Werklikheidsreeks help deelnemers om ‘Kopskuif’ te maak

Die drie kampioene (van links na regs) is Dewaldt Huysamen, Lisa Raleigh en Welmar Pienaar saam met die aanbieder Rozanne McKenzie (Foto: Verskaf)

Almal smag na die een of ander transformasie. Of dit nou is om gesonder, fikser of sterker te wees, of om meer stralend, energiek of veerkragtig te lewe.

Kopskuif, KeyHealth se nuwe werklikheidsprogram, is gelyktydig ’n reddingspoging en gesondheidsreis wat aan ses deelnemers die geleentheid van ’n leeftyd bied.

In die eerste seisoen neem Anske Geyser, Lulandi Purcell, Sarah Louw, Jan Hermanus, Sinead Morujao en Pieter de Beer beheer oor hul gesondheids- en leefstylkwessies. Dit verander hul lewe handomkeer.

Maar hulle gaan dit nie alleen doen nie. Drie kampioene, oftewel gesondheidskenners, wat elkeen passievol oor ’n spesifieke gesondheids- of dieetbenadering is, gaan hulle by die ses deelnemers en hul onderskeie gesondheidsprobleme en -doelwitte skaar.

Dink aan die vurige Banting-kampvegters, toegewyde keto-kenners en die veganisme-veterane. Dié kampioene is Dewaldt Huysamen, ook bekend as Die Keto-koning, Welmar Pienaar, oftewel Die Bloedbroer, en Lisa Raleigh, ook bekend as Die Meningsvormer. Hulle sal elk twee deelnemers kies en dan die 12 weke lange reis aanpak.

Huysamen se persoonlike reis na transformasie het gelei tot die ontwikkeling van sy eie program, Kick Fat Fast. Hy volg ’n keto-dieet gekombineer met onderbroke vasperiodes en meen dat die nodige leiding en mentorskap noodsaaklik is om jou doelwitte te bereik. Pienaar gebruik bloedontleding, wat deur middel van ’n vingerprik bekom word, om te sien wat alles in jou liggaam aan die gang is. Hy fokus spesifiek op die spysverteringskanaal en is gewoond daaraan om trae tienies in rat te kry. Raleigh is ’n gekwalifiseerde persoonlike, voedings- en lewensafrigter. Sy is ook ’n ywerige kos-blogger wat baie aktief aanlyn is. Haar grootste uitdaging gaan wees om ons deelnemers meer aktief te kry.

Rozanne McKenzie (Foto: Verskaf)

Kopskuif word deur Rozanne McKenzie, wat self gesondheids- en welstandbehep is, aangebied. Sy hou deurgaans die deelnemers fyn dop en gesels ná afloop van die weeklikse assesserings met verskeie gesondheids- en mediese kenners. Intussen sorg die gesondheidskampioene dat deelnemers doelgerig bly en nie deur allerlei ongesonde afleidings om die bos gelei word nie.

KeyHealth is vasbeslote om antwoorde op vrae oor oefen- en eetplanne te bied.

“Ons het dit op ons skouers geneem om die uiters aktuele debat rakende oefen- en eetplanne, en watter die beste vir optimale gesondheid is, te ondersoek,” sê Barry Kruger, uitvoerende hoof van KeyHealth Mediese Skema.

Kruger meen daar is soveel teenstrydige raad daarbuite dat die meeste mense totaal verward is oor wat om te eet en hoe om te beweeg. Daarom het hulle besluit om ’n program te borg wat duidelikheid en verstandigheid tot die debat sal bydra.

“Dit sal elke deelnemer se lewe verander en sodoende ons KeyHealth-lede en kykers help om beter en gesonder lewens te lei,” sê Kruger.

Gesondheidskenners help deelnemers om hul welstandsdoelwitte deur middel van gereelde mediese besoeke, nuwe eetplanne, oefenroetines en lewensafrigting te bereik. Daar sal natuurlik versoekings langs die pad wees om hulle van stryk te bring en aan die einde kan daar net een wenner wees.

Wie gaan volhard en wie gaan tou opgooi?

Ná ’n omvattende oudisieproses, waar potensiële deelnemers gevra is om hul verhale te vertel en hul drome te deel, is ’n wonderlike groep deelnemers deur die KeyHealth-span gekies.

Anske Geyser (Foto: Verskaf)

Die 26-jarige Geyser is ’n kampterreinbestuurder op ’n wildplaas in Dinokeng. Haar doel is om ’n beter rolmodel vir haar eenjarige seuntjie te wees. Geyser se eetgewoontes op die wildplaas is meestal rys, vleis en aartappels, en die gevolg van dié dieet is ’n gewigtige saak. Sy ly aan spanning, slaap sleg, en wil ook graag gewig verloor. Geyser is vasbeslote om gesonder kosopsies in die kombuis en op die kamptafels aan te bied.

Purcell is ’n 34-jarige kankeroorwinnaar van Pretoria. Haar man het ’n beroerteaanval gehad en sy het ’n pasaangeër. Purcell is vasberade om haar chroniese medisyne af te skaal, gewig te verloor en meer aktief deel van haar tienerseuns se lewe te wees.

Louw, ’n LLB-student van Pretoria, meen sy is regtig getroud met rugby. Louw is ’n nuwe ma wat 37 kg tydens haar swangerskap bygekry het. Sy sukkel sedert haar dogtertjie se geboorte in Februarie om die ekstra gewig af te skud. Louw se motivering skiet tekort en haar man se maagspiere laat haar moed in haar skoene sak. Sy hoop dat haar gesondheidskampioen die sweep sal klap sodat sy voor die somervakansie weer in ’n bikini kan verskyn.

Jan Hermanus (Foto: Verskaf)

Stresvolle werksomstandighede het sy gewigsprobleme veroorsaak, meen Hermanus, ’n 56-jarige metropolisielid wat gelukkig getroud is en reeds drie volwasse kinders het. Hy is desperaat om 40 tot 50 kg te verloor én om sy diabetesmedikasie te staak. Hermanus se grootste probleem is ’n swak plek vir wegneemetes en veral die feit dat hy vis en skyfies as sy sielsuster beskou. Op ’n ernstiger noot is Hermanus daarvan oortuig dat hy ’n drastiese verandering moet maak as hy teen die einde van die jaar nog wil leef.

Die 22-jarige Morujao is op 14 jaar met veelvuldige sklerose (VS) gediagnoseer. Sedertdien het verpligte kortisoonbehandelings tot gewigstoename gelei. Haar galblaas is ook verwyder en daarom kan Morujao se liggaam nie vetterige kosse verteer nie. Die versoekings is egter oral – met haar Portugese familie se voorliefde vir kos is daar nooit ’n tekort aan allerlei gebak en nageregte nie. Sy sukkel om gemotiveerd te bly, maar wil graag so gesond moontlik leef sodat sy kan voortgaan om haar toestand na die beste van haar vermoë te bestuur. Morujao wil graag haar toekoms as ’n plaaslike au pair nastreef.

De Beer, ’n 47-jarige aanbiddingsleier, wil gemaklik voel voor die webkamera tydens sy aanbiddingsuitsendings. Hy is die kok by die huis en hou van vinnige en maklike pastas en pizzas, maar dít help hom nie juis om sy gewig in toom te hou nie. Boonop sukkel De Beer met hoë bloeddruk. Ná tallose diëte sonder resultate is hy dié keer oortuig om 20 kg op ’n meer volhoubare manier te verloor.

Een aanbieder, drie kampioene en ses deelnemers gaan saam op ’n ontdekkingstog om die harte te laat pomp en die maagspiere te laat span. Danksy KeyHealth se vasberadenheid om gesonde leefstylgewoontes te beklemtoon, het die dapper deelnemers alles om te “verloor” en nóg meer om by te baat.

Kopskuif word vanaf 9 September op Woensdae om 18:30 op VIA, DStv-kanaal 147, uitgesaai. Die herhalings wys vanaf 17 September op Donderdae om 22:30 en van 3 Oktober af om 09:30. Volg ook hierdie boeiende gesondheidsreis op Facebook, Instagram en YouTube.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.