Video: Seer, verslaentheid steeds sigbaar 11 jaar ná plaasaanval

Ernusta Maralack, joernalis en aanbieder van ‘Op seer se spoor’. (Foto: kykNET)

In 2010 is Attie, Wilna en klein Wilmien Potgieter, toe net twee jaar oud, wreed op hulle plaas in Lindley in die Vrystaat vermoor.

Een van die ses plaasaanvallers het destyds in die hof getuig dat klein Wilmien, wat volgens Wilna se suster, Susan, kon praat “soos ʼn volwassene”, só geskree het tydens die aanval dat die aanvallers dit nie meer kon hou nie. Sy is in die kop geskiet. Attie en Wilna het ook in die aanval gesterf.

Elf jaar later het die seer wat dié wrede aanval vir die Potgieters se familie veroorsaak het, nog nie genees nie.

Ernusta Maralack, joernalis en aanbieder van Op seer se spoor, kykNET se SAFTA (South African Film and Television Award)-bekroonde program, het in die jongste episode van die derde seisoen met Susan, Wilna se suster, gesels oor dié dag in Desember 2010 wat hulle familie se lewens vir altyd verander het.

Vir Maralack, wat ná die onderhoud in trane uitgebars het en deur Susan getroos moes word, is dit ʼn onderhoud wat haar vir altyd sal bybly.

“Attie en Wilna het lank gewag om swanger te word en toe kry hulle vir Wilmien. Sy was hulle hele lewe en as ʼn gesin het hulle vir mekaar geleef. Dat hulle al drie op een slag so wreed ontneem is van ʼn mooi toekoms saam, sal my vir altyd bybly,” vertel Maralack aan Maroela Media.

“Ek sal ook altyd die prentjie wat Susan geskets van hoe haar ouers gely het na Attie-hulle se dood en hoe die hartseer en pyn hulle laat wegkwyn het, nooit kan vergeet nie.”

Susan se ouers is onderskeidelik drie jaar gelede en vroeër vanjaar oorlede. Sy het tydens die onderhoud vertel hoe haar ouers in die oggendure sou koffie drink om die kombuistafel of die tuin sou natlei, omdat hulle weens die gemis aan hulle geliefde Attie, Wilna en Wilmien, nie kon slaap nie.

Wilna Potgieter se suster, Susan, het met Ernusta Maralack gesels oor die plaasaanval in 2010 wat die lewens van haar suster, haar swaer en hulle tweejarige dogtertjie, Wilmien, geëis het. (Foto: Skermgreep)

“Susan het soveel mense na aan haar verloor. Haar pyn is onbeskryflik, maar sy openbaar steeds hierdie krag en grasie en koester geen haat of bitterheid nie. Haar menswees is iets besonders en ek sal dit altyd saam met my dra, sowel as die feit dat sy my getroos het terwyl sy die een is wat met soveel hartseer moet saamleef,” sê Maralack.

As ʼn ma en ʼn vrou was dit vir haar verskriklik om te hoor wat hierdie gesin deurgemaak het. “Ek het gesukkel om dit te verwerk en ek sien steeds die prentjie van hoe Attie letterlik tot die dood toe geveg het om sy gesin te probeer beskerm; hoe Wilna, net so angsbevange en magteloos moes toekyk wat hulle aan Attie doen en hoe sy uiteindelik doodgeskiet is terwyl sy besig was om die Onse Vader te bid.”

Maar dit was die dood van klein Wilmien wat haar binneste uitmekaar geruk het. “My jongste dogtertjie is drie jaar oud en ek het onmiddellik my kind voor my gesien, hoe klein sy nog is. Ek het gedink aan hoe absoluut verward en bang Wilmientjie moes gewees het terwyl haar pa, haar held, so aangeval is. Ek het ook gedink wat het deur Wilna se kop gegaan terwyl sy in die kamer met die mans was waar sy doodgemaak is. Hoe bang moes sy nie vir Wilmientjie gewees het nie?”

Volgens Maralack is die absolute wreedaardigheid van die aanval op die Potgieters iets waarmee sy nog nie voorheen gekonfronteer is nie.

“Ek weet kinders en vroue word vermoor in ons land, dit is ʼn hartseer feit en werklikheid, maar ek probeer uitwerk watter ingesteldheid iemand moet hê om ʼn weerlose vrou, wat bid vir haar lewe, te vermoor? En hoe ver verwyderd is jy van jou menswees as jy na ʼn pragtige tweejarige kyk en niks voel om haar ook te vermoor nie? Dit is die absolute sadisme en oordrewe wreedaardigheid wat hierdie saak laat uitstaan.”

Hoe kom ʼn mens as onderhoudvoerder deur so ʼn moeilike onderhoud? “Jy doen so goed as wat jy kan. Jy vat een onderhoud op ʼn slag en jy probeer jou emosies so ver en vir so lank terughou as wat jy kan, maar as die sluise breek, dan breek dit. Dit is deel van menswees. En ek is bly ek voel nog iets, want wanneer ek die dag nie meer voel vir die stories wat ek aanhoor nie, weet ek dis tyd om op te hou, want dan gaan ek my menswees weer moet gaan opsoek.”

Susan troos vir Ernusta na afloop van die onderhoud oor die plaasaanval in 2010, waarin Susan se suster gesterf het. (Foto: Skermgreep)

Maralack sê sy wil hê kykers moet hierdie mense in hul harte omarm, gebede van krag vir hulle uitstuur en hulle eer vir die byna bomenslike krag wat hulle openbaar om hulle seer te herleef in die hoop dat dit iemand anders daarbuite help.

“Ek wil ook hê die program moet mense laat besef jy kan nie ʼn tyd plaas op hoe lank slagoffers en hulle families veronderstel is om te rou nie. Moenie verwag van hierdie mense om bloot ‘oor dit te kom nie’.”

Die 11de episode van die vorige seisoen van Op seer se spoor, wat handel oor konst. Evelyn Pienaar van Mosselbaai wat in 2012 wonderbaarlik aan die dood ontkom het toe die pa van haar twee dogtertjies haar ses keer met sy dienswapen geskiet het, is ingespan as deel van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se opleidingsprogram oor geslagsverwante geweld teen vroue en kinders.

“Ek wil ook hê die program moet ons almal harder laat dink aan wat ons kan doen om hierdie verskriklike narratief van geweld in ons samelewing te begin aanspreek. Ons moet onsself afvra: As ek my kind op ʼn sekere manier hanteer of dissiplineer, is ek nie besig om ʼn gebroke volwassene te skep nie? Kan ek gawer wees met my medemens omdat ek nie weet waardeur hulle gaan nie? Ons moenie net vra ‘hoe gaan dit?’ nie, maar moet ook vra ook ‘hoe kan ek help’ en dit opreg bedoel.”

Op seer se spoor is Dinsdagaande om 20:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) te sien. Dit is ook op DStv CatchUP beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Harley Davidson ·

Lewenslank gekry, maar na twee derdes van jou vonnis kom jy in aanmerking vir parool

Harley Davidson ·

Dit is omdat die Afrikaner nie n leier het nie wat ons kan verteenwoordig en hierdie tipe onmenslikheid aan die wêreld klok hang nie,dr Groenewald is die naaste aan n leier maar het so gemaklik geword dat jy nie eers van hom hoor voor n verkiesing nie ,maar dank die Vader vir Solidariteit/Afriforum.

kaplyn ·

Pieter Groenewald word deur die ANC beheerde media dood geswyg in die tydperk waar daar nie verkiesings is nie, en as hy wel tyd kry om in die tydperk sy mening uit te spreek, dan word sy mening belaglik gemaak sonder om hom `n kans te gun om sy saak te verdedig. Hierdie slenter is ook deur die ou NP gevolg teenoor die KP. Die ANC gebruik maar net dieselfde taktiek. Dit lyk vir my of dit ook gevolg word teenoor Solidariteit en Afriform. Die meeste beriggewing is negatief teenoor die organisasies.

Harley Davidson ·

Ek stem 100% saam die media is ons grootste vyand ,hulle het die mag om dinge te verander maar weens vrees of onbereidwilligheid weier hulle .

Niklaas ·

Dis waar. Kyk hoe gemaklik het die liberale media in die VSA vir Biden ingestem, reguit in die Withuis in.

Colombo ·

Hierdie was een van die mees aangrypentste programme wat ek nog op Kyknet gesien het.Die slotgedeelte waar die aanbieder uit die vertrek storm om haar absolute hartseer te probeer verberg sal my lank bybly.

Misky ·

Meer as tien jaar na die gruwelike dade gepleeg is, onthou ek die kleine rooikopdogterjie en die berigte van klein Wilmientjie en hoe wreedaardig dit was. Bitter hartseer en sal my altyd bybly

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.