie van die nuwe kombucha- gegeurde fudge wat hy by die toonbank wil uitstal te proe en luister graag na mense se staaltjies oor hoe ver hulle gereis het om in dié eiesoortige woonbuurt-koffiewinkel te kom kuier.

Hy skerts dat sy werk basies is om elke dag vir 250 gaste gasheer te speel. “Watter voorreg is dit dan nie om ʼn ruimte te skep waar mense elke dag herinneringe oor ʼn koppie koffie maak nie?”

Passie lei hom om die korporatiewe wêreld agter te laat

Voordat dié trotse Nigel-boorling homself as suksesvolle entrepreneur gevestig het, was hy hoof van bemarking by FNB se afdeling vir sake-bankdienste, waar hy vir twee jaar as uitvoerende lid gedien het.

Hy het egter vinnig besef sy drome lê nie in ʼn spoggerige hoekkantoor van ʼn blink wolkekrabber nie, maar by entrepreneurswese en veral kleinsakeondernemings.

“Ek dink enige voornemende entrepreneur met korporatiewe ervaring het ʼn groot voorsprong in die sakewêreld. Ek kan eerstehands sien watter verskil dit in my entrepreneuriese reis gemaak het, maar dit was net nie meer my passie nie en ek word deur my passie gelei.”

Met ʼn meestergraad in internasionale bemarking van die Universiteit van Johannesburg (UJ) besluit hy toe om by sy alma mater as dosent aan te sluit terwyl hy ʼn plan vir sy eie sakeonderneming navors. “Ek het dit vreeslik geniet om ʼn dosent te wees want jy word met jong mense en jong idees gekonfronteer. Hulle hou jou ook jonk!”

Ná deeglike navorsing oor veral internasionale tendense, ʼn sakeproses wat hy ten sterkste benadruk, het sy passie nuwe lewe gevind toe hy en sy sakevennoot Jaco de Witt besluit het om The Whippet te begin.

ʼn Bymekaarkomplek vir die gemeenskap, geïnspireer deur die gemeenskap

Dié sonnige koffiewinkel pronk op die hoek van Sewende Straat en Vierde Laan – die vorige tuiste van die ou Linden Hotel – en die gemeenskap is van die begin af by hul hele reis betrek, selfs toe die eerste teëls neergelê is.

“Sosiale media was tien jaar terug soveel anders, maar ons het die hele bouproses op Facebook gedokumenteer. Ons was immers die nuwelinge in die woonbuurt en ons wou deur die gemeenskap verwelkom word,” verduidelik Botha.

The Whippet is ‘n kenmerkende deel van Linden. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

The Whippet het die afgelope dekade ʼn kenmerkende deel van Linden en sy eklektiese en diverse inwoners geword. Soveel só dat dit nie ongewoon is om ʼn kunssinnige Wits-student met sy Apple Mac-skootrekenaar te sien sit langs ʼn groep gryshaartannies wat vir hul weeklikse koffie-en-koek-sessie bymekaarkom nie. Hier is almal, van akteurs tot akademici, tuis.

Dit was vir Botha ook belangrik om hulde aan dié woonbuurt, wat destyds ʼn perskeboord was, te bring. Daarom word produkte plaaslik verkry, personeel word meer as die bedryfsnorm betaal en ou én nuwe elemente van die area word in alles – van die dekor tot die spyskaart – geïnkorporeer.

“Ons sê altyd The Whippet is ʼn klein besigheid met ʼn groot besigheid se mentaliteit. Jou kliente se verbintenis met jou handelsmerk moet oor meer as net die produk gaan. Hulle moet inteendeel deel van jou handelsmerk word.”

Hoewel kompetisie hom aanvuur om beter te doen, glo hy dat ondernemings tog voete kan deel. “Die ekosisteem van die woonbuurt moet gesond wees vir almal om te floreer. ʼn Mens moet besef jou buurman se sukses kan joune ook positief beïnvloed.”

Die afgelope twee jaar was egter nie sonder sy uitdagings – oftewel “intense leerskool” soos Botha die Covid-19-pandemie beskryf – nie. “Dit was seker die slegste twee jaar van my lewe. Ons tweede restaurant in Melville se deure is skaars na sy opening weer gesluit, ons Linden-tak was byna tien dae van likwidasie af. Maar, as jy werklik sien hoe ‘rock bottom’ lyk, vrees jy dit minder en nou bestuur ons ons besigheid eenvoudig net beter as voorheen.”

Passie lei tot televisieprogram

The Whippet se verhaal en Botha se passie vir entrepreneurswese het destyds Wim Steyn, hoof van die produksiehuis Idea Candy – wat vir programme soos Prontuit, kykNet Verslag, asook die Showmax-reeks Duiwelsdorp verantwoordelik is – se aandag getrek.

The Whippet vier vanjaar sy tiende bestaansjaar. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

In daardie stadium was kykNET nog besig om met aktualiteitsprogramme te eksperimenteer en Botha, wat geen televisie-ervaring gehad het nie, is gevra om ʼn oudisie vir Winslyn, ʼn sakeprogram wat Idea Candy aan kykNET wou aanbied, af te lê.

Vandag is Winslyn ʼn weeklikse program wat die kollig nie net op ervare nie, maar ook opkomende en veral Afrikaanse entrepreneurs plaas en hulle terselfdertyd help om sin van die sakewêreld te maak.

Winslyn het my moed tydens die pandemie gegee en my laat besef dat hoewel die entrepreneurswêreld eensaam voel, jy eintlik deel van ʼn veel groot gemeenskap is.”

Dit het hom ook opgewonde gemaak oor die rol wat Afrikaanse entrepreneurs in die sakewêreld speel. “Afrikaanse entrepreneurs werk deksels hard. Ons het werklik ‘grit’ en ons ingebore behoefte om mense verkeerd te bewys en hard te werk is iets wat jy nie uit ons bloed kan haal nie.”

Entrepreneurswese en blootstelling sleutel tot ekonomiese sukses

Botha glo dat entrepreneurskap die sleutel tot ’n ware ommekeer in die Suid-Afrikaanse ekonomie kan wees en vat sy rol om ʼn verskil deur sy eie passies te maak ernstig op.

“Die goue driehoek vir die ideale sakeomgewing is toegang tot kapitaal, geleenthede en vaardighede en as iemand vir jou sê dat daar nie sakegeleenthede in hierdie land is nie, dan jok hulle vir jou. Hier is massas geleenthede, dit moet net ontgin word.”

Klante het ‘n groot verskeidenheid van lekkerny om van te kies. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Hy benadruk ook die belangrikheid van blootstelling om mense se denkwyses rondom entrepreneurskap én die lewe te verbreed. “Daar is ʼn kinderhuis in Johannesburg wat uitstappies vir die kinders Sandton toe reël. Baie mense sal sê dis gevoelloos om kinders aan iets bloot te stel wat hulle nie het nie, maar hulle wil eerder daardie kinders se verwysingsraamwerk verbreed en hulle blootstel aan wat hulle eendag kan hê, mits hulle hard werk. Só leer jy hulle om nie deur hulle omstandighede ingeperk te word nie.”

Die toekoms lyk blink én smaaklik

Die sakeman skerts dat hy nie eintlik enigiets voltyds doen nie, maar verkies om met verskillende projekte op ʼn slag doenig te wees.

Sy volgende groot projek is ʼn opwindende “drie-in-een”-restaurant genaamd Smoke wat ʼn platform vir jong én ervare Suid-Afrikaanse sjefs wil bied en ook al die elemente van Suid-Afrikaanse kos, kosmaakmetodes en produkte saam vervat in ʼn unieke ervaring.

Daar word ook ʼn televisiereeks aan dié restaurant, wat moontlik einde 2022 sy deure in Hazelwood, Pretoria, open, gekoppel.

“Ek wil ruimtes skep waar mense hulself kan geniet. Daardie uitdrukking op ʼn kliënt se gesig wanneer jy ʼn lekker bord kos voor hom of haar neersit en hulle van oor tot oor glimlag is uiters bevredigend. Oomblikke soos dít is waarom ek die gasvryheidbedryf só geniet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.