Wie sal wegstap met ‘Die Kontrak’?

Die Kontrak se aanbieders Karlien en Bobby van Jaarsveld (Foto: Verskaf)

VIA en Coleske Artists se splinternuwe TV-reeks, Die Kontrak, waarin die volgende groot Afrikaanse kunstenaar gekroon sal word, begin dié maand op die Afrikaanse leefstylkanaal.

Die Kontrak begin amptelik op 19 September en die broer-en-suster-duo Bobby en Karlien van Jaarsveld is die aanbieders.

Die reeks se agt aspirant-musieksterre wat ná ’n landwye aanlyn veldtog uit bykans 2 000 sangers gekies is, sal deur die mentors Elvis Blue, Tarryn Lamb, Monique Steyn en Dewald Wasserfall gebrei word vir die strawwe uitklopkonserte wat hulle week ná week moet aandurf.

’n Kennerspaneel wat bestaan uit die sangers Theuns Jordaan en Corlea Botha asook Barry Pretorius, die regisseur van die Afrikaans is Groot-megakonserte, sal weekliks hul sê sê oor die deelnemers se optredes.

Dit is egter Coleske Artists se grootbaas, Arnold Coleske, wat moet besluit of ’n deelnemer sy of haar kontrak kwyt is of ’n tree nader aan die Afrikaans is Groot-verhoog is waar die wenner van Die Kontrak uiteindelik gekroon sal word.

Die wenner sal op 23 November tydens Afrikaans is Groot 2018 by die Sun Arena in Pretoria aangekondig word en ’n kontrak ter waarde van R1 miljoen met Coleske Artists losslaan.

Die Kontrak sal elke Woensdag om 20:00 uitgesaai word met heruitsendings op Sondae om 18:00, op VIA, DStv-kanaal 147.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.