Vyfde seisoen van ‘Zoid Afrika’ binnekort te sien

Karen Zoid is die president van Die Republiek van Zoid Afrika. (Foto: Verskaf)

Karen Zoid is die president van Die Republiek van Zoid Afrika. (Foto: Verskaf)

Aanhangers van die bekroonde kykNET-geselsprogram Die Republiek van Zoid Afrika kan solank hul paspoorte regkry vir ʼn vyfde besoek aan dié Karen Zoid-lekkerland.

Die splinternuwe seisoen begin op Donderdag 10 Mei en in dié reeks brei president Karen haar reeds indrukwekkende kabinet met nóg glansmense, sporthelde, legendariese sangers en ander beroemdes en berugtes uit.

Die Republiek van Zoid Afrika is onlangs vir die derde keer as Suid-Afrika se beste geselsprogram met ʼn Safta vereer en het ook talle Huisgenoot Tempo-toekennings opgeraap.

Bekende gaste soos Eben Etzebeth, Refentse, Johnny Clegg, Jo Black, Minki van der Westhuizen, Franz Marx, Patricia Lewis, Yvonne Chaka Chaka en Johan Stemmet kom maak in die jongste seisoen ʼn draai op Zoid se rusbank.

“Daar is hoendervleis-oomblikke, daar is snaakse oomblikke en daar is diep oomblikke – alles saam verpak in ’n uur lange episode,” het Carien Loubser, vervaardiger en regisseur van die reeks, gesê.

Episodes sal oudergewoonte afgesluit word met verwerkings van trefferliedjies en in Apple se iTunes-aanlynmusiekwinkel beskikbaar wees. Vorige seisoene se verwerkings het keer op keer iTunes se trefferlyste oorheers.

Zoid is veral baie opgewonde oor die vyfde reeks se album. “Ek en die musiekvervaardiger van die RZA-album, Theo Crous, is oortuig daarvan dat hierdie album die beste nog is. Mense wag met elke episode vir die liedjie aan die einde en dit is vir ons ’n hoogtepunt om die program só af te sluit.”

Kykers kan ook weer uitsien na skreeusnaakse insetsels met Die Republiek van Zoid Afrika se geliefde panfluitsensasie, Marinda Senekal, en haar maltrap familie.

Die Republiek van Zoid Afrika word van 10 Mei op Donderdae om 20:30 op kykNET uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Vermeendes ·

Daar is min wat soveel skade aan Afrikaans doen soos sy wat Engels so gemaklik in haar sinne in vleg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.