Waldemar Schultz terug op die kassie vir ‘Die Byl’

Waldemar Schultz en Lika Berning in 'Die Byl'. (Foto: Verskaf)

Waldemar Schultz en Lika Berning in ‘Die Byl’. (Foto: Verskaf)

Die eerste seisoen van die speurdrama, Die Byl, het in 2016 kykNET- en Showmax-kykers vasgenael voor die kassie en nou is die tweede seisoen van dié gewilde reeks op Showmax te sien.

Die Byl speel in Kaapstad af en vertel die verhaal van Piet van der Bijl, vertolk deur die bekende en gesoute akteur Waldemar Schultz, ʼn briljante speurder met die bynaam Byl, wat spesialiseer in reeksmoordenaars – en ʼn werkverslaafde is wat enigiets sal doen vir die mense naaste aan hom.

Die tweede seisoen speel vyf jaar ná die eerste seisoen af, en dié keer is Die Byl se verhouding met advokaat Nicky Swanepoel, wat vertolk is deur Milan Murray, op die rotse, en sy eksvrou, Carien, vertolk deur Rolanda Marais, is terug in sy lewe.

Byl is egter soos gewoonlik meer geïnteresseerd in die moordsake wat hy ondersoek, en die reeksmoordenaars met wie hy moet rekening hou, raak al hoe meer gesofistikeerd. Die slagoffers is bendelede op die Kaapse Vlaktes, bejaardes in ʼn aftreeoord, gevangenes in ʼn maksimumsekuriteit-tronk en diegene wat eerste opdaag om bystand te verleen op noodtonele, onder andere.

Hoewel die sake episodies afgehandel word, is daar ʼn spanningslyn wat deur die hele seisoen opbou wanneer diegene naaste aan Byl die teikens word, en die jagters in prooi verander.

Schultz, wat hierdie seisoen die rol van Piet van der Bijl hervat het, vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media dit was ʼn groot uitdaging om vir 18 weke aaneen te skiet en daar was nie veel tyd om in diepte navorsing of voorbereiding te doen nie.

“Om die tekste deur te lees en onder die knie te kry, is maar die grootste gedeelte van die voorbereiding. Hoewel dit die tweede seisoen is, het dit hierdie keer ʼn ander aanslag,” sê hy.

Hy vertel hy het destyds, met die verfilming van die eerste reeks, die voorreg gehad om ʼn paar uur saam met Piet Byleveld, die bekende Suid-Afrikaanse speurder, deur te bring.

Dié reeks is geïnspireer deur Byleveld, wat voor sy dood in Mei 2017 van Suid-Afrika se mees opspraakwekkende moordsake, soos die moorde op Leigh Matthews, Sheldean Human en Sibille Zanner, opgelos het.

Byleveld het ook berugte reeksmoordenaars soos Lazarus Mazingane, die Nasrec-moordenaar, en Cedric Maake, die Wemmerpan-moordenaar, vasgetrek.

“Ek het vir sowat vier uur met die skrywers en vervaardigers om ʼn tafel saam met Piet gesit en ons het ʼn asemrowende gesprek gehad. Dit was ongelooflik om te hoor hoe sy kop werk en elemente daarvan is by die reeks ingebring,” vertel Schultz.

Die reeks is egter alles fiktief en nié ʼn biografie oor Byleveld se lewe nie. “Hy was egter ʼn ongelooflike polisiefiguur in Suid-Afrika en het dié reeks geïnspireer,” sê Schultz.

Volgens Schultz het hy teenoor ongelooflike akteurs gespeel in die tweede seisoen van Die Byl. “Dit was die grootste plesier om saam met mense soos Rolanda en Lika te werk en natuurlik ook die byspelers wat nie deurlopende rolle vertolk nie. Al was hulle nie deel van die daaglikse proses nie, is ek weggeblaas deur hulle toewyding.”

Hy vertel dat hy vasgenael is deur die reeks, wat tans op Showmax beskikbaar is. Die reeks sal in Desember vanjaar op kykNET uitgesaai word.

“Ek is só trots op die nuwe seisoen, want dit hou my al vasgenael van die eerste episode af. Van die produksiewaarde regdeur tot by die klankbaan – daar het net soveel werk in die reeks gegaan wat teksontwikkeling en naproduksie betref en die gehalte van die tweede seisoen is regtig merkwaardig.”

Hy verklap dat hy ook rolle in die nuwe seisoen van Fynskrif asook Arendsvlei vertolk. Hy is in Augustus by die Kalfiefees in Hermanus en in September by die Aardklop Nasionale Kunstefees op Potchefstroom saam met Brendon Daniels op die planke te sien in Die Roadtrip.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.