Wysneuse gesoek vir ‘Kyk wie praat’

De Klerk Oelofse is die aanbieder van ‘Kyk wie praat’.

Die gewilde Afrikaanse speletjiesprogram Kyk wie praat is op soek na bekkige kinders wat saam met aanbieder De Klerk Oelofse weer sal sorg vir hope vermaak in die tweede seisoen wat later vanjaar op kykNET te sien sal wees.

Oelofse, wat ook bekend is vir sy rolle in kykNET-reekse soos Hotel, Boekklub en Nêrens, Noord-Kaap, was ook die aanbieder van die eerste reeks wat verlede jaar uitgesaai is.

Kyk wie praat is op die Britse reeks, Small talk, gegrond en het verlede jaar sy debuut op Afrikaanse televisie gemaak.

In dié speletjiesprogram word ʼn groep kinders tussen die ouderdomme van ses en nege ʼn klomp vrae gevra, en deelnemers moet raai wat hulle antwoorde is.

Vier volwasse deelnemers moet dan raai wat dié wysneuse se antwoorde op die vrae was en word dan ronde per ronde uitgeskakel tot net een oorbly.

Klink maklik, nè? Moenie glo nie! Die vorige seisoen het immers gewys hoe ʼn kind dink dikwels onvoorspelbaar is. In elke episode is ʼn kontantprys op die spel, terwyl daar ook ʼn boerpotprys vir die hele reeks is.

Hoe skryf jy in?

Kinders wat ʼn sitplek in die Kyk wie praat-klas wil hê, kan nou inskryf deur ʼn kort video van maksimum twee minute te maak. Vir dié video moet kinders die volgende vrae beantwoord:

  • Wat is jou naam?
  • Hoe oud is jy?
  • Hoekom is dit belangrik om reëls te hê?
  • Wat is ʼn rolmodel volgens jou?
  • Wat is jou gunstelingaktiwiteite om ná skool te doen?

Antwoorde moet spontaan wees en nie vooraf geoefen word nie. Stuur jou video teen 2 Mei per WhatsApp na 079 639 3028.

Kyk dié video om te sien hoe jou inskrywing moet lyk dat Oom De Klerk daarna kan kyk – en dalk, net dalk, is jy deel van die Kyk wie praat-klas van seisoen 2:

Besoek kykNET se webwerf vir meer inligting oor die reëls en hoe om in te skryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.