Waldemar Schultz ‘toegewy’ aan rol as ‘Die Byl’

Waldemar Schultz as Piet van der Bijl in ‘Die Byl’. (Foto: Verskaf)

Waldemar Schultz het homself ure aaneen vir die hoofrol van Piet van der Bijl in die kykNET-trefferreeks Die Byl op stel en voor die kameras voorberei deur met liters koffie die stapels tekste en dialoog wat hy moes leer, deur te werk.

Schultz vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media die span van Die Byl het 18 weke lank aan die derde en vierde seisoene op Somerset-Wes in die Kaap geskiet. Die vierde seisoen is tans op die kassie te sien.

Gelukkig woon hy en sy vrou, die aktrise Ira Blanckenberg, in dié Kaapse voorstad en was dit vir hom maklik om soveel tyd op die stel van een van kykNET se gewildste reekse deur te bring.

“Ek het met die vervaardiger, Elmarie Botha, wat ook op Somerset-Wes woon, gespot en gesê hulle het seker dié omgewing gekies om te skiet omdat dit vir die span so gerieflik is. Dit is sommer net ʼn grap, aangesien Elmarie as vervaardiger van die maatsoekreeks Boer soek ʼn vrou jaarliks derduisende kilometers oor die hele land aflê,” vertel Schultz laggend.

Die reeks, wat deur die veteraanspeurder Piet Byleveld geïnspireer is, handel oor die fiksionele karakter Piet van der Bijl, wat die een moord ná die ander moet oplos.

Milan Murray as Nicky en Waldemar Schultz as Piet van der Bijl in ‘Die Byl’. (Foto: Verskaf)

Die Byl het sedert die aanvang van die eerste reeks van ʼn pure misdaaddrama met ʼn Skandinawiese gevoel ontwikkel tot ʼn karaktergedrewe reeks wat kykers telkens vasgenael hou voor die kassie.

“Met die eerste seisoen is die liefdesverhaal tussen Piet en Nicky (Milan Murray) soort van agterna bygeskryf en die res van die karakters, soos dié van Lena (Lika Berning) en Juan (Marvin-Lee Beukes), se karakterontwikkeling het eers in seisoen twee en drie plaasgevind. Teen seisoen vier, waar ons nou is, is die kykers reeds só bekend met die karakters dat mense selfs nog meer deel van die storie raak,” sê Schultz.

“Elke seisoen is vars en daar het soveel natuurlike groei plaasgevind vanaf die eerste tot die jongste seisoen. Dit is wonderlik hoe elke seisoen ʼn lewe van sy eie aangeneem het.”

Hoewel die span intussen die gesoute skrywer Leon Kruger asook die vervaardiger Herman Binge aan die dood afgestaan het, het die spanlede steeds hulself ten volle in die verfilming van die reeks verdiep.

“Elke persoon op die stel van Die Byl is daaraan toegewy om die reeks so suksesvol en geloofwaardig moontlik te maak. Ons almal is bitter trots op die reeks,” sê Schultz.

Schultz loof ook die span van Die Byl vir die werk wat hulle onder geweldige tydsdruk uitvoer. “Die span se werksetiek is absoluut verbysterend en prysenswaardig. Om 12 uur per dag op jou voete te wees en sowat 20 tonele per dag te skiet, is ongehoord in ander lande. Die pas waarteen ons reeks- en rolprentspanne werk, is blitsvinnig.”

Om die gemoed op die stel lig te hou, maak hy baie grappe en geselsies tussen tonele. “Tensy daar baie emosionele tonele is – en daar is soms van hulle ook – probeer ons om dinge lig te hou en probeer ek om die gom te wees wat alles bymekaar hou. Dit is werklik ʼn wonderlike groep mense, akteurs en regisseurs om mee saam te werk.”

Op die stel van ‘Proesstraat’. Voor is Waldemar Schultz, Wikus du Toit, Nina Swart en Cindy Swanepoel. Agter is Pedro Kruger, Melt Sieberhagen en Pierre Breytenbach. (Foto: IMDb)

Hoewel hy op die stel van Die Byl met grusame storielyne moet werk, was sy mees “vreesaanjaende” rol nog dié van homself in die SABC-komediereeks Proesstraat, vertel hy.

Proesstraat is ʼn improvisasiereeks wat van 2010 tot 2016 op die kassie verskyn het. Schultz was saam met Pierre Breytenbach, Melt Sieberhagen en Wikus du Toit in die reeks te sien.

Die reeks het in Schultz se fiktiewe sitkamer afgespeel waar gaste soos Desiré Gardiner, Elize Cawood, Martelize Kolver en Pedro Kruger gereeld kom kuier het. Cindy Swanepoel was ook deel van die rolverdeling en Nina Swart was die spelleier.

“Dit is letterlik elke akteur se nagmerrie – jy staan op ʼn verhoog en daar is ʼn massiewe produksie wat rondom jou opgestel is. En daar staan jy, in die middel van dié verhoog, en jy het absoluut niks voorberei nie,” sê hy met ʼn lag.

“Nadat die vervaardigers my vier keer genooi het vir ʼn oudisie en ek navorsing oor die oorspronklike, Duitse weergawe van die reeks gedoen het, het ek besluit om dit ʼn kans te gee.”

Schultz, wat destyds die Kaap saam met sy jong gesin verlaat het om in Johannesburg die rol van Jan-Hendrik Terblanche in 7de Laan te vertolk, het intussen weer wortel in die Kaap geskiet.

Waldemar Schultz as Piet van der Bijl in ‘Die Byl’. (Foto: Verskaf)

Hy en Ira bou tans ʼn huis op Pringlebaai en wanneer hy nie besig is met oorklankingswerk, rolle in internasionale advertensies en as deeltydse dosent by die Universiteit Stellenbosch (US) se dramaskool nie, hou hy sy lyf voorman.

“Ek is uiters geseënd dat ek ná soveel jaar nog steeds my lewe as vryskutakteur kan geniet en dat ek ondanks die moeilike twee jaar wat ons weens die pandemie agter die rug het, kan aanhou doen waarvoor ek lief is.”

Die Byl is Sondae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien en is ook op DStv CatchUp beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.