Watwou ʼn trouvrou uit Moskou?

‘Ram vir ‘n Rus’ begin later in Oktober uitsaai op VIA.

In VIA se nuwe werklikheidsreeks, Ram vir ʼn Rus, gaan vier Suid-Afrikaanse mans liefde soek in Rusland en ná 12 weke moet die enkellopendes besluit of hulle gaan troue hou en of hulle paadjies gaan skei.

Dié splinternuwe formaat is ʼn eerste vir Suid-Afrikaanse televisie en neem kykers op ʼn liefdesreis soos nog nooit tevore nie.

In Ram vir ’n Rus kry hierdie enkellopendes die kans om die vrou van hul drome met behulp van ’n agentskap te ontmoet. Twaalf enkellopende Russiese vroue wat op soek is na liefde word deur dié agentskap geïdentifiseer vir die reeks en hulle kan al vier mans leer ken.

“Dit was van die begin af vir ons belangrik dat die enkellopendes werklik belangstel om te trou mits hulle die regte persoon ontmoet,” sê Konrad Kuhn, uitvoerende vervaardiger van die program.

“Die ramme en die Russe was bereid om te trou en gretig om met ’n gesin te begin.”

Die skietproses het in Mei vanjaar afgeskop en die formaat van die program moes noodgedwonge verander as gevolg van die reisbeperkings op Suid-Afrikaners. Die pandemie het egter nie ʼn demper op die liefde geplaas nie.

Die enkellopendes het mekaar aanlyn ontmoet nadat die vroue briewe vir die mans geskryf het. “Daar was dadelik gunstelinge,” sê Kuhn.

Ná twee weke se kersopsittery moes die ramme hul vier gunstelinge kies wat na Suid-Afrika sou reis. Natuurlik moes dié meisies ook instem.

“Vir nóg twee weke kon die deelnemers (vier ramme en agt Russe) vlerksleep by die Nyati Safari Lodge op die Olifantsrivier en dis hiér waar die vonke behoorlik spat,” meen Charles Povey, VIA se inhoudshoof.

Op die laaste aand kon die enkellopendes besluit of hulle ’n verhouding wil aanknoop of nie. “Twee ramme se koppe het nie geweet watter kant toe nie en twee paartjies het reg van die begin af net vir mekaar oë gehad,” verklap Kuhn.

Ná hul tyd by die lodge het paartjies vir vyf weke saamgebly by die mans se huise waarna hulle moes besluit of hulle wil trou of die verhouding beëindig.

“Die soektog na liefde is opwindend, maar nie altyd ’n maklike pad nie. Ons deelnemers moet nou in ’n beperkte tydperk mekaar leer ken en besluit of hulle ’n lewe wil bou met die ander persoon,” vertel Povey.

“Die reeks bring ook twee kulture saam wat beloof om kykgenot uit die boonste rakke te verskaf.”

En ná 12 weke, en baie liefdesdrama, hét liefde geblom. “Die reeks het drama en ek wil nie te veel verklap nie,” sê Kuhn en volgens hom staan die karakters in die reeks uit.

“Soms gaan kykers nie van hulle hou nie en ander kere gaan kykers hulle ondersteun. Ons deelnemers was eg en hét foute gemaak,” sê hy.

“Ons was dadelik opgewonde toe die vervaardiger die voorstel vir ons stuur omdat dit uniek is en nog nie in Suid-Afrika gedoen is nie,” voeg Povey by.

Ram vir ’n Rus begin Woensdag 20 Oktober om 20:00 op VIA, DStv-kanaal 147. Nuwe episodes met Engelse onderskrifte word weekliks uitgesaai.

VIA is ook beskikbaar op Catch Up en in die DStv-app. Ram vir ’n Rus sal op Showmax beskikbaar wees.

Kyk hier na die lokprent.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Elmarie ·

Ja AW ek ook. Asof ons nie oulike enkellopende meisies in SA het nie!

piet ·

Dis soos visvang. As jy nie ‘n ander dam probeer nie, verloor jy dalk die beste vis.

piet ·

Ek wag nou vir “Gawie vir Gabriela”. Kan nie wag om my smeulende Latynse skoonheid te ontmoet nie.

Francois Le Cochon ·

Ek weet van ‘n man wat met ‘n Russiese vrou getrou het, toe slaan die Kaapstadse Russiese mafia toe en dreig hom uit miljoene. Die vrou verdwyn toe ook. Al haar dokumente was vervals.

Belinda ·

wie wil n S-Afrikaner trou om n groenkaart in hierdie gemors land van ons te kom woon?

Niklaas ·

Ek ken ouens wat al Rusland en Ukraine gaan besoek het , om die dames daar te leer ken met die hulp van agentskappe waar jy registreer en dan vrouens op hul paneel leer ken. Dit was in albei se geval duur hoofstukke in hul lewens . Daardie kostes was glo erg hoog. Twyfel of dit die moeite (en die geld) werd is.

Chris dupreez ·

Ek weet van n baie bekende afrikaanse Suid Afrikaner wat al jare met n Russiese dame getroud is en nog baie gelukkig is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.