$0-fliek is toe lokettreffer

Christian Nilsson en Eric Tabach (Foto: Skermgreep uit Eric Tabach-video)

ʼn Fliek wat binne een dag geskryf is, oor vier dae verfilm is en niks gekos het om te vervaardig nie, was vandeesmaand heel bo-aan die lokettrefferlys in Amerika.

Eric Tabach, ʼn akteur en YouTube-ster, sê dit sou onder geen ander omstandighede moontlik gewees het as buiten die Covid-19-afsonderingsperiode nie.

Tabach verduidelik sy grootste droom is om roem te behaal as ʼn akteur, en hy het besef hy sal in ʼn lokettreffer moet verskyn. Tydens die afsonderingsperiode in die VSA het hy besef daar is ʼn skuiwergat: as hy ʼn fliekteater bespreek, kan hy herhaaldelik ʼn enkele fliek vertoon, self al die kaartjies koop en seker maak die fliek lyk soos ʼn lokettreffer. Omdat al die geld vir die fliekkaartjies ook weer aan hom terugbetaal word, het hy nie ʼn enkele sent uitgegee om die fliek te vervaardig en te vertoon nie.

Met sy idee het hy by sy filmmaker-vriend, Christian Nilsson, aangeklop. Die twee het die 29 minuut lange gruwelfliek, Unsubscribe, in Mei vervaardig. Al die akteurs (nog YouTube-sterre) het oor Zoom deelgeneem en hulle het dus glad nie die reëls vir sosiale distansiëring oortree nie.

Christian Nilsson en Eric Tabach (Foto: Skermgreep uit Eric Tabach-video)

Die fliek is binne drie weke geredigeer en dit het dus slegs ʼn maand lank geneem om die fliek te vervaardig. Die draaiboek handel oor vyf YouTubers wat by ʼn aanlyn oproep aansluit en dan besef hulle word deur ʼn geheimsinnige internettrol agtervolg en gejag.

“In enige ander klimaat sou dit onmoontlik wees,” verduidelik Nilsson. Twee ander YouTubers, Thomas Brag en Zach Kornfeld was ook deel van die fliek, asook Charlie Tahan van Ozark. Dit was glo nodig om ʼn werklike akteur deel te hê van die rolverdeling om seker te maak dit word as ʼn werklike fliek erken.

Hulle het verklaar die fliek het amptelik $25 488 in die loket ontvang – genoeg om dit op 10 Junie die nommer 1-fliek in die VSA te maak.

“Dit was op ʼn tydstip in kwarantyn waar almal verveeld was. Niks het gebeur nie. Almal wou deel wees van ʼn prettige projek,” het Nilsson verduidelik. “Maak nie saak wat gebeur nie, mens kan altyd aan iets kreatief dink wat jy kan doen – selfs onder moeilike omstandighede.”

Die fliek is op Vimeo te sien
Lees meer: Washington Post, BBC, Eric Tabach

Unsubscribe

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.