Wat veroorsaak die meeste spanning in verhoudings?

Nico (Sean-Marco Vorster) en Lee-Ann (Nicole Fortuin) van ‘Alles Malan’. (Foto: Verskaf)

Deur Ilza Roggeband

Tussen Freek (Ivan Zimmermann) se ontrouheid, Tessa (Nadia Valvekens) se werklading en Nico (Sean-Marco Vorster) en Lee-Ann (Nicole Fortuin) se huisverbeterings en onsekerhede as nuwe ouers het die Malans van die kykNET-dramareeks Alles Malan genoeg drama vir ’n leeftyd.

Om probleme in ’n verhouding op te los moet jy eers erken daar is ’n probleem. Sodra julle die probleem geïdentifiseer het, kan julle daaraan aandag gee, met of sonder hulp.

Wat is die tien grootste faktore wanneer dit kom by stres in huwelike, en is daar oplossings?

Geldsake

Een van die grootste stresfaktore in verhoudings is geldsake, gewoonlik wanneer daar nie genoeg geld is om al die gate toe te stop nie. Daarom is dit belangrik vir paartjies om altyd eerlik te wees oor hulle geldsake en seker te maak dat almal op dieselfde bladsy is en ’n probleem uit die weg ruim voordat dit handuit ruk.

Werk

Dit is baie belangrik om ’n goeie balans tussen werk en julle lewe buite werk te hê. Nie een van die twee moet afgeskeep word nie en daar moet genoeg tyd wees om kwaliteit tyd in julle verhouding te hê.

Vertroue

Wanneer vertroue eers verloor is, is dit moeilik om dit terug te kry. Nie onmoontlik nie, maar moeilik.

Onopgeloste trauma

Nie twee persone is dieselfde nie en elkeen van ons het ons eie verlede. Onopgeloste trauma uit byvoorbeeld ’n persoon se kinderjare kan jare later stres in verhoudings veroorsaak, juis omdat die kwessie nooit aandag gekry het nie.

Is jou glas half leeg of half vol?

Wanneer een persoon in die verhouding baie positief is en die ander negatief, kan dit angstigheid veroorsaak. Kyk of julle die goue middeweg kan vind en kan saam werk om die lewe vir julle al twee makliker te maak.

Jaloesie

Die groenoogmonster kan ’n verhouding vinnig verwoes. Of dit nou jaloesie is op suksesse wat die een behaal of jaloesie omdat die ander geslag te veel aandag gee, is dit nodig om so gou moontlik daaraan aandag te gee aangesien jaloesie ’n emosie is wat tot in ’n monster kan groei indien dit nie in die kiem gesmoor word nie.

Kinders

Kinders is seker die grootste vreugde wat enige paartjie kan beleef, maar die oomblik wanneer hulle gebore word, is dit die natuurlikste ding vir ’n verhouding om te verander. Ma’s en pa’s se idees oor ouerskap kan dalk verskil. Die een kan dalk voel die ander een doen nie genoeg nie en een kan selfs nie kinders wou gehad het nie.

Tussen die lakens

Intimiteit het al menige verhoudings gemaak of gebreek. Hierdie is beslis ’n probleem wat eerder vroeër as later aandag moet kry. Kry hulp, praat daaroor, span hulpmiddels in en besluit saam hoe belangrik hierdie deel van julle verhouding vir julle is.

Gesondheid

“In sickness and in health” soos die Engelse troubelofte sê. Maar wat gebeur as een van julle siek word? Sal die ander een daar wees om jou te ondersteun?

Kommunikasie

Dit is dalk die laaste punt, maar dit is die belangrikste in enige verhouding. As jy nie gaan praat nie, gaan die ander een nie weet wat jy dink en voel nie. “Date night”, daardie aand wanneer net die twee van julle saam is, is nodig sodat julle net elke dan en wan weer kan kyk of julle op dieselfde roete is.

Alles Malan is op Dinsdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien. Dit is ook op DStv CatchUp beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Witbaard

Wat is punt 2 tot 10 dan ( tong in die kies)

AW

Ja Nee !!

Elize

Skoonfamilie hoort op die lys

RS

Geld is n euwel….maar jy kan nie sonder dit nie.