Vrouemaand: kykNET vier die skoner geslag

Clare Wiese-Wentzel. (Foto: Facebook/MOOIMAAK)

Clare Wiese-Wentzel. (Foto: Facebook/MOOIMAAK)

Augustus is Vrouemaand en vanjaar vier kykNET die skoner geslag met nuwe seisoene van gewilde leefstyl- en realiteitsprogramme met Clare Wiese-Wentzel, Marlice van Vuuren en Bibi Slippers.

Mooimaak met Clare Wiese-Wentzel is op Donderdag 9 Augustus om 20:00 terug op die kassie. Clare keer terug vir ʼn tweede seisoen van uitsonderlike skoonheidstransformasies. In hierdie seisoen reis sy en haar span van kenners reg oor die land om deelnemers se lewens te verander. Met wenke uit haar eie ervaring help Clare die deelnemers én die kykers tuis om weer die mooi in hulle eie lewens te ontdek.

ʼn Opwindende hoogtepunt op die jaarlikse kykNET-kalender is die Sarie Voorbladgesig-kompetisie en vanjaar bring dié kanaal weer van Dinsdag 14 Augustus om 17:30 die kameras saam op die soektog vir Sarie se 2018-voorbladgesig.

Derduisende inskrywings word in die Sarie-hoofkantoor deurgewerk totdat tien kandidate oorbly. In die eerste episode gesels redakteur Michélle van Breda en die res van die Sarie-span oor wat dit verg om die een, sprankelende voorbladgesig uit die land se mooiste vroue te kies.

Bibi Slippers. (Foto: Facebook/kykNET)

Bibi Slippers. (Foto: Facebook/kykNET)

Ons ontmoet ook die tien finaliste van Sarie Voorbladgesig 2018. Deur die loop van die maand kry kykers die geleentheid om te deel in elkeen se inspirerende storie. Die finaliste hou ook partytjie ter viering van Sarie Kos se tiende verjaarsdag. Herman Lensing wys hulle ook hoe parfuum, blomme en kos ontmoet.

Boekwurms kan hulle elke Donderdag om 12:00 op kykNET se Facebook-blad verlustig in digter, skrywer en boekkenner Bibi Slippers se splinternuwe program, Bibi se boekrak.

Daar word jaarliks miljoene nuwe boeke uitgegee en jy het beslis nie tyd om alles te lees nie. Bibi wil jou tyd en moeite spaar, en daarom deel sy weekliks nuwe boeke met kykers en vertel wat sy daarvan gedink het. Sy nooi ook gereeld bekendes om oor hul gunsteling-boeke te gesels.

Marlice van Vuuren. (Foto: Facebook)

Marlice van Vuuren. (Foto: Facebook)

Rudie en Marlice van Vuuren is van Donderdag 12 Augustus om 21:00 terug op die kassie met ʼn vierde seisoen van die gewilde natuurprogram Groen Namibië.

In dié seisoen reis ons wyd en syd deur Namibië saam met Rudie en Marlice waar hulle verskillende bewaringskwessies ondersoek. Van die Queen’s Canopy-projek waar inheemse plantspesies hervestig word in die woestyn tot onwettige visvang in die Caprivi.

Op Naankuse staan dinge nie stil nie – ʼn groot wildskuifprojek word aangepak om van hoefdiere tot renosters en karnivore op ʼn naburige reservaat te hervestig. Rudie en Marlice spring in toe hulle ʼn oproep kry oor ʼn renoster wat in ʼn strooppoging ernstig beseer is en alles moontlik word gedoen om die dier te probeer red.

Skakel in op kykNET, DStv-kanaal 144.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.