[Video] Bestes in Afrikaans vereer by Fiëstas

Fiëstas-2016-Antoinette-Louw-Milan-Murray-en-Cintaine-Schutte

Antoinette Louw, Milan Murray en Cintaine Schutte. Foto: Maroela Media.

Die Fiësta-toekennings, wat sedert 2011 die beste Afrikaanse kunstenaars en produksies vereer, is Donderdag tydens ʼn spoggerige geleentheid op ʼn blou tapyt by die Staatsteater in Pretoria gehou.

Dié geleentheid was ʼn trekpleister vir van Suid-Afrika se grootste name, met die tema “Beleef jou wêreld in Afrikaans”.

Hoewel verskeie bekendes soos Lida Botha, Amanda Strydom en Tinarie van Wyk-Loots met dié goue beeldjie huis toe gegaan het, het die aktrise Nicola Hannekom byna skoonskip gemaak met drie toekennings. Sy het ook altesaam vyf toekennings vir haar produksie In Glas ingepalm.

“Dis altyd ʼn waagstuk, veral as jy met ʼn nuwe teks werk. Maar ek is ongelooflik geëerd, veral omdat sulke goeie werke benoem is. Ek is ongelooflik dankbaar,” het Nicola by die geleentheid gesê.

Die dramaturg, Pieter Fourie, het ook vertel dis belangrik om plat op die aarde te bly wanneer jy met kuns werk. Hy is vereer met ʼn lewenslange bydra vir Skryfkuns.

“Jy moet na aan die grond lewe, jou ore oophou en luister hoe mense praat, nie hoe mense boeke skryf nie, veral in drama. Die toekenning is wonderlik en bevredigend. Dit voel asof alles die moeite werd was,” het Fourie gesê.

Lida Botha en haar man, Johan, het na dekades van die getroude lewe steeds dolgelukkig gelyk. Lida is vereer vir haar lewenslange bydra tot teater.  “My passie vir teater het reeds op skool begin – dit was sestig jaar gelede. Ek is ongelooflik gelukkig om dié toekenning te ontvang, veral as jy weet dis jou lewenspad en jou werk,” het Lida gesê.

Haar man, wat haar heelaand ondersteun het, kon byna nie ophou glimlag nie. “Ek is die outjie wat maar die beeldjies dra. Maar ek regtig trots op haar,” het Johan geskerts.

Die verhoogikoon, Amanda Strydom, het ook et ʼn goue beeldjie huis toe gegaan. “Ek dink al my konserte is rou en eerlik. Dit is die enigste manier wat ek ken om te kommunikeer met mense. Ek voel behoorlik soos liewe Jesus se witbroodjie oor die toekenning,” het Amanda vertel.

Kyk hier na die volledige lys van wenners:

Beste akteur

Stian Bam vir In Glas (KKNK)

Beste aktrise

Tinarie van Wyk-Loots vir Hemelruim en In Glas (Aardklop en KKNK)

Beste manlike byspeler

Dean Smith vir Die Dag is Bros (Innibos)

Beste vroulike byspeler

Greta Pietersen vir Son. Maan. Sterre. (Woordfees)

Beste regie

Nicola Hanekom vir In Glas (KKNK)

Beste teaterontwerp

Nico Scheepers vir Amper, Vrystaat en Die Dag is Bros (Vrystaat en Innibos)

Beste prestasie in ʼn musiekgedrewe produksie

Amanda Strydom vir Amanda Strydom: Die Hele Boksemdaais (KKNK)

Beste spel in ʼn solo-vertoning

Marlo Minnaar vir Santa Gamka (KKNK)

Beste nuutgeskepte Afrikaanse produksie

Nicola Hanekom vir In Glas (KKNK)

Beste prestasie in klassieke musiek

US-koor onder leiding van André van der Merwe  (Woordfees)

Beste prestasie in visuele kuns

Nathani Lüneburg vir As die Vlooie Byt in La La Land (KKNK)

Beste musiekgedrewe produksie

Al Lê die Berge Nog So Blou (KKNK)

Beste aanbieding

In Glas (KKNK)

Blou Stoel-toekenning

Askoop (KKNK)

Gewildste fees

Innibos

Lewenslangde bydraes

Lida Botha (teater)

Ronnie Samaai (musiek)

Pieter Fourie (skryfkuns)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Samuel ·

Dit was die verveligste Sub A konsert ooit!! Het die wat daar was betaal om te gaan hoor wat aangaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.