Woordfees bring hulde aan Theuns Jordaan

Theuns Jordaan (Foto: Theuns JordaanFacebook)

Feesgangers en ondersteuners van die Toyota US Woordfees is in vir ʼn ding met nie net een nie, maar twee feesgeleenthede wat vanjaar op hulle wag.

“Hierdie jaar fees ons op ʼn kleiner skaal, maar met nuwe vuur en op twee verskillende platforms – aanlyn op DStv en en GOtv in Namibië, asook in Stellenbosch,” sê Saartjie Botha, direkteur van die Woordfees.

Die eerste aanbieding vind van 15 tot 28 Julie aanlyn plaas en dit beteken dat gehore nie die winterkoue hoef te trotseer om vermaak uit die boonste rakke te beleef nie. In Oktober word die kunstefees ook in Stellenbosch aangebied ná ʼn twee jaar onderbreking.

Só lyk 2022-TV-feesaanbod

Vanjaar word Woordfees TV vir ʼn tweede keer op DStv aangebied. Die feesprogram is saamgestel uit herhalings van die gewildste TV-feesaanbiedings van 2021, wat buite spitskyktye uitgesaai word, en nuwe programme wat spesiaal vir die 2022 TV-fees vervaardig is. Dit sal ook op DStv Catch Up beskikbaar wees.

Gehore kan uitsien na ʼn wye verskeidenheid vermaak op vanjaar se fees-TV-aanbod.

Die Easy Equity Skrywersfees bied 18 nuwe boekgesprekke oor onder meer Dol heuning deur SJ Naude, Mynhardt se kombuis deur Mynhardt Joubert, 1 Recce – die manne agter die mite deur Alexander Strachan en Digtersparadays, ʼn gesprek oor poësie met Kabous Meiring as aanbieder.

Op die toneelfront kan kykers uitsien na Die naaimasjien met Sandra Prinsloo. Heruitsendings sluit in Reza de Wet se Mis en Krismis van Map Jacobs met Dann-Jacques Mouton, Elton Landrew, Ilse Klink en June van Merch.

André Schwartz en Amanda Strydom is te sien in die produksie ‘Brel/Piaf’. (Foto: Verskaf)

ʼn Hoogtepunt op die kontemporêre musiekprogram is Saluut, Theuns Jordaan waarin kunstenaars soos Anton Goosen, Bok van Blerk, Karen Zoid en Tarryn Lamb hulde aan Jordaan bring.

Ander nuwe kontemporêre musiekproduksies waarvoor gehore kan uitkyk is Brel/Piaf met André Schwartz en Amanda Strydom en Boeremusiek & Mirror Balls met Rocco de Villiers. Op aanvraag van die publiek word die Stellenbosch Universiteitskoor se produksie en Zorada Temmingh se orreluitvoering vanjaar weer uitgesaai.

Woordfees TV bied ook ʼn verskeidenheid dansproduksies, leefstylprogramme, ʼn komedie- en rolprentfees, asook talle diskoers- en landbougesprekke aan.

In samewerking met die Woorde Open Wêrelde (WOW)-projek, sal die feesprogram ook opvoedkundige elemente en ʼn spelfeeskompetisie bevat. Alle narratiewe inhoud en gesprekke wat aanlyn aangebied word, het onderskrifte in Engelse.

Woordfees raak ‘wild’

Dié jaar se feestema is “Wild”, en Botha meen dit is ʼn speelse konsep wat haar “bruisend entoesiasties maak”.

“Wild is wat jy raak wanneer jy niks meer het om te verloor of weg te steek nie; wanneer jy wil losbreek van vrees en voorbehoud. Dit is soms presies wat nodig is om jou lewe te herower en nuwe moed en asem te skep.”

Wild is outentiek en noodsaaklik vir daardie soort uitdagende kuns wat nuwe deure in die kop oopmaak. Botha sê verder: “Niks is wilder en meer bevrydend as die verbeelding nie en in die afgelope twee jaar is kreatiewe energie opgegaar wat nou ʼn uitlaatklep soek.”

Die Woordfees het verlede jaar die eerste Suid-Afrikaanse kunstefees geword wat op televisie aangebied is. Dit was in die formaat van ʼn opwipkanaal wat van 1 tot 10 Oktober 2021 op DStv uitgesaai is.

Sandra Prinsloo is by vanjaar se Toyota US Woordfees te sien in ‘Die naaimasjien’. (Foto: Verskaf)

Na dié suksesvolle aanbieding het MultiChoice besluit om vanjaar weer ʼn kanaal beskikbaar te stel en dié keer vir ʼn tydperk van 14 dae. Verlede jaar se TV-fees is aanvanklik vir sewe dae beplan, maar is op aanvraag met ʼn naweek verleng.

Gideon Khobane, MultiChoice-groephoof van algemene vermaak, sê die kanaal is trots daarop om weer met Woordfees TV assosieer te word. Die kanaal maak dit nie net moontlik om relevante vermaak aan kykers te verskaf nie, maar dit is ook belyn met MultiChoice se verbintenis tot die ondersteuning van en die uitbou van plaaslike inhoud.

“Deur ons Afrikaanse kykers toegang tot die Woordfees-opwipkanaal te gee, ondersteun ons die kunste, kultuur, vermaak en letterkunde deur die gehoor van hierdie reeds gewilde fees verder te verbreed,” sê Khobane.

Volgens ʼn verklaring deur die Woordfees was die opwipfees in 2021 slegs op die Premium- en Compact Plus-pakkette beskikbaar, maar vanjaar sal intekenaars met ʼn Compact- of Family-pakket ook toegang tot Woordfees TV hê.

Mense wat nog nie ʼn DStv-intekenaar is nie en graag na die feesproduksies wil kyk, kan vir ʼn maand op DStv se stroomdiens inteken.

In Namibië sal die kanaal wel aan Compact-intekenaars beskikbaar wees, maar nie op die Family-pakket nie. Woordfees TV sal daarbenewens in Namibië op GOtv-kanaal 27 uitgesaai word, waartoe sowel Max- en Supa-intekenaars toegang sal hê.

Die Toyota US Woordfees TV 2022 word vanaf 15 tot 28 Julie op DStv-kanaal 150 aangebied. Besoek die Woordfees se webwerf vir die volledige program en om meer oor die kyk-opsies te wete te kom, of hou die Woordfees se sosialemediaplatforms dop vir meer inligting oor die TV-fees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit van Vrydagaand om 19:30 tot Maandagoggend om 06:00. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.