Video: SA’ners presteer by oorsese talentsoekkompetisies

Musa Motha op die verhoog. (Foto: skermskoot)

Enkele dae nadat die Suid-Afrikaanse danser, Musa Motha beoordelaars van Britain’s Got Talent met sy unieke dansvaardighede meegevoer het, sorg dié talentvolle jong man weer vir ‘n emosiebelaaide optrede in die halfeindronde van dié talentsoekkompetisie.

Dié 27-jarige is as kind met kanker gediagnoseer, wat tot die amputasie van sy linkerbeen gelei het. Dit het hom egter nie gestuit daarin om sy drome na te jaag nie.

Hy is vroeër vandeesmaand ná sy optrede met die ‘Golden Buzzer’ beloon. Dié gesogte toekenning het hom ʼn plek in die halfeindronde van die kompetisie besorg.

Hy het Maandagaand teen sewe ander deelnemers meegeding om nie net die beoordelaars te beïndruk nie, maar ook die kykers wat tuis voor die kassie sit en stemme vir hul gunstelinge moet instuur.

Ten einde, is Musa en Amy Lou, ʼn sangeres, gekies om by die eindronde van die kompetisie op te tree.

“Hierdie is alles vir julle,” het Musa vir die gehoor gesê nadat hy as een van die finaliste aangewys is.

Kyk na Musa se jongste optrede hier:

Mzansi-jeugkoor kry ‘Golden Buzzer’ by America’s Got Talent

Musa is nie die enigste Suid-Afrikaner wat onlangs by ʼn internasionale talentsoekkompetisie beoordelaars en gehoorlede beïndruk het nie.

Die Mzansi-jeugkoor by ‘America’s got talent’. (Foto: AGT 2023/verskaf)

Die Mzansi-jeugkoor het geskiedenis by dié program gemaak nadat hulle die eerste deelnemers in die kompetisie se geskiedenis is wat deur die gehoor met die ‘Golden Buzzer’ beloon is.

Dit beteken dat hulle binnekort in die halfeindronde van die kompetisie te sien sal wees.

“Die begin van die koor is eintlik ʼn hartseer storie, met ʼn mooi einde natuurlik,” het een van die koorlede aan die beoordelaars verduidelik voordat hulle opgetree het.

“Die koor se stigters is 20 jaar gelede deur ʼn groep jongmense gekaap. Hulle het toe besluit om die koor vir jongmense te begin.”

Hulle het vir America’s Got Talent ingeskryf, omdat dit die grootste talentsoekkompetisie in die wêreld is, het dieselfde koorlid entoesiasties vir Simon Cowell, een van die beoordelaars, vertel.

“En dit het die mag om mense te inspireer en vir hulle hoop te gee.”

Hulle het daarna hul weergawe van Nightbirde, wat ook ʼn deelnemer aan dié kompetisie was voordat sy weens kanker gesterf het, se “It’s Ok” gesing.

Dié keuse was allermins lukraak, het hulle ná die tyd vertel, hulle was geïnspireerd deur Nightbirde se verhaal en haar opbouende boodskappe van deursettingsvermoë en moedigheid in ʼn uitdagende tyd in haar lewe.

“Hierdie liedjie was ʼn pilaar van sterkte vir ons as koor,” het een van die gehoorlede gesê.

“Ons wil haar nalatenskap voortsit.”

Hulle het tot so ʼn mate beïndruk dat die beoordelaars én gehoor op hul voete was ná hul optrede.

“Dit was die perfekte AGT-oudisie,” het ʼn bewoë Sofia Vergara, een van die beoordelaars, na afloop van die oudisie gesê.

Simon kon ook nie sy trane keer nie.

“Ek weet wat hierdie vir Nightbirde sou beteken. Dit was die ongelooflikste huldeblyk.”

Kyk na die emosiebelaaide optrede hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

piet ·

Ek het die Musa video gekyk. Ek dink mens kan verby die emosionele kyk en hierdie beoordeel vir wat dit is. Die ou is werkklik goed en dis uniek. Ek dink hy kan die kompetise wen selfs al haal jy die emosionele daaruit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.