Die 21ste jaarlikse Aardklop Nasionale Kunstefees het Dinsdag in volle swang begin en feesgangers is vanjaar behoorlik oorgehaal om seker te maak hulle fees hulle plek vol.
Die fees spog weer met ʼn propvol feesprogram en feesgangers kan na hartelus uit die hoogste gehalte teaterproduksies, musiekvertonings en stalletjies kies.
Die gewilde kunstenaar Nataniël maak weer vir die eerste keer in jare ʼn draai by dié kunstefees met sy vertoning Classic Nataniël. In dié produksie kombineer hy musiek waarvan hy hou met sy kenmerkende stories. Saam met ʼn ensemble van agt musikante beloof dit ʼn unieke musikale extravaganza.
Die sogenaamde “So, jy dink jy kan produksiebestuur?”-werksessies het ook afgeskop in die NWU-Cachet-teater, waar toonaangewende en ervare teatermakers deel vorm van ʼn paneel aanbieders – onder wie Alexa Strachan, feesbestuurder van Aardklop; Saartjie Botha, feesbestuurder van die US-Woordfees; Hugo Theart, waarnemende uitvoerende hoof van die KKNK-fees en Suzaan Keyter, publisiteitsbestuurder by kykNET.
Gesprekke in 2016 dat dié fees met onmiddellike effek gestaak sou word, het skokgolwe deur die kunstefeesgemeenskap gestuur. Dit was egter ʼn groep “Aardklop-belanghebbendes” wat verseker het dat dié fees voortleef en die fees is nou weer ʼn dawerende sukses.
Aardklop is in Februarie vanjaar vereer met die Fiësta-toekenning vir gewildste kunstefees in die land en dié fees is nou weer terug waar hy hoort: op sy voetstuk as die gewildste in die land. “Dit is nie sleg vir ’n fees waarvan die deure twee jaar terug toegemaak is nie. In só ʼn kort tydperk is die fees, van niks af, opgebou tot die gewildste fees in die land,” het Strachan vroeër aan Maroela Media gesê.
“Ons wil graag elke Potchefstromer bedank vir hul gasvryheid en die merkwaardige rol wat hulle in die sukses van die fees speel. Aardklop hoort op die Bult, in die hartjie van Potchefstroom, maar ons kan nie alleen die rooi tapyt vir duisende feesgangers uitrol nie, dit doen die Potchefstromers saam met ons.”
Kaartjies vir alle Aardklop-vertonings is beskikbaar by Ticketpro. Besoek die Aardklop-webwerf hier.
Geoordeel wat gisteraand op tv vertoon is,is dit maar n politieke korrekte geleentheid.