Wat is op die kassie?

Maroela Media bied ʼn opsomming van die jongste plaaslike en internasionale kykstof wat reeksvrate en fliekvlooie aan die gons het.

Vandeesweek gee ons ʼn blik op kykNET se jongste dokumentêre reeks, Vreemder as fiksie, en kyk na die reekse Testament: The Story of Moses en The Gentlemen wat op almal se lippe is.

Plaaslike kykstof

Vreemder as fiksie

kykNET, ouderdomsbeperking 13

‘Vreemder as fiksie’ is op kykNET te sien.

Almal het ʼn storie – party vreemder as ander. Soms so vreemd jy kan nie glo dit is waar nie.

In kykNET se nuwe dokumentêre reeks, Vreemder as fiksie, word daar diep gedelf in doodgewone mense se lewens wat heeltemal omvergegooi is deur bisarre gebeurtenisse of donker geheime wat op die lappe gekom het. Dié reeks gee die betrokkenes en familielede die kans om hulle wedervaringe te deel.

In die eerste episode volg ons die storie van Benita Botha wat byna 20 jaar in die kloue van ʼn kultus was. Sy het 15 jaar lank nie met haar ma of suster kontak gehad nie, en in plaas daarvan om die Here se werk te doen, is sy en haar familie vernietig.

Dié reeks slaan jou asem weg met ware lewensverhale wat g’n skrywer sou kon uitdink nie.

Vreemder as fiksie word elke Maandagaand om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

Internasionale kykstof

Shōgun

Disney +, ouderdomsbeperking 18 +

Hiroyuki Sanada in “Shōgun”. (Foto: IMDb)

Shōgun is ʼn Amerikaanse geskiedkundige dramareeks geskep deur Rachel Kondo en Justin Marks. Dit is geskoei op die 1975-roman met dieselfde naam deur James Clavell, wat in 1980 ook in ʼn minireeks omskep is.

Die reeks is gebaseer op die magstryd tussen die opvolgers van Toyotomi Hideyoshi, wat gelei het tot die stigting van die Tokugawa shogunate.

Wanneer ʼn misterieuse gestrande Europese skip by ʼn nabygeleë vissersgemeenskap gevind word, ontdek Lord Yoshii Toranga geheime wat die mag kan verdeel en sy vyande verpletter.

Clavell het elke karakter geskoei op ʼn geskiedkundige figuur, maar het hulle name verander om verdere intrige tot die storie te verleen.

Die reeks bestaan uit 10 episodes en is op Disney+ te sien.

Testament: The Story of Moses

Netflix, ouderdomsbeperking 16

Testament: The Story of Moses beeld die lewe van Moses en sy reis uit as ʼn uitgeworpene en moordenaar tot profeet en bevryder van die Hebreërs van Egiptiese onderdrukking.

Die reeks bestaan uit drie dele en handel oor Moses se lewe vanaf sy geboorte in Egipte tot sy dood net buite die Beloofde Land van Kanaän.

Testament: The Story of Moses is ʼn toptienreeks op Netflix.

 

 

 

 

 

Vir die jongspan

Bad Dinosaurs

Netflix, geen ouderdomsbeperking

ʼn Liefdevolle, ondeunde Tyrannosourus en sy gesin ontdek die kleurvolle prehistoriese wêreld rondom hulle, en het hulle lawwe pret saam met die ander dinosourusse wat saam met hulle daar woon.

Die reeks bestaan uit agt episodes en is op Netflix te sien. Elke episode is sowat 20 minute lank.

Almal praat oor

The Gentlemen

Netflix, ouderdomsbeperking 16

Theo James in ‘The Gentlemen’. (Foto: IMDb)

Guy Ritchie se The Gentlemen op Netflix het al wat ʼn reeksvraat is aan die gons – en daar is veral ʼn onderlangse gefluister oor die aantreklike rolverdeling wat akteurs soos Theo James en Kaya Scodelario insluit.

ʼn Aantreklike man met warm bloed in sy are, gespeel deur die sjarmante Theo James, se pa sterf. Hy erf sy sakeryk, in plaas van sy nikswerd broer Freddy. Dit is maar net die begin van die held, Eddie, se probleme.

Die reeks het agt episodes.

Lees alle Wat is op die kassie-berigte hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.