Wenke van ‘Opgetof’ se mooimaakmeesters

Rinet Engelbrecht en Eugene Coetzee. (Foto: Willem Botha)

Die restauranttafel waar ons ontmoet, lê toe onder materiaalmonsters en een groot palmtak. “Kyk hoe gaan die muurpapier lyk!”

Hulle wys ʼn foto van Kobus Saayman wat as inspirasie vir ʼn kliënt se stemmingsbord gedien het. Die voël in die foto se vere, bors en vlerke lyk net soos die kleure van die lappe op die tafel.

Eugene Coetzee en Rinet Engelbrecht is binnenshuise ontwerpers met kennersoë. Hulle sien ʼn volledige prentjie in ʼn leë of verbeeldinglose spasie – en nou kan kykers weer saam met hulle plekke optof in die tweede seisoen van die opknapreeks Opgetof op VIA, DStv 147.

Om spasies mooi te maak vir die televisiekameras is ʼn verlenging van Eugene en Rinet se passies. Dit bly hulle uitlaatklep. Hulle realiteit van beplanning, ontwerp, moeilike en droomkliënte, begrotings, kontrakteurs, afkap en bou en stilering word alles op kamera vasgevang in Opgetof.

“Die beste deel van ons werk is die kliënte se gesigsuitdrukkings van blydskap, ongeloof en tevredenheid wanneer hulle die eindproduk sien,” sê Eugene. “Tydsbestuur en begrotings is die grootste uitdagings van ʼn projek,” laat hoor Rinet. En sleutelwoorde vir hulle is funksionaliteit, prag en egtheid.

Rinet is ʼn voorstander van funksionaliteit en vir Eugene is prag en praal die belangrikste elemente van die mooimaakproses, maar saam vloei hulle uiteenlopende smake ineen en vind hulle ʼn goue middeweg om aan die kliënt se behoeftes te voldoen.

Eugene se wegspringpunt met ʼn projek is kleur. “Kleur is ʼn direkte weerspieëling van ons persoonlikhede en dit beïnvloed ons gemoed,” meen hy. Rinet put weer inspirasie uit die natuur. “Daar is ʼn sekere ritme in die natuur – herhalende patrone soos die krake in modder, spirale in dennebolle of seeskulpe, oogvlekke op skoenlappers. Patrone gee harmonie en balans en ons visuele aanbieding is ook ritmies van aard.”

Volgens Rinet is die eerste vraag wat sy vir ʼn kliënt vra: “Hoe leef jy, hoe wil jy in die spasie voel?” Sy vind uit wat is die kliënt se voor- en afkeure. Het hulle kinders, het hulle diere, is daar ʼn speelsheid in die huis, is dit meer kunssinnig of is dit karakterloos?

Eugene Coetzee en Rinet Engelbrecht sien ʼn volledige prentjie in ʼn leë of verbeeldinglose spasie. (Foto: Facebook via Eugene Coetzee & Associates Interior Design Architecture Furniture)

“Ons as ontwerpers het ʼn uitgangspunt en visie, maar dit gaan oor die kliënt se behoeftes en waar die huis geleë is,” sê Eugene. “Ons luister, ons kyk, ons voel, ons visualiseer en dan blaas ons nuwe lewe in ʼn ruimte in.”

Hulle sê vertroue en kommunikasie speel ook ʼn baie belangrike rol in die sukses van elke projek. Die twee stem saam dat die badkamer een van die moeilikste vertrekke is om op te tof, juis omdat daar soveel logistiek en bouwerkbeperkinge rakende die beplanning daarvan is.

ʼn Paar badkameroptof-wenke wat Eugene egter vinnig kan deel, is: versier ʼn fokusmuur met ʼn nuwe spatsel verf of muurpapier en hang ʼn mooi spieël. “Mense moenie bang wees om iets nuuts te beproef nie. Waag ʼn bietjie, of bel my!”

“Nie almal het ʼn oog of ʼn aanvoeling vir wat werk in ʼn vertrek, en wat werk nie. Sekere dele kan aangeleer word, maar dit is ʼn talent van binne,” gesels Rinet. “Mense raak gewoond aan hulle dekor, aan hulle vertrekuitleg. Skuif jou meubels rond en voel vernuwe!”

En waar vernuwe hulle hul kragte? Rinet kry koers na ʼn kolletjie êrens in die Karoo, na Williston, waar menslikheid en gasvryheid tussen die ongerepte landskap lê. Eugene hunker na die see en hy gaan herlaai gewoonlik sy battery in die juweel van die Tuinroete, op Plettenbergbaai. “Die see praat met mens se siel,” sê hy. “Daar waar goue sonsondergange, vars seelug en natuurskoon daaglikse geskenke is … Dit is waar ek nuwe idees vir projekte kry.”

Slim mooimaakwenke 

  • Blaas nuwe asem in jou huis met verf en nuwe stofferings.
  • Verf bly een van die vinnigste maniere om ʼn vertrek nuut te laat lyk. Dit hoef ook nie die hele vertrek te wees nie. Verf die fokusmuur: die muur waarheen die oog eerste getrek word.
  • Kikker kombuiskaste op deur dit ʼn nuwe laag verf te gee en vervang die handvatsels.
  • Snuffel in antieke of tweedehandse winkels vir ou skatte en gehaltemeubels eerder as massavervaardigde produkte.
  • Strooikussings is ʼn nuttige bykomstigheid om ʼn sofa of stoel op te kikker en ʼn bietjie styl in te bring: speel dan met vorms, teksture en groottes.
  • Vervang ʼn ingeboude badkamerwasbak met ʼn mooi losstaande eenheid.
  • Rou materiale: gebruik elemente uit die natuur soos hout en klip.
  • Skuif jou meubels rond.
  • Gebruik huisplante vir ʼn vars voorkoms om jou leefruimte in ʼn heerlike groen oase te omskep. Plaas die plante in mooi potte om die skoonheid van die plante te beklemtoon.
  • Kies die regte beligting vir elke vertrek en onthou, dempskakelaars skep ʼn gesellige atmosfeer.
  • Breek bypassendheid met ʼn wispelturige, verrassende element in ʼn vertrek. 

Kyk Opgetof Donderdae om 18:00 op VIA, DStv 147.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

LB ·

Lieflike mense en ‘n lekker program om te kyk, ek is bly dit keer terug!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.