Wat is op die kassie?

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die jongste plaaslike en internasionale kykstof wat reeksvrate en fliekvlooie aan die gons het.

Vandeesweek trek ons die sjokolade, snesies en sjampanje vir Valentynsdag nader, en ons gee ʼn kykie na plaaslike en internasionale flieks en reekse wat TV-vrate se romantiese hongerpyne bevredig.

Plaaslike kykstof

Matilda en Matthys

Showmax, PG 13 T

Matilda en Matthys is een van drie oorspronklike Afrikaanse Showmax-rolprente wat op Valentynsdag uitgereik word.

Die fliek handel oor ʼn ambisieuse jong skrywer en ʼn superrasionele tegniese entrepreneur wat op ʼn reeks van skynafsprake gaan om navorsing te doen – sy vir haar roman en hy vir ʼn maatsoek-app.

Maar selfs die slimste mense kan nie die liefde uitoorlê nie.

Emma van Heyn (Twintig Tone in ʼn Hangkas, Troukoors), en Adrian Steyn (Die Onderonsie, Wyfie) is in die hoofrolle, en is saam met Bertha le Roux-Wahl (7de Laan), Pietie Beyers (Die Onderonsie) en die komediant Mojak Lehoko te sien.

Matilda en Matthys is skrywer-regisseur Bibi Slippers se debuutrolprent. Dit is vervaardig deur die bekroonde vervaardiger Danie Bester van Film Factory.

Internasionale kykstof

Love is Blind

Netflix, PG 16

Die uiters gewilde en eksperimentele maatsoekreeks Love is Blind, waar potensiële pasmaats in sogenaamde “pods” mekaar ontmoet en gevolglik verlief én verloof raak sonder dat hulle mekaar vooraf kon sien, is terug vir ʼn sesde seisoen op Netflix.

Die reeks is so gewild dat dit reeds vir ʼn sewende seisoen ook hernu is. Dit moet egter nog verfilm word.

Love is Blind Sweden het verlede maand kykers vasgenael gehou voor die kassie. Die nuwe seisoen begin Woensdag en nuwe episodes sal weekliks tot 6 Maart beskikbaar gestel word.

Die sanger Nick Lachey en sy vrou, Vanessa, is die aanbieders van die program.

One Day

Netflix, PG 16

Leo Woodall en Ambika Mod vertolk die hoofrolle in “One Day”. (Foto: IMDb)

One Day is op Netflix te sien en is geskoei op die topverkoper- David Nicholls-roman met dieselfde titel.

Die reeks bestaan uit 14 episodes en volg die reis van Emma Morley (vertolk deur Ambika Mod) en Dexter Mayhew (vertolk deur Leo Woodall), albei studente aan die Universiteit van Edinburgh, soos wat hulle goeie vriende raak en uiteindelik meer as ʼn dekade later verlief raak.

Die roman is in 2011 in ʼn rolprent verwerk waarin Anne Hathaway die hoofrol vertolk.

Vir die jongspan

Percy Jackson and the Olympians

Disney+, PG 13 (lees eerder die boeke as jy kan!)

Aryan Simhadri, Leah Jeffries en Walker Scobell in “Percy Jackson and the Olympians”. (Foto: IMDb)

Percy Jackson and the Olympians is ʼn fantasieverhaal geskoei op die Griekse mitologie. Die 12-jarige Percy Jackson is ʼn halfgod, wat beteken een van sy ouers was ʼn god en een was menslik.

Percy raak stelselmatig gewoond aan sy nuutgevonde kragte wanneer Zeus hom daarvan beskuldig dat hy sy meester-weerligstraal gesteel het. Met sy vriende se hulp moet Percy die wanorde in Olympus regstel.

Al agt episodes van die reeks is op Disney+ beskikbaar.

Almal praat oor

Lover, Stalker, Killer

Netflix, PG 13

‘n Skermgreep uit die lokprent van “Lover, Stalker, Killer”.

Hierdie ysingwekkende dokumentêr oor ʼn liefdesdriehoek wat in ʼn bloedbad eindig, is tans een van die gewildste programme op Netflix.

Lover, Stalker, Killer het op 9 Februarie gedebuteer en vertel die verhaal van hoe ʼn motorwerktuigkundige se ongure aktiwiteite op ʼn aanlyn maatsoek-app gelei het tot ʼn gevaarlike liefdesdriehoek en uiteindelik ʼn grusame moord.

Lover, Stalker, Killer is 90 minute lank.

Kyk hier na die lokprent.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.