Wayde se ma nou ʼn TV-danser

Odessa Swarts. (Foto: Instagram/Odessa Swarts)

Die Olimpiese atleet Wayde van Niekerk se ma, Odessa Swarts, is gekies as een van die bekende gesigte wat volgende jaar aan die M-Net-realiteitsreeks Dancing with the Stars gaan deelneem.

M-Net het die nuus in ʼn verklaring bevestig. Swarts sal meeding teen talle ander bekendes soos die veteraan-akteur Frank Opperman, aktrise Juanita de Villiers en voormalige Mej. Suid-Afrika en radio-omroeper Liesl Laurie.

Hoewel Swarts, oorspronklik van Kaapstad, welbekend is as die atletiekster Van Niekerk se ma, het sy self op haar dag diep spore in die Suid-Afrikaanse atletiekwêreld getrap. Sy het in die laat tagtiger- en vroeë negentigerjare ʼn hele aantal atletiekrekords laat spat as ʼn baan- en veldatleet.

Swarts is dus geen vreemdeling vir kompetisie nie, en is baie opgewonde om in dié sterbelaaide danskompetisie mee te ding. “Ek wou nog altyd leer hoe om die tango en die salsa te doen, maar met my kinders grootmaak en die jare wat so vinnig verby vlieg, het ek nooit daarby uitgekom nie,” het Swarts luidens die verklaring gesê.

“My kinders is nou groot en ek wil hierdie sien as my tyd om nuwe dinge te leer. Ek is gaande oor die internasionale reekse van die kompetisie en ek wens nog altyd ek kon deel wees van so iets. Dit is ʼn absolute droom wat bewaarheid word!”

Twaalf onopgeleide plaaslike bekendes sal hul beste voetjie voorsit tydens die kompetisie met die hulp van professionele Latyn- en baldansers.

Dancing with the Stars begin op 4 Februarie 2018 op M-net.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.