Wenke oor kinders se TV-kyk

Foto: dreamstime.com

Foto: dreamstime.com

Hallo Susan,

Ek het drie kinders, onderskeidelik ses jaar, drie jaar en ’n baba van nege maande. Hulle ontwikkeling is vir my baie belangrik, so help my asseblief met riglyne aangaande hoeveel tyd hulle TV mag kyk of nie mag kyk nie.

Danica

Liewe Danica,

TV-kyk is ʼn fundamentele deel van baie kinders se lewe; baie kinders doen byna niks anders nie en is elke dag ure lank voor die TV. Voeg nog hierby die aantal ure wat hulle na DVD’s kyk, met rekenaars doenig is en video-speletjies speel, en die blootstelling aan elektronika hoop op. Is dit skadelik of is dit ʼn skadelose tydverdryf?

Navorsing bewys dat TV skadelik is vir kinders, veral onder die ouderdom van drie. Dis omdat die brein van ʼn klein kindjie soos ʼn hoop klei is en groei en verander in reaksie op wat hy of sy beleef.

Vroeë blootstelling aan TV vir kinders van een tot drie jaar word geassosieer met aandagspanprobleme op ouderdom sewe. Dit blyk uit ʼn studie wat gedoen is deur die Children’s Hospital and Regional Medical Center in Seattle, soos gepubliseer in die vaktydskrif Pediatrics. Dié studie toon dat elke uur se TV-kyk per dag tussen die ouderdomme een en drie die risiko van aandagspanprobleme soos ADHD met omtrent 10% verhoog teen ouderdom sewe. Die studie het ander faktore uit die omgewing, soos kognitiewe stimulasie en emosionele ondersteuning in aanmerking geneem.

Hierdie bevindings dui daarop dat voorkomende aksie geneem kan word om die risiko van aandagspanprobleme te verminder. Ter wille van breinontwikkeling moet kinders se blootstelling aan TV beperk word gedurende hulle vormingsjare; dit kan die risiko van ADHD verminder.

Hierdie studie, wat gelei is deur Dimitri Christakis, MD, MPH, ʼn pediatriese navorser by bogenoemde kinderhospitaal en mediese sentrum, het gebrek aan aandag by die lys van skadelike gevolge van oormatige TV-kyk gevoeg. Ander skadelike gevolge sluit oorgewig en aggressiewe gedrag in.

Blootstelling aan die media bring ook ander gevolge mee, naamlik die stilswye van ouers. Terwyl die televisie aan is, word geselstyd, wat baie belangrik vir taalontwikkeling is, afgeskeep. Drie studies het opvoedkundige televisie-gebruik en taalontwikkeling nagevors, en al drie het gevind daar is ʼn verband tussen verhoogde aantal ure TV-kyk en vertraagde taalontwikkeling.

Wenke oor kinders se TV-kyk

Danica, die volgende is riglyne om jou kinders te beskerm teen die slegte gevolge van TV, en om eerder TV tot hulle voordeel aan te wend:

Beperk die tyd wat jou kind voor die televisie deurbring

Die Amerikaanse akademie vir pediaters (AAP) beveel aan dat ouers nie toelaat dat kinders onder twee jaar televisie kyk nie, en dat ouers versigtige oordeel aan die dag lê wanneer hulle kinders ouer as twee TV kyk, soos om tydbeperkings daar te stel, en hulle kinders te help om mediageletterd te raak deur hulle te leer om TV-boodskappe te bevraagteken en te evalueer. Ouers moet ʼn aktiewe rol speel in hulle kinders ouer as  twee se TV-kykery.

Kyk na programme, nie na TV nie

Dis duidelik beter om na programme te kyk eerder as om sommer na die TV te sit en kyk net omdat dit aangeskakel is. Kies opvoedkundige programme en skakel die televisie af wanneer die program verby is.

Volgens Aletha Huston, professor in kinderontwikkeling aan die universiteit van Texas in Austin, kan opvoedkundige programme ʼn baie positiewe impak op jong kinders hê.

In ʼn artikel waarvan Huston ʼn mede-outeur is, word resultate van navorsing wat gedoen is op kinders uit gesinne met lae tot gemiddelde inkomste in Kansas City, gerapporteer. Gedurende hierdie drie jaar navorsingsprojek is kinders tussen die ouderdomme twee tot vier betrek. Navorsers het die kinders getoets en hulle elke jaar tuis besoek. Die toetse het lees, woordeskat, wiskunde en skoolgereedheid ingesluit.

“Kinders wat na opvoedkundige programme gekyk het, veral tussen die ouderdomme twee en drie, het beter presteer op toetse wat skoolverwante vaardighede evalueer het, as kinders wat nie opvoedkundige TV-programme gekyk het nie,” het Huston gesê. “Daar was ook ʼn verband tussen kyk na algemene programme en gebrekkige vaardighede.”

Skakel die TV af wanneer die gesin saam eet

Kinders en tieners wat gereeld saam met die gesin eet geniet ʼn verskeidenheid voordele, soos byvoorbeeld beter fisieke en geestesgesondheid, beter skoolprestasie en minder gedragsprobleme. Maak tyd om saam met jou gesin aan tafel te sit vir julle aandete; dis die moeite werd. Om by die TV te sit en eet is die begin van ʼn slegte gewoonte en bevorder kinders se verslawing aan televisie.

Moenie nalaat om vir jou kind te lees nie

Begin vir jou kind lees met of selfs voor sy eerste verjaardag. Moedig ouer kinders aan om self te lees, maar moet nie ophou om vir hulle voor te lees nie.

Wees ʼn voorbeeld. Wys jou kinders jy geniet dit om te lees en laat hulle jou liewers sien lees as TV-kyk vir ontspanning.

Sommige ouers voel dalk hulle kan nie vir hulle kinders gelyke opvoedkundige ervaring gee as die televisie nie. Hulle is verkeerd. Kinders leer die heel beste by regte, teenwoordige mense, veral die belangrike mense in hulle lewe. Wanneer ouers met hulle kinders praat, dra hulle nie net tot taalontwikkeling by nie, maar leer ook vir hulle kinders dat hulle belangrik is en waardeer word. Boeklees en televisie afskakel fasiliteer hierdie positiewe gesinsinteraksies en verhoudingsbou.

Groete

Susan oor Skoolwessies

Vra vir Susan oor Skoolkwessies:

Is jy bekommerd oor jou kind se skoolprestasie? Stuur jou vrae aan [email protected] Probeer om soveel moontlik besonderhede te verskaf, sowel as jou kind se ouderdom en graad. Gebruik jou eie naam of ʼn skuilnaam as jy verkies om jou identiteit geheim te hou.

Meer oor Susan:

Susan du Plessis is ʼn opvoedkundekenner en gepubliseerde skrywer op die gebied van leerprobleme en disleksie, met meer as 25 jaar praktiese ondervinding. Sy het ʼn BA honneursgraad in sielkunde sowel as ʼn BD-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf, en die eerste Edublox Lees-, Wiskunde en Leerkliniek in 2007 geopen. Daar is tans 25 Edublox-klinieke in Suidelike Afrika. Besoek die Edublox-webtuiste met meer as 510 suksesverhale by www.edubloxsa.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.