Wie’s wie in Deon Meyer se nuwe ‘Trackers’

“Trackers” (Foto: Showmax)

Die politieke riller “Trackers”, gebaseer op een van Deon Meyer se gewildste boeke (Spoor in Afrikaans), is nou ʼn televisiereeks. En dit beloof om ʼn wilde rit te wees!

Politieke intrige, smokkelaars, sluipmoordenaars, romanse … “Trackers” het dit alles en boonop ʼn uitstekende rolverdeling met die ervaring van ʼn internasionale produksie- en verspreidingspan.

Die eerste twee episodes word op 27 Oktober op M-Net uitgesaai en sal ook op DStv Now en Showmax beskikbaar wees.

“Trackers” vertel die verhaal van ʼn diverse groep mense wie se lewens kruis wanneer hulle by aardskuddende gebeure betrokke raak. Lemmer, ʼn voormalige lid van die spesiale magte, raak betrokke by die verplasing van twee swartrenosters, maar beland in ʼn lokval.

Die voormalige huisvrou, Milla Strachan, begin ʼn junior pos as ʼn joernalis en kom van aangesig tot aangesig te staan teen misdaad en terreur.

Matt Joubert, ʼn voormalige polisiebeampte wat nou ʼn privaat speurder is, probeer om die vermiste Danie Flint op te spoor, ʼn busroetebeplanner wat verdwyn het.

Hoe en waarom is dié mense se lewens met mekaar verbind? Jy sal maar die reeks moet kyk om uit te vind!

Dit gaan groot wees

Dit is waarskynlik een van die grootste plaaslike M-Net-produksies en is vervaardig in samewerking met die Duitse openbare uitsaaier ZDF, Cinemax (wat die reeks wêreldwyd sal versprei) en HBO.

Meeste Suid-Afrikaners weet Deon Meyer is een van ons gewildste outeurs. Sy boeke is al in meer as 20 tale vertaal en miljoene eksemplare is wêreldwyd verkoop. Hy het nie net die boek geskryf waarop die reeks gebaseer is nie, hy was ook betrokke by die draaiboek en is medevervaardiger.

Die rolverdeling sluit plaaslike en internasionale akteurs in, soos Ed Stoppard, Rolanda Marais, James Alexander en Thapelo Mokoena. Deon Meyer is veral tevrede met die rolverdeling. “Dis nou vir my moeilik om aan die karakters te dink sonder om die gesigte van die talent te sien. Dís hoe oortuigend hulle in hul rol is.”

Hy sê die plekke wat gekies is om die tonele te verfilm beeld die skoonheid en verskeidenheid uit van landskappe in Suid-Afrika. “Ek is baie trots daarop dat ons vir die res van die wêreld gaan wys hoe mooi hierdie land is.”

Ontmoet die karakters

Milla Strachan 

Milla Strachan (vertolk deur Rolanda Marais) (Foto: Showmax)

Ná jarelange mishandeling, verlaat die 40-jarige Milla uiteindelik haar man, haatdraende seun en ʼn lewe van luukse, maar sy sukkel om werk te kry in ʼn arbeidsmark wat veranderinge ondergaan het. Sy moet uiteindelik ʼn junior joernalispos aanvaar by ʼn staatsagentskap. Vertolking deur Rolanda Marais (Binnelanders, Wolwedans in die Skemer).

Lemmer 

Lemmer (vertolk deur James Gracie) (Foto: Showmax)

Lemmer is ʼn voormalige lid van die spesiale magte en ministeriële lyfwag wat sy werk verloor het ná ʼn mislukte intelligensie-operasie. Hy bly nou in die klein Karoodorpie Loxton en is besig om ʼn ou huis op te knap en probeer om sy woede onder beheer te bring. Vertolk deur James Gracie (Siberia, Madiba and The Gamechangers).

Janina Mentz 

Janina Mentz (vertolk deur Sandi Schultz) (Foto: Showmax)

As direkteur van die presidensiële buro van intelligensie (PBI) beskou Janina haar werk, om die mense van Suid-Afrika te beskerm, in ʼn baie ernstige lig. Sy het ʼn belangrike rol gespeel in die land se vryheidstryd en is sterk gekant teen korrupsie en enigiemand wat die land se onafhanklikheid wil ondermyn. Vertolk deur Sandi Schultz (Hotel, Binnelanders).

Quinn Makebe 

Quinn Makebe (vertolk deur Thapelo Mokoena) (Foto: Showmax)

Quinn is hoof van bedrywighede by die PBI. Hy is tweede in bevel naas Janina en het haar pos in sy visier, alhoewel hulle goed saamwerk. Hy’s slim, goed opgelei en ambisieus en Janina trek soms sy bedoelings in twyfel. Vertolk deur Thapelo Mokoena (Wild at Heart, Long Walk to Freedom).

Wanneer en hoe om “Trackers” te kyk

Die reeks van ses episode se première word op 27 Oktober om 20:00 op M-Net (kanaal 101) uitgesaai (dieselfde tyd as die gereelde Sondagaandfliek). Die fliek sal direk ná die reeks volg.

As jy ʼn episode van “Trackers” misloop, kan jy dit op Catch Up kyk of aanlyn by DStv Now »

Kyk die hele reeks van die begin op Showmax.

Om meer oor “Trackers” te wete te kom, besoek die M-Net-tuisblad.

Só kry jy DStv Now

DStv-intekenaars kan vir DStv Now inteken teen geen ekstra koste nie. Besoek now.dstv.com om te registreer en aanlyn te stroom.

Só kry jy Showmax

Teken in vir ʼn 14 dae gratis proeflopie by Showmax.com. Daarna kan jy ʼn rits plaaslike en internasionale reekse, flieks en dokumentêre kyk teen slegs R99 per maand.

DStv Premium-intekenaars kan verniet inteken op Showmax – besoek bloot die webwerf om in te teken. DStv Compact en Compact Plus-intekenaars kry Showmax vir slegs R49 per maand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.