Video: ‘Uit die bloute’ vermaak én ontroer op die planke

 Paul-du-Toit-en-Jenna-Dunster-2.jpg

Paul du Doit en Jenna Dunster (foto verskaf)

Ná twee dekades is Uit die bloute van Eugène Marais weer op die planke. Maroela Media se Eugene Lottering beskryf die produksie soos volg: “’n Uitstekende kombinasie van nostalgie, trane en ʼn breë glimlag. Die produksie het oud en jonk se aandag tot op die laaste minuut gehou met spanning en komedie. ʼn Uitstekende en kreatiewe uitbeelding van die era waarin Afrikaans gebore is.”

Die Fiësta-wenner, Paul du Toit, en Jenna Dunster vertolk die hoofrolle in dié produksie waarin twee kortverhale van Eugène Marais verbeeldingryk gestalte op die verhoog kry: “Die Lied van die Reën” vertel die storie van die soeke na water en in die tweede storie, “Salas Y Gomez”, word ’n jong boer vir maande vasgekeer op ’n rotslys en hy moet al sy kragte inspan om fisiek en emosioneel te oorleef.

Die musiek vir Uit die bloute is gekomponeer deur die bekroonde musikant en ATKV Crescendo-wenner, Lizanne Barnard.  Sy het elf van Marais se gedigte getoonset. Dit is ’n vermenging van Afrika-klanke wat met moderne elemente verwerk is. Sy word bygestaan deur die veteraan-musikante Jahn Beukes, Leon Ecroignard en die jong Pyjama Shark.

 Paul-du-Toit-en-Jenna-Dunster-1.jpg

Paul du Toit en Jenna Dunster (foto verskaf)

Met die kombinasie van woord en musiek kry die verhoog lewe en word die plaaswerf, die berge en die diepste emosies van die karakters ingekleur.

Soos Lottering beskryf: “Dit was ʼn fees om dié musikale produksie te sien wat die hele teater aan die einde op hulle voete gehad het!” Dit is ’n onvergeetlike ervaring in Afrikaanse musiekteater wat tegelyk vermaak en ontroer.

Uit die Bloute kan op die volgende dae gesien word by Aardklop se kykNET Gimmies-saal:

  • 2 Oktober om 20:00
  • 3 Oktober om 09:30
  • 4 Oktober om 16:30
  • 5 Oktober om 13:00
  • 6 Oktober om 09:30

Aardklop vind vanaf 1 tot 6 Oktober plaas.  Vir meer inligting besoek gerus hul webtuiste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.