Video’s: Afrikaanse sangers beïndruk op ‘The Voice’

Tasché Burger het al die beoordelaars hul stoele laat omdraai.

Tasché Burger het al die beoordelaars hul stoele laat omdraai.

Twee jong Afrikaanse sangers het die afgelope naweek tydens The Voice se sogenaamde “blinde oudisies” die beoordelaars van dié gewilde sangkompetisie op M-Net genoeg beïndruk om elkeen ʼn plek in onderskeidelik Francois van Coke en Riana Nel se spanne los te slaan.

Die 18-jarige Tasché Burger het ʼn roerende weergawe van Koos Kombuis se treffer, “Lisa se klavier”, gesing. Van Coke, Nel en die ander twee beoordelaars, Riky Rick en Lira, het hul stoele vir dié Kaapse blondekop omgedraai en sy het uiteindelik gekies om deel van Van Coke se span te wees.

“Ek het van alles in jou stem gehou. Die hoë register was ongelooflik en ek was mal oor die rasperagtigheid nader aan die einde. Toe ek dit hoor, was ek so bly ek het omgedraai,” het Van Coke na afloop van haar oudisie gesê.

Ilan van Staden het vir Riana Nel as sy mentor gekies.

Ilan van Staden het vir Riana Nel as sy mentor gekies.

Die voormalige Puk-student, Ilan van Staden, het op sy beurt ʼn Fokofpolisiekar-treffer, “Ek skyn (heilig)”, aangepak en in die laaste oomblikke het Van Coke, hoofsanger van dié groep, en Nel hul stoele omgedraai.

“Francois, ek is mal oor jou en ek luister jou musiek al van gr. 8 af, maar ek moet my horisonne verbreed, so ek gaan vir Riana kies,” het Van Staden gesê.

Nel het aan Van Staden gesê sy sal haar bes doen om hom op ʼn plek te bring waar hy homself kan wees en gemaklik kan wees.

“Ek wil nie hê hierdie moet jou vorm in iets anders nie, ek wil hê dit moet uitbring wie jy regtig is.”

Na afloop van die oudisie het Van Coke en Van Staden saam ʼn duet van “Ek skyn (heilig)” gesing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

GM ·

Die meisie se stem is pragtig. Die outjie moes dalk ‘n ander liedjie gekies het. Die ‘wow-factor’ ontbreek.

MS ·

My gunsteling weergawe van “Lisa se klavier” nog!!!!!!!!!!!!!! WOW!!!!!!!!!!!!!!!!!

Annetjie Dreyer ·

Tasché, ek het sommer klaar besluit jy gaan in die laaste 4 wees. Jy het die stem en persoonlikheid om die kompetisie te wen. En, jy kom baie volwasse voor – dus hoor my as ek sê jy het klaar jou stem in die eindrondtes behaal. Pragtig!

Mickey ·

Sjoe poplap, waar kan ek jou cd koop!!! Absoluut fantasties

Marinda ·

Jy het nog nie eens die eerste sin klaar gesing nie, toe besluit ek, Jy is die wenner!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.