‘Will and Grace’-aktrise sterf

Shelley Morrison. (Foto: Facebook/Sean Hayes)

Shelley Morrison. (Foto: Facebook/Sean Hayes)

Shelley Morrison, die Amerikaanse aktrise wat veral bekend was vir haar rol as Rosario Salazar in die gewilde komediereeks Will and Grace, is Sondag in Los Angeles oorlede.

Sy was 83 jaar oud. Volgens The New York Times is Morrison aan hartversaking dood. Haar man, Walter Dominguez, het ʼn verklaring ná haar afsterwe uitgereik.

Morrison se rol as Karen Walker, vertolk deur Megan Mullally, se skreeusnaakse huishulp het haar ʼn gunsteling onder kykers gemaak. “Shelley se grootste trots as aktrise was om die ontembare Rosario te vertolk in ʼn komediereeks wat die kwessie van sosiale gelykheid en regverdigheid vir die LGBTQ-gemeenskap,” het Dominguez oor dié uitskieterrol in Morrison se loopbaan van 64 jaar gesê.

“Sy was ook trots daarop om ʼn sterk, liefdevolle dog vurige Latynse karakter te speel. Sy het geglo die beste manier om mense se harte en denke te verander, was deur komedie.”

Morrison en Hayes in 'n toneel uit Will and Grace. (Foto: Facebook/Will and Grace)

Morrison en Hayes in ‘n toneel uit Will and Grace. (Foto: Facebook/Will and Grace)

Sean Hayes, die akteur wat die rol van Jack McFarlane vertolk in Will and Grace, het op Facebook hulde aan Morrison gebring.

“Baie hartseer nuus. Ons geliefde Shelley Morrison is vandag oorlede. Sy was absoluut skreeusnaaks en het die grootste hart gehad. Sy was deel van ons Will and Grace-familie en sal gemis word. My hart gaan uit na haar en haar hele familie,” het Hayes geskryf.

Morrison was die dogter van Spaanse immigrante en is in die Bronx in New York gebore en getoë. Sy laat haar man en ses aangenome kinders agter. Morrison het vir 69 jaar in dieselfde woonstelblok in Los Angeles gewoon nadat sy haar ouers, wat ook daar gewoon het, belowe het dat sy altyd na die woonstel sal omsien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.