Video: ‘Vetkoekpaleis II’ op pad

Wynand van Vollenstee en Willie Esterhuizen. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Die geliefde Afrikaanse komedie, Vetkoekpaleis, gaan eersdaags terug op die kleinkassie te sien wees en die publiek het boonop nou die geleentheid om letterlik in die voorste ry van die aksie te wees.

Tien episodes van Vetkoekpaleis II sal tussen September en Oktober vanjaar by die AfriForum Teater in Pretoria regstreeks voor ʼn gehoor opgeneem word.

Dié herlewing word deur broers Willie en Pieter Esterhuizen, wat vir die oorspronklike reeks verantwoordelik was, behartig en beloof om gehore van voor af verlief op dié kitskoswinkel se kleurvolle karakters te maak.

“Ek en Willie verlang terug na die ou dae, en toevallig werk dit [om voor gehore op te neem]. Die gehoor is jou klankbord en hulle lag net as iets vir hulle snaaks is. Die akteurs werk ook harder as dit by ’n gehooropname kom, want op die verhoog of voor ʼn gehoor kry jy net een kans,” vertel Pieter aan Maroela Media.

Hoewel die SAUK die oorspronklike reeks, wat tussen 1996 en 2001 op die kleinkassie te sien was, besit, het die Esterhuizens kopiereg omdat Willie die draaiboeke geskryf het.

Daarom is die jongste aflewering ʼn herlewing of “reboot” soos daar dikwels met Amerikaanse reekse soos Full House, Dallas, Magnum PI en vele meer al gedoen is.

“Niks keer ons om weer die program oor te maak nie. Dit is dieselfde storie, maar net met ander spelers en karakters. Ons is net in die bevoorregte posisie dat ons van die karakters kan ontplooi in van die ouer rolle.”

In Vetkoekpaleis 2 het “Klein Frikkadel”, seun van wyle Zack du Plessis en Hélene Truter se karakters, Frik en Poppie, die Vetkoekpaleis tot in die afgrond bestuur terwyl sy ma by die see woon.

Oom Wors, vertolk deur Willie, tesame met sy vrou, Molly (Lizz Meiring), gryp egter in om die restaurant tot sy volle glorie te restoureer. Ook Boeboe se dogter, “Boudjies”, sal in die kenmerkende geel en blou uniform glip.

“Verder bly alles dieselfde. Ons vernuwe net die stel en tyd,” verduidelik Pieter.

Die akteur Wynand van Vollenstee, wat in “Klein Frikkadel” se groot skoene klim, sê dié rol is “ʼn droom wat waar word.”

“Daar is min dinge waaraan die Esterhuizens geraak het wat nie volksbesit geword het nie. Dis komedie vir ons dam se eende en dit is ʼn absolute eer om deel daarvan te wees.”

Willie glo dat die oorspronklike reeks se eerlikheid en egtheid kykers destyds geboei het.

Pieter beaam dit en voeg by dat gesinne met die karakters kon vereenselwig. “Die Van Tonders het vir baie kykers soos huisvriende gevoel. Die waardes wat in die reeks gehandhaaf en uitgebeeld was, is tot vandag toe steeds van toepassing.”

Die reeks sal op AfriForumTV, ʼn gratis stromingsdiens, te sien wees.

Maroela Media het vroeër berig dat die Esterhuizens se ander trefferreeks, Orkney Snork nie, ook op dié platform beskikbaar is.

Willie as ‘Worsie’ in die oorspronklike ‘Vetkoekpaleis’. (Foto: Skermgreep/YouTube)

Die rolverdeling van die komedie het ter viering hiervan verlede jaar op die AfriForum Teater se verhoog herenig vir ʼn spesiale regstreekse reünie-geleentheid, wat ook opgeneem en op dié stromingsplatform te kyk is.

Volgens Pieter was dit juis die SAUK se besluit om Vetkoekpaleis op YouTube te sit wat hom laat besluit het om aanlyn en stromingsplatforms, sowel as hul jonger kykers, te teiken.

Die broers skrik ook nie vir kritiek wat so herlewing moontlik sal kry nie.

“As ek jou die resensies moet wys wat die destydse koerante en selfs mense in die bedryf ons oor Vetkoekpaleis toegesnou het, sou jy sweer ek en Willie het destyds die swakste, komminste program op aarde gemaak. Hulle geliefkose slagspreuk was ‘populêr is nie goed nie’. Gelukkig het die mense wat vir ons saak gemaak het, ons TV-kykers, nie met hulle saamgestem nie.”

Hy moedig gehore aan om deel van die regstreekse opnames te wees en self ʼn stukkie TV-geskiedenis te sien herleef.

“Ek, Willie, die ouer akteurs en selfs spanlede waardeer die voorreg om deel te wees van so ’n projek, want ons het al genoeg produksies teen ons wil gedoen net om in die vermaaklikheidsbedryf te kan oorleef. Om boonop in Afrikaans te kan werk en lag sonder om skuldig te voel, is lekker.”

Natuurlik veroorsaak so groot projek dat daar ʼn paar vlinders in die maag is.

“Ek en Willie bekommer onsself altyd voor die tyd dood. Dit is maar hoe dit werk. As vervaardiger is jy nooit ooit seker dat jou gehoor jou werk gaan ondersteun en gaan waardeer nie. Maar almal, van produksie en admin, tot die akteurs gee hul bes, dan kan ʼn mens nie anders as om met ’n sukses anderkant uit te stap nie.”

  • Kaartjies vir die regstreekse opnames van Vetkoekpaleis is hier te koop.

Kyk na Maroela Media se onderhoud met Willie Esterhuizen en Wynand van Vollenstee hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nonnie ·

Mensekinders, ek kan nie wag vir die volgende fase nie….ons het ons slap gelag vir die 1ste een en ek glo julle gaan ons weereens buite onse nate laat uit lag.

Louise ·

Kan nie wag nie “Vetkoekpaleis what do you want” my dogter altyd die huis telefoon ook so ge-antwoord.

George ·

Ek is maar skrikkerig vir die, dit vat bitter min van n slegte reboot om die oorspronklike een ook te oor skadu.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.