Vind liefde met kykNET se ‘Vlerksleep’

Argieffoto (Foto: moonsnjunes.wordpress.com)

Argieffoto (Foto: moonsnjunes.wordpress.com)

Jy hoef dalk nie langer op die rak te bly sit omdat die ridder op sy wit perd jou bly ontwyk nie – kykNET het onlangs die splinternuwe Vlerksleep-reeks bekendgestel, waarin enkellopendes die kans kry om vlerk te sleep en dalk die maat van hul drome te ontmoet.

Daar is egter ʼn kinkel in die kabel: mense wat op dié program verskyn, moet eers vlerk sleep by die geliefde se familie voordat hy of sy ʼn afspraak kan kry.

Wilmer Muller, kykNET-publisiteitsbeampte, sê dié werklikheidsreeks is geskoei op dieselfde konsep as Date My Family.

“Die konsep van die reeks is rofweg daarop gebaseer om ʼn moontlike geliefde op ʼn romantiese afspraak te neem,” het hy verduidelik. “Dit gaan nie bloot net oor die maat se voorkoms nie, maar oor die persoonlikheid wat jy van die mens geskets het deur gesprekke met sy of haar familie en vriende te voer.”

Enkellopendes ouer as 18 jaar kry op dié program die geleentheid om een van vier moontlike persone op ʼn spesiale afspraak te neem, maar eers nadat hulle dié vier se familie en vriende ontmoet het.

Deelnemers sal óf diegene wees wat die familie en vriende ontmoet het, óf deelnemers wat deur hul vriende en familie verteenwoordig word.

Die eerste groep deelnemers moet dan die vier pasmaats leer ken uit die ontmoetings met hul familie en vriende, sonder om self die persoon te ontmoet.

Deelnemers moet iemand kies aan die hand van die inligting wat hulle van familie en vriende kry, voordat hulle uiteindelik die pasmaat kan sien en voortgaan om ʼn afspraak te reël.

Belangstellendes kan die inskrywingsvorm op kykNET aflaai of stuur ʼn e-pos na [email protected].

Vriende of familie kan namens mense inskryf wat te skaam is om dit self te doen. Deelnemers sal ingedeel word volgens die inligting wat op die inskrywingsvorm verskaf word en volgens waar hulle woon.

Die eerste van 26 episodes word in die eerste week van Julie op kykNET DStv kanaal 144 uitgesaai.

Lees meer: Vlerksleep

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vixie ·

Dit klink interessant. Gaan beslis kyk. Hulle moet miskien ‘n senior afdeling uitbring, sodat ons ouer garde ook ‘n kansie kan kry (so 45+). Die jongklomp het nog baie jare voor hulle om man/vrou te vang. Ons tyd raak min :-)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.