Wat jy nie geweet het van ‘Boer soek ʼn vrou’ nie

Leah is die aanbieder van Boer soek 'n vrou. (Foto: Verskaf)

Leah is die aanbieder van Boer soek ‘n vrou. (Foto: Verskaf)

Die 11de seisoen van Boer soek ʼn vrou het onlangs afgeskop en verlede week is die topvyf boere wat na potensiële pasmaats soek, aangewys.

Toanette Els (23) van Modimolle het opslae gemaak toe sy aangewys is as die eerste vroueboer in die volle verloop van die program wat genoeg briewe gekry het om op die kassie na ʼn liefdesmaat te soek.

Sy sal saam met André (35), Rèan (26), Cassie (28) en Duncan (36) na Kaapstad reis om 10 hubare mans te ontmoet, van wie drie uiteindelik saam met haar terug sal gaan plaas toe. Die mansboere sal natuurlik elkeen drie dames kies om saam te gaan plaas toe.

Het jy al ooit gewonder hoe die logistiek agter die skerms van die program inmekaar steek, hoeveel kilometers die produksiespan moes aflê of hoeveel uitrustings Leah gedra het? Hier is ʼn paar feite oor Boer soek ʼn vrou wat jy nie geweet het nie:

  • Die produksiespan is klein en bestaan uit 12 mense. Dit klink dalk baie, maar ʼn klein rolprentspan is gewoonlik 30 tot 40 mense. Die vervaardigers verkies om die span klein te hou sodat die boere nie oorweldig voel nie.
  • Sowat 100 vlugte is vir die span van sowat 12 mense bespreek. Die spanlede het ook altesaam ʼn afstand van bykans 30 000 km in voertuie, en 11 km per dag te voet, afgelê.
  • Die regisseur, Berdene Burger, en vervaardiger, Elmarie Botha, was elkeen 16 weke van die huis af weg om die 11de seisoen te skiet. Die res van die produksiespan was 13 weke van die huis af, terwyl Leah haar man, Hennie, en twee Jack Russell-honde 12 weke by hul huis in Kaapstad moes agterlaat.
  • Leah en die res van die produksiespan oornag altyd by die naaste gastehuis aan die plaas waar hulle moet skiet. Die enigste uitsondering was toe hulle vir Byron in Kraaifontein moes besoek, want hulle kon toe darem by hul huise slaap omdat almal in die Kaap bly.
  • Die logistiek vir die verfilming ná afloop van die aanwysing van die topvyf boere moes in minder as vyf dae uitgewerk word.
  • Die program is in sewe van die nege provinsies van Suid-Afrika geskiet. Mpumalanga en Gauteng is die enigste provinsies wat uitgesluit is.
  • Leah het 73 verskillende uitrustings gedra.
  • Boer soek ʼn vrou is in die herfs en winter, van Maart tot Augustus, geskiet.

Skakel elke Donderdag om 20:00 in op DStv-kanaal 144 vir ʼn nuwe episode van Boer soek ’n vrou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Ag Asseblief ·

Ai Maroela ek is seker julle het interessanter nuus oor Boer soek ‘n vrou, as dit wat julle nou opgedis het.
Wat het die hoeveelheid uitrustings met die prys van eiers te doen?
Lyk my julle is uit nuus uit.

Tweetie ·

Dankie vir die inligting, ons het altyd gewonder hoe boer soek n vrou agter die skerms werk. Sien baie uit na vannaand se episode.

Netso ·

Moenie vergeet om by te voeg dat die boere en hul besoekers voorgesê word wat om te doen en te sê. Dis glad nie so “spontaan “ as wat dit lyk nie!

Ellisras ·

Niemand word voorgesê nie. Daar is wel ‘n regisseur wat rigting gee aan die program. Jy kan tog nie amateurs loslaat sonder rigting nie.

Ellisras ·

Ek stel nie belang in wat die Koningin en sogenaamde prinsesse gister aangetrek het. En wat nie. Daarom lees ek dit as ‘n reël nie. As jy nie van Boer Soek Vrou wil lees nie. MOET NIE. komaan dit was nie so moeilik nie.

Bul ·

BSV is snert. Hopelik is almal nie so desperaat for ‘n date nie.

Johanna ·

Boer soek ‘n vrou is vir vermaak geskep. Kyk daarna in daardie lig. Geniet dit of jou ander keuse is: skakel oor na ander kanaal. Heerlik om te sit en kyk na n program sonder geweld, misdaad en geweld. Wonderlike ontspanning na die nuus van die dag.

Alicia ·

Rean is lekker laf. Ek het hom vreeslik geniet gisteraand. BSV – is tops!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.