Wenner van ‘America’s Got Talent’ aangekondig  

Kodi Lee (heel links) saam met sy ma nadat hy as die wenner aangekondig is. Foto: AGT

Die 22-jarige Kodi Lee is Woensdagaand as vanjaar se wenner van America’s Got Talent aangekondig.

Lee is blind en het outisme en was van die begin van die 14de reeks een van die voorlopers. Hy het tydens sy oudisie die beoordelaars se monde behoorlik laat oophang met sy vertolking van Leon Russell se “A Song for You” wat ook die gehoor staande gehad het. (Kyk hier na Lee se oudisie).

Lee het stof in die oë van die nege ander finaliste geskop om met die prysgeld van $1 miljoen weg te stap.

Suid-Afrika se Ndlovu-jeugkoor kon nie daarin slaag om die vyf topfinaliste te haal nie. Die Detroit-jeugkoor het met die tweede plek weggestap, die komediant Ryan Niemiller was derde, die akrobatiese dansgroep V. Unbeatable was vierde en die Voices of Service-kwartet vyfde.

Die Ndlovu-jeugkoor van Limpopo. (Foto: Facebook)

“Ons reis op AGT het tot ʼn einde gekom, maar dit is slegs die begin,” het die koor op sy amptelike Twitter-rekening gesê. “Ons is so opgewonde oor wat voorlê en ons sien uit daarna om liefde, eenheid en bowenal hoop te deel.”

Die groep van 23 koorlede het tydens hul finale opvoering vroeër die week in helder geel uitrustings trots aan Afrika gebly, terwyl hulle hul weergawe van Toto se “Africa” opgevoer het. Hulle het die beoordelaars én die gehoor op hul voete gehad.

“Ek bid vir een ding op hierdie program: Dat dit mense se lewens kan verander, en ek dink julle optrede het dit dalk so pas gedoen,” het die hardebaard-beoordelaar Simon Cowell gesê.

Die Ndlovu-jeugkoor kom uit die Moutse-nedersetting in Limpopo en word deur Ralf Schmitt afgerig. Al die koorlede kom uit armoedige omstandighede en baie van hul ouers is oorlede, wat veroorsaak dat hulle self na hul sibbe moet omsien.

Die aankondiging van die wenner:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Saartjie ·

Absoluut trots op hierdie jong mense wat letterlik net om die draai van ons is! Baie geluk – julle was reeds wenners toe julle voete aan wal gesit het en julle het net bly skitter. Ek is seker as die opsie oop was vir Afrika om te stem, het die prentjie anders gelyk.
Al die ander finaliste was puik en die geleentheid is fantasties vir elkeen van hulle. Ndlovu Jeugkoor, julle het nou met julle eie oë gesien dat die wêreld jul oester kan wees. Mag elkeen van julle wat deel is van hierdie groep, die ervaring saamneem in jul toekoms en steeds hoop saai.

Antjie ·

Jammer vir ons koor, almal het gehoop hulle wen maar dit is Amerika… Moet sê Kodi is wonderlik talentvol en `n inspirasie vir miljoene

K ·

Die novelty is helemal verby nou. Bly Kodi het gewen, het dit deur en deur verdien!

Jacques ·

Baie mooi, Saartjie. Jammer die koor is nie meer verteenwoordigend van ons land se reenboognasie nie.
Of is dit net ons Afrikaners wat moet voorsiening maak vir algehele verteenwoordiging.
Dis eintlik jammer dat ons optrede en aksies altyd gemeet word aan politiek, maar ander kan maak, se en doen wat hul wil, sonder enige gevolge.

Aletta ·

Wat ‘n irriterende opmerking Jacques. In sekere gevalle soos dié, waar die koorlede sekerlik almal in dieselfde area bly en dieselfde lewensomstandighede het, is dit nie noodwendig moontlik om al die groepe in Suid-Afrika te verteenwoordig nie. Hoekom moet sommige mense altyd iets negatief te sê hê. Die koor was fantasties en dis al.

Heidi Lundie ·

Aletta as ons ‘n koor na enige plek stuur en dit is nie verteenwoordigend van ons land se mense nie, dus alle bevolkingsgroepe is daar groot moeilikheid as daar te veel “ligte vele” is. Wil jy my sê daar is nie een blanke persoon in Limpopo wat kon kwalifiseer nie? In elk geval geluk aan hulle dat hulle so ver gevorder het. Hulle het baie goed gevaar en ek dink nie dit was die koorlede wat bepaal het wie as lede toegelaat word nie.

Piet parys ·

My punt presies Jacques . Die wenner het dit verdien .

Nettie ·

Ag, Aletta, as jy so trots is op eensydige “transformasie”, waarom gaan blý jy dan nie maar sommer tussen die getransformeerde, tans-bevoordeelde, voorheen-benadeeldes daar in SOWETO nie? Wat Jacques sê, is dat as hulle SUID-AFRIKA verteenwoordig, dan moet daar wegbeweeg word van die 100% swart verteenwoordiging, want SA bestaan NIE NET UIT SWART MENSE NIE. Daar is die Kaapse Kleurlinge, Natalse Indiërs, Noord-Kaapse Boesmans en dan, natuurlik, die blankes – nasate van Hollandse, Engelse en Franse setlaars. Transformasie is juis DID: om van die een na die ander oor te skakel, nie om PRESIES dieselfde te doen as wat tot dusver gedoen is, ten koste van die een of ander individu of groep individue nie.

Spoiler alert ·

Wou graag dit self op tv gesien het. Dit nou sommer vir my gespoil.

Michelle ·

Kodi Lee het my hartsnare geroer, en wat ‘n ‘n wonderlike voorbeeld is hy nie vir ons almal nie. Dit wys wat kan gedoen word ten spyte van die feit dat hy blind en outisties is. Ndlovu Jeugkoor het Suid- Afrika se naam hoog gehou – hulle kan super trots wees op hulle besonderse prestasie.

Dr Phil ·

Ons moet onthou dat ras en armoede iets is waaroor die amerikaners al LANKAL is, dus soek hulle wenners wat ander meer dramatiese uitdagings oorkom het om daar deel te neem… Swart, arm en uit “Afrika” is nie meer genoeg vir die amerikaners wat moes stem nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.