‘Wag geduldig op jou lewensmaat’, is geliefde akteurspaar se liefdesraad

Die liefde blom tussen Mila Guy en Bennie Fourie. (Foto: Mila Guy/Instagram)

Minder as ʼn jaar gelede het Bennie en Mila Fourie, een van Suid-Afrika se gunsteling- akteurspare, ewige trou aan mekaar beloof.

Mila het destyds aan Maroela Media vertel dat sy en Bennie amper ses jaar lank goeie vriende was voordat hulle in ʼn romantiese verhouding betrokke geraak het.

Bennie het nie op hom laat wag om die jawoord te vra nie, en kort daarna het die huweliksklokke vir hulle gelui.

Vandag is die hegte vriendskap waaruit hulle huwelik voortspruit, een van die waardevolste dinge in hulle verhouding. Dit is ook ʼn gedeelde geduld en getrouheid aan God se belofte dat Hy op sy tyd twee mense bymekaar bring, wat Bennie en Mila koester.

Hulle het in ʼn onderhoud met Maroela Media gesels oor hulle ervaring van die huwelik, grootste aanpassings as pasgetroudes, raad aan enkellopende persone en hoe dit is om in dieselfde bedryf te werk.

“Vir my is die lekkerste deel daarvan om getroud te wees wanneer ek elke aand saam met Mila in die bed kan klim. Dit is so ʼn ongelooflike gevoel wanneer jy besef die een persoon saam met wie jy elke aand wil huis toe gaan, gaan nie meer terug na hulle eie huis toe nie omdat jou huis nou ook hulle huis is,” vertel Bennie.

Bennie en Mila het die dag op ‘n hoë noot afgeskop. (Foto: Verskaf)

Mila sê wanneer sy en Bennie saans saam rustig raak, van die gelukkigste oomblikke in haar dag is. “Dit is wanneer ek en Bennie die lekkerste lag. Ons vertel grappe vir mekaar en lag uit ons mae uit voordat ons gaan slaap.”

Bennie en Mila dink vir ʼn oomblik ook terug aan die eerste paar maande van hulle huwelik en hoe elkeen geleer het om by die ander persoon aan te pas. Omdat hulle albei ʼn bietjie ouer is, Mila was 30 toe sy en Bennie (34) getroud is, was hulle gewoond daaraan om onafhanklik te wees.

“Die grootste aanpassing vir my was die manier hoe ek en Bennie op verskillende maniere rus. Hy sal rus deur homself met stokperdjies besig te hou soos om houtwerk te doen of te skryf, en ek rus deur ʼn boek te lees of na ʼn episode van ʼn reeks te kyk.

“Skielik is jy nou in mekaar se persoonlike ruimte en daar is ʼn verwagting van die ander persoon om dinge op ʼn sekere manier te doen. Later besef jy dat julle twee verskillende mense is wat hulle behoeftes moet kommunikeer,” sê Mila.

Bennie beaam haar ervaring. “Ek voel soms skuldig wanneer ek staan en houtwerk doen, maar daar is eintlik vir ons albei ruimte in die verhouding om uiting aan ons passies te gee en te doen wat ons graag wil. Dit is eintlik so ʼn groot geskenk dat ons dit vir mekaar kan gun om elkeen op sy eie manier asem te skep.”

Om in dieselfde bedryf te werk help hulle om mekaar se werkwyse, roetines en aard van die vermaakwêreld beter te verstaan.

“Dit kan ʼn bietjie oorweldigend en soms kompeterend raak om met iemand in ʼn verhouding te wees wat ook in die vermaakbedryf werk. Maar, ek love dit dat ek en Bennie dieselfde beroep volg. Ons verstaan mekaar verskriklik goed,” sê Mila.

Bennie en Mila Fourie op die rooitapyt. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Bennie meen die feit dat hulle soms ook in verskillende velde van die vermaakwêreld werk, hulle behoud is.

“Ek skryf en is nog by ʼn paar ander projekte betrokke, en dit beteken dat ons nie die heeltyd presies in dieselfde veld werk nie. Ons volg elkeen ons eie loopbaan binne die vermaakbedryf, wat dit nogal dinamies en lekker maak.”

Op die vraag oor watter raad hulle aan enkellopendes kan gee wat nog wag om hulle lewensmaat te ontmoet, sê albei dat jy geduldig moet wees en die tyd gebruik om jouself te ontdek.

“Geniet hierdie fase in jou lewe,” antwoord Mila. “Moenie druk ervaar om te moet trou net omdat almal anders trou nie. Die Here gaan op sy tyd die regte persoon vir jou stuur; jy moet net aanhou bid en glo. Gaan op dates en leer jouself ken, want dan kom jy agter waarvan jy hou en nie hou nie, en ook wat jy wil hê en nie wil hê nie.”

Bennie het pas nadat hy klaar studeer het al die behoefte gehad om te trou. Hoewel hy soms gefrustreerd was om te moet wag, is hy vandag dankbaar oor die pad wat hy moes stap.

“As ek nou terugkyk en vir my jonger self moes raad gee, sou dit wees om aan te hou om jou eie te ding doen, en te werk om die beste weergawe van jouself te wees. Op die ou end gaan jy ʼn beter, voller mens wees wanneer jy eindelik jou lewensmaat ontmoet.”

Dié akteurspaar is vanaand (22 Februarie) te sien in ʼn episode van Die Uitdaging, wat weekliks op Via (DStv-kanaal 147) uitgesaai word. In hierdie reeks daag Iana Strydom, ʼn 25-jarige reisiger, aanbieder en inhoudskepper, tien Suid-Afrikaanse bekendes uit om saam met haar ʼn adrenaliengevulde aktiwiteit aan te durf.

  • Die Uitdaging word elke Donderdagaand om 20:30 op Via, DStv-kanaal 147, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.