“Vir die voëls” se Simoné: ‘Ek verkondig van nature my Christenskap’

simone-nortmann-profiel

Simoné in 2016 tydens ‘n fotosessie. Foto: Simoné Nortmann/Instagram

Simoné Nortmann is beeldskoon, daarmee kan niemand stry nie. Natuurlik. Onopgesmuk. Die meisie-van-langsaan.

Voordat ons begin gesels, wil ek haar eers ʼn paar vrae op kamera vra. “Wil jy eers jou grimering regmaak?” vra ek soos ek met elke ander onderhoud doen. Die meeste bekendes wil gewoonlik eers gou spieël toe. “Nee wat dankie,” glimlag sy, “ek het nie eens grimering aan nie. Ek lyk maar soos ek lyk, jong.”

Hoe langer ons gesels, hoe meer kom ek agter dié jong aktrise is alles behalwe doodgewoon. Sy het bekendheid verwerf toe sy in 2013 vir ongeveer twee jaar as Nadia Croukamp in 7de Laan in die volk se sitkamers op die kassie gekuier het.

Nie net het sy in 2014 vir dié rol ʼn toekenning vir beste nuweling by die Royalty Soapie-toekennings gewen nie, maar dié uitblinker het ook in haar matriekjaar sewe onderskeidings gekry en haar BDram-graad in teaterstudies aan die Universiteit van Stellenbosch as lid van die studenteraad voltooi.

Loopbaankeuses

“Ek is al van kleins af ʼn dromer,” sê Simoné, haar oë blink en helder. “Ek is die tipiese enigste kind: introvert, oplettend en ek het as kind ʼn baie ryk verbeelding gehad. Ek was ook nog altyd baie lief vir stories. Ek het omtrent veertig Disney-videokassette gehad, wat vir daardie tyd ongewoon was. As ʼn sensitiewe kind met ʼn ou siel, was ek nog altyd lief vir vermaak en altyd voor in die koor,” lag sy. “Ek het as sewejarige tydens Kerstyd vir die familie uit die Bybel voorgelees.”

Simoné het na skool vir ʼn dag teologie studeer en vir ʼn kort rukkie onderwys, maar nie een van die twee studierigtings het lekker gesit nie, vertel sy. “Ek is nog altyd die soort mens wat, as ek nie heeltemal passievol is oor iets nie, dit baie moeilik vind om dit deur te voer. Selfs toe ek onderwys studeer het, het ek gedink ek weet nie hoe ek dit gaan doen nie. Ek is lief vir kinders, maar die vlammetjie is nie daar nie.”

Sy sê dis toe dat sy besef het sy sal moet kies. “Drama was nog altyd in my agterkop. Ek het toe my onsekerheid vir die Here gegee en gesê as drama is wat ek moet doen, moet Hy dit vir my duidelik maak.”

simone-nortmann-en-tinkie-kleintyd

Simoné as klein dogtertjie by haar ma, Tinkie Nortmann. Foto: Simoné Nortmann/Instagram

Onvoorwaardelike ondersteuning

Simoné vertel sy en haar ma, Tinkie Nortmann, het nog altyd ʼn spesiale band gehad. “En sy is beslis ʼn groter drama queen as ek,” skerts sy. “Ek dink sy sou floreer het as aktrise, maar ek voel beslis nie asof sy deur my lewe nie,” lag Simoné. “My ma het my in die drama-rigting ondersteun en nie gestoot nie.”

“My ma is ʼn enkelouer en ek is ʼn enigste kind, daarom is dit natuurlik dat ons baie na aan mekaar is.” Haar pa het weggetrek Kaap toe terwyl Simoné en Tinkie, ʼn luitenant in die lugmag, in Pretoria agtergebly het. “As kind was my ma dus altyd die een wat daar was vir die sportbyeenkomste en die opvoerings,” vertel sy.

“My ma sê sy het nog altyd geweet ek gaan ʼn aktrise word, maar toe ek ingeskryf het vir teologie en onderwys, het sy my ondersteun. Sy wou nog altyd net hê ek moet doen waarvoor ek lief is, maak nie saak wat dit kos nie. Sy het alles van haarself in my lewe belê en ek dink ek sou beslis nie vandag die mens gewees het wat ek is as dit nie vir daardie liefde en absolute onvoorwaardelike ondersteuning was wat ek nog altyd van haar af gekry het nie,” vertel Simoné.

Oop verhouding met God

Loer jy na haar sosialemediaprofiele, kom jy af op lang inskrywings oor haar verhouding met die Here. Ek vra haar daaroor. “Ek verkondig van nature my Christenskap,” sê sy sonder om te dink. “Dit wat Christenskap aan my doen en hoe dit my hart verander het, is iets wat ek nie vir myself kan hou nie. Ek kan nie daaroor stilbly nie.”

“Ek is baie oop oor my verhouding met Hom, want ek dink dit is die kern van wie ek is,” sê sy. “Dit is onmoontlik om nie my Christenskap uit te leef nie. Aan die anderkant is ʼn mens ook versigtig om dit in mense se kele af te druk, maar ék deel uit ʼn plek van oorvloed uit, nie uit ʼn plek van godsdienstigheid nie.”

Sy praat dan sagter. “Ek onthou hoe ek in 2013, net voor ek die rol in 7de Laan gekry het, alleen gaan fliek het. Ek hou daarvan om op my eie te gaan fliek. Ek het Les Miserables gekyk en ek dink ek was die enigste mens in die teater. Wel, ek hoop so, want ek het net daar snot en trane begin huil en iets amper soos ʼn buiteliggaamlike ervaring gehad, waarin ek myself hoor sê het ‘Here, as ek ooit die geleentheid kan hê om op die groot skerm te wees en om dít te doen, dan belowe ek om, wanneer die kollig op my is, dit soos ʼn spieël na U toe terug te skyn, want ek wil dit nie vir myself hê nie’,” vertel sy beskeie.

simone-nortmann-skoolfotos

Simoné se eerste dag in graad een en ander skoolfoto’s. Foto: Simoné Nortmann/Facebook

“Hulle sê ook in die Hillsong-fliek ‘jy trek mense na jou opvoerings om hulle so na God te trek’. Ek dink dit is nog altyd die fondasie waarom ek dit doen. Dit kom nie uit ʼn plek van ‘ek is ʼn akteur en ek het die Here nodig om plat op die aarde te bly nie’,” sê sy vurig. “Hy is alles, ek doen wat ek doen omdat Hy geheilig moet word en wat ookal ek doen, moet mense weet ek doen dit omdat ek so lief is vir Hom en Hy is waardig van alles wat ek doen.”

‘Tien weke van rus by Jesus se voete’

Simoné vertel sy het na twee en ʼn halwe jaar by 7de Laan besluit sy wil ʼn blaaskans vat. “Ek het op ʼn plek gekom waar ek baie moeg was. Ek wou net ʼn Sabbat neem en teruggaan, maar dit het toe op die ou einde so uitgewerk dat ek nie teruggegaan het nie.”

Sy het van die internasionale sendelinge Heidi en Roland Baker en hul sendingspan in Pemba, in die noorde van Mosambiek, te hore gekom. “Eers het ek gedink dit wat hulle van ʼn mens verwag is belaglik. Ek het net gedink daar is nie ʼn manier dat ek vir tien weke in Afrika infoeter en in ʼn hut bly sonder water en kos nie en ek sou in elk geval nie daardie soort verlof by die Laan kon neem nie.

“En toe het my hart begin brand daarvoor. Ek was uitgebrand en moeg vir die kerk. Ek was op die punt waar ek begin vra het hoekom ons al hierdie goed doen en waarom ons onsself so besig hou. As jy nie meer weet hoekom jy iets doen nie, mis jy die punt.

“Ek het selfs daarvan begin droom in die aande, dus het die Here beslis strategies met my gekommunikeer daaroor,” lag sy, maar dan meer ernstig: “Ek wil nie eintlik my tien weke in Pemba ‘sendingwerk’ noem nie, want dit was eerder tien weke van rus by Jesus se voete. Ons het teruggegaan na die basiese beginsels van wat Christenskap is en om te weet wie is Jesus. Hy het my daar so kom vervul en Homself aan my geopenbaar, dus het ek eintlik met selfsug gegaan sodat ek kon leer wie Hy is.”

simone-kleurvol

Simoné in 2016 tydens ‘n fotosessie. Foto: Simoné Nortmann/Instagram

Drome van Hollywood bewaarheid

Simoné vertel sy sou nooit kon droom oor hoe die Here in haar lewe kom werk het tydens haar tyd in Mosambiek nie. Die onsekerheid oor haar keuse, om ʼn loopbaan in drama te volg, het steeds aan haar geknaag. “Dit het moeilik geraak en ek het vir die Here gesê ek het bevestiging nodig dat ek op die regte plek is en besig is met die regte ding.

“Ek het drome oor Hollywood begin kry, maar ek het geen planne gehad om soontoe te gaan nie. My hart was nie enigsins daar nie,” sê sy. “Voordat ek Mosambiek toe is, het ek een dag op Facebook gegaan en daar was hierdie skakel wat iemand gedeel het van ʼn kunstenaarsslypskool in Los Angeles. My hart het daarna gehunker en ek het vir myself gesê ‘stop dit Simoné, leef in die hede, wees hier’, maar dit het nie uit my gedagtes verdwyn nie.”

Sy vertel geesdriftig verder. “Uiteindelik het ek aansoek gedoen vir die werkswinkel, wat nogal ʼn groot proses was, met video’s en Shakespeare-monoloë wat ek moes voorberei en instuur, maar die uitdagings was rof. Ek sou dadelik moes gaan nadat ek terug was uit Pemba. Ek sou baie vinnig ʼn visum moes bekom en finansieel kon ek dit gladnie bekostig nie.”

Simoné het in Pemba met verskriklike tandpyn gesukkel en moes terugkeer Suid-Afrika toe vir mediese behandeling. Op die vlug terug Mosambiek toe, beland Simoné toevallig in die sitplek langs Nathan Kotzur, die direkteur van die Iris Hollywood Artist Bootcamp, waar Simoné aansoek gedoen het. “Ek kon dit nie glo nie! Hy en sy span was toevallig op pad na Pemba om ʼn dokumentêr te gaan verfilm. Ek sê toe vir hom ek is ʼn aktrise en ek vertel toe vir hom van een van die drome wat ek gehad het en dit is toe presies dieselfde droom wat sy vrou gehad het. Sy het die skool saam met Nathan op die been gebring.”

Sy vertel sy het toe ervaar dat die Here dit vir haar baie duidelik gemaak het dat sy moet vasbyt met die drama-rigting. “Nathan het my besonderhede gevat en dit vir my moontlik gemaak om die slypskool by te woon en agterna die fooie af te betaal, want ek sou dit andersins nie kon doen nie. Ek moes net my vlugte vooraf betaal.” Sy skud haar kop nadenkend. “Mens dink nie so iets kan met jou gebeur nie, maar daar was duidelik ʼn Groter Hand in alles.”

simone-nortmann-in-hollywood

Simoné besoek Charlize Theron se ster op die Hollywood Walk of Fame in Amerika. Foto: Simoné Nortmann/Facebook

Droom sy die Oscar-droom? “Ja, enige jong aktrise droom daarvan om ʼn Oscar te wen, maar die slypskool het my geleer ʼn mens moet realisties bly en daar is baie meer struikelblokke op pad soontoe as wat ons dink. Veral noudat ek daar was en kon sien dat elkeen wat jy in ʼn koffiewinkel in Los Angeles ontmoet, ʼn sukkelende kunstenaar is.”

“Charlize Theron was op die regte tyd op die regte plek toe sy haar humeur verloor het en die agent haar raakgesien het,” lag Simoné. “Nie almal se storie gaan so lyk nie. My 7de Laan-storie was amper so. Ek het nie ʼn agent gehad nie en ek het niemand in die bedryf geken nie. Iemand by 7de Laan het my telefoonnommer êrens gekry en sy het my gebel en ek was toevallig in die Kaap en beskikbaar vir ʼn oudisie. Dikwels is daar net sulke toevallighede wat gebeur, wat iets is waarvoor jy nie kon werk nie. Maar ʼn mens moet alles insit om enigiets uit te kry,” sê sy beslis.

Teen die tyd wat sy die ateljee verlaat, voel dit asof ek en Simoné vriendinne is. Ons ruil telefoonnommers uit en neem ʼn paar foto’s. “Mag jy geseënd wees,” sê sy by die deur. Dis toe dat ek weet, Simoné Nortmann is ʼn naam wat nog lank op Suid-Afrikaners en dalk eendag die wêreld, se lippe gaan wees. Hoe dan anders as ʼn mens jou eie pad so opreg oop bid?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Alicia ·

Pragtig Simoné. Beste wense vir jou. Mag die Here jou seën. Jy is op die regte pad ;-)

Hennie & Edma Schoeman ·

Trots op jou Simone! Ons bid vir God se beste op jou lewe vorentoe soos jy Hom eer met jou talente. Groete uit Tampa, Florida. VSA

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.