TV-boere, pasmaats maak ogies

Marciel Hopkins. (Foto: Sulet Fourie)

In Donderdagaand se episode van die kykNET-werklikheidsreeks Boer soek ʼn vrou, het boere Niel, Albert en Kobus kennis gemaak met die tien gekose dames uit die briewe wat vir hulle geskryf is.

Die boere en die dames, wat van heinde en verre gekom het, het op die Lanzerac-wynlandgoed in Stellenbosch mekaar beter leer ken. Anders as vorige seisoene van die program is elke boer se ontmoeting afsonderlik geskiet.

Niel, ʼn vrugteboer naby Grabouw in die Wes-Kaap, kon na afloop van sy blitsafsprake saam met vyf uit die tien dames ʼn heerlike middagete op die landgoed geniet en ʼn ekstra tien minute individueel saam met elkeen deurbring.

Niel het vir Sheri, Monique, Simoné, Chereze en Melindie gekies om die middag saam met hom op die landgoed te kuier. Hy het ook teenoor Marciel Hopkins, aanbieder van die program, gebieg dat hy sy oog op ʼn spesifieke dame het.

“Dit het baie goed gegaan. Daar was ʼn oomblik wat my hart ʼn bietjie vinniger geklop het; hy’t hier bo in my keel gesit. Ek was nogal opgewonde toe ek dié meisie sien.”

Hoewel die dames nog geheimsinnig is oor hulle gevoelens, het die blondekop Sheri gesê sy kan voel daar is ʼn aantrekkingskrag tussen haar en Niel.

“Hy is baie mooi, sjoe. Ons is in die moeilikheid,” het Sheri met ‘n glimlag gesê.

Albert, die rooibostee- en sitrusboer van Clanwilliam in die Wes-Kaap, het uiteindelik vir Chanté, Anien, Marlia, Mariska en Trudie gekies om saam met hom die dag op die wynlandgoed deur te bring.

Volgens hom was dit nie ʼn maklike taak om die vyf dames te kies nie. “Ek het aan die begin maklik vyf uitgekies en op die einde het iemand ingekom en my planne deurmekaar gekrap.”

Boer Kobus, die oudste boer van die seisoen, het na afloop van sy blitsafsprake vir Ilse, Bertha, Lynette, Michellé en Maxie gekies om saam met hom te kuier.

Dit is geen verrassing dat Bertha die enigste blondekop op Kobus se lysie is nadat hy in die vorige episode geen geheim daarvan gemaak het dat hy donkerkoppe verkies nie.

“Dinge in ʼn verhouding is mos nie altyd maanskyn en rose nie. As ʼn mens in ʼn verhouding is, dan praat jy dinge deur en jy maak dit werk, behalwe as jy snork,” het Bertha geskerts.

Kobus het egter ooglopend die donkerkop Maxie se geselskap geniet. “Dit was lekker. Ek geniet jou,” het hy giggelend gesê.

 

In die volgende episode kies Niel, Albert en Kobus die drie dames wat saam met hulle plaas toe gaan en word boere Déan en Richann se dames bekend gestel.

Boer soek ʼn vrou word elke Donderdagaand om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.