Waldo van der Waal van ‘La’t wiel’ praat motors

Waldo van der Waal (Foto: Verskaf)

Waldo van der Waal (Foto: Verskaf)

Waldo van der Waal, mede-aanbieder van die gewilde kykNET-program La’t wiel, gee nie voor op die kassie nie. Dié petrolkop se passie ís motors.

La’t wiel het die lig in 2004 gesien, en gedurende die jare wat daarop gevolg het, het die span bykans 400 episodes vervaardig en duisende motors bestuur op amper elke kontinent.

Waldo vertel meer oor die beste bekostigbare motors, die topspoed wat hy al gery het en sy gunsteling-motor van alle tye.

La’t wiel word weekliks op Dinsdae om 17:30 uitgesaai.

Wat is jou gunsteling-motor van alle tye?
Ek het nog altyd maar ʼn sagte plekke vir ʼn Range Rover gehad. Nie die Range Rover Sport of Evoque nie, maar wel die vlagskipmodel. Die pappa van die reeks. Want dis ʼn motor wat gerieflik in die veld kan ry, oorlaai is met luukshede en boonop net so tuis is in die stad of op ʼn snelweg. Vir my moontlik die mees volledige motor van alle tye.

Wat is die een droom wat met motors te doen het wat jy hoop eendag waar kan word?
Ek is baie lief vir langafstandry en was bevoorreg om al verskeie vastelande per motor te deurkruis – Australië en Noord-Amerika, met lang roetes deur Skandinawië en Suidoos-Asië. Ek het ook al drie volledige Dakar-renne deur Suid-Amerika gevolg. As sulks sal ek bitter graag van Alaska tot in Panama by die kanaal wil ry. Ek werk reeds aan dié plan.

Wat is die drie beste motors wat nóg gemaak is?
Man, dis nie ʼn maklike vraag nie. Ek sou sê die McLaren F1 as die wêreld se eerste ware, bruikbare supermotor; die Nissan GT-R as een van die beste “all-rounders” en beslis die Toyota Land Cruiser-reeks wat nie net enige plek kan ry nie, maar ook ʼn ikoon geword het vir hardebaard-mans om die planeet mee te deurkruis.

Die manne van die La't Wiel-program (Foto: kykNET)

Die manne van die La’t Wiel-program (Foto: kykNET)

Watter nuwe motor wat nog bekendgestel moet word, maak jou opgewonde?
Daar is so baie nuwe motors op die horison, maar ek sien spesifiek uit na die nuwe Land Rover Discovery. Dié nuwe model gaan heel nuwe standaarde stel en dis ʼn motor wat my ook al lank na aan die hart lê.

Wat is die topspoed wat jy al in ʼn motor afgelê het?
Ek het op ʼn keer op die Wonderboom-lugmagbasis se aanloopbaan so skuins oorkant 320 km/h met ʼn Ferrari F50 gehaal. Dit was eintlik nogal ʼn storie, maar glo my, dit was meer moeite om te stop as wat dit was om die topspoed te haal!

Wat is die indrukwekkendste motor wat jy al gesien het?
Ons het in Ysland die geleentheid gekry om in hulle veldrenmotors te ry. Mal masjiene met meer as 1 000 perdekrag wat by enorme kranse reguit kan opry. Dit was ongelooflik en het my behoorlik na my asem laat snak.

Wat is die beste pad in Suid-Afrika om met ʼn vinnige motor te ry?
Daar is ʼn paar wat vir my uitstaan, maar enige pad met min verkeer en baie draaie klink na ʼn wenner. Die Laeveld bied nogal heelwat sulke opsies, hoewel ons altyd voorstel dat jy liewer op ʼn renbaan jaag.

Wat is die beste bekostigbare motor om te koop?
Ek beveel aan dat mense eerder konsentreer op bekende fabrikate soos Honda, Suzuki of Toyota om net ʼn paar te noem, en liewer nie in die lokval van goedkoop uitheemse motors trap nie. Met dit in gedagte, beveel ek graag die Toyota Yaris aan of sy Volkswagen-eweknie. As jou begroting regtig onder druk is, is ʼn Suzuki Celerio meestal my aanbeveling.

Wat is die beste fabrikaat van alle tye?
Sjoe, nog ʼn baie moeilike vraag. Dit wissel so deur die jare, maar dis moeilik om die afgelope 50 jaar ʼn fout te maak met ʼn Toyota. Hulle produkte maak my selde opgewonde, maar hulle is hoogs betroubaar, die motors hou hulle waarde beter as ander en as ʼn mens dit alles in ag neem, kan jy nie regtig anders as om Toyota te sê nie.

Wie is volgens jou die beste motorbestuurder van alle tye – in enige van die motorsporte?
Vir baie mense is Michael Schumacher of Ayrton Senna seker die maklikste antwoorde. Maar ek het nog altyd gedink sir Jackie Stewart is een van die bestes, indien nie die heel beste nie. Dié Skotse jaer kon enige soort motor vinnig laat lyk en ek was bevoorreg om so ʼn paar jaar gelede saam met hom te ry. Selfs in sy sewentigs kon hy meeste jongelinge nog ʼn ding of twee wys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Rupert Ashford ·

Bedoel jy die nuutste Poniekar? Baie indrukwekkend.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.