1 200 jaar oue kano toevallig gevind

Foto: Wisconsin Historical Society/Facebook

ʼn 1 200 jaar oue, 4.5 meter lange kano is in Mendota-meer in Madison, Wisconsin in die VSA gevind. Twee duikers het toevallig daarop afgekom toe hulle met onderwater bromponies gery het.

Volgens die Wisconsin Historical Society is dit moontlik die oudste vaartuig, wat nog ongedeerd is, in Wisconsin.

Maritieme argeoloë het op 2 November vanjaar dié geskiedkundige houtkano uit die meer gehaal, net ʼn paar maande ná hulle vir die eerste keer in Junie 2021 daaroor in kennis gestel is.

Tamara Thomsen, ook ʼn maritieme argeoloog, en haar vriendin Mallory Dragt het in Junie in die water baljaar toe hulle ʼn stomp op die bodem van die meer opgemerk het. Thomsen het ondersoek ingestel en besef dit kan moontlik ʼn kano wees.

Radiokoolstofdatering dui aan die boomkano is moontlik 1 200 jaar oud en is in ongeveer 800 n.C. gebruik, eeue voor Europeërs in die VSA aangekom het.

Foto: Wisconsin Historical Society/Facebook

“Die boomkano wat in Mendota-meer gevind is, is ʼn noemenswaardige artefak in die kontinuum van kanokultuur in die Groot Mere-streek,” sê Christian Overland, uitvoerende hoof van die Wisconsin Historical Society. “Die bewaring van dié kano beteken dat ons ʼn stuk geskiedenis beskerm vir toekomstige generasies. Die kano is ʼn merkwaardige artefak. Dit is uit ʼn enkele boom vervaardig en verbind ons met die mense wat 1 200 jaar gelede in dié gebied gewoon het.” Die organisasie beplan ʼn nuwe geskiedkundige museum vir 2026 wat ook Indiaanse Amerikaners se stories en kultuur sal insluit.

Die kano is op ʼn diepte van sowat 9 m uitgehaal met behulp van die Dane County Sheriff se duikspan. Dit is na ʼn bewaringsfasiliteit geneem en in ʼn doelgemaakte houer wat water en ʼn bio-afskrikmiddel bevat om die kano teen fisiese agteruitgang te beskerm. ʼn Chemiese oplossing sal mettertyd bygevoeg word wat uiteindelik die water in die sellulêre struktuur van die hout sal vervang. Die bewaringsproses sal na verwagting sowat drie jaar lank duur.

Voorvaders van die Ho-Chunk-nasie van Indiaanse Amerikaners, ook bekend as “Mense van die Groot Water”, het boomkano’s in die gebied gebou deur die binnekant van stompe te brand en dit met klip-gereedskap uit te skraap.

Lees meer: Madison

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.