10 honde wat mense se lewens gered het

Daar word nie verniet na honde as “die mens se beste vriend” verwys nie en ons het van hulle al opgelei om verskeie takies te doen. Sommige honde word selfs aangestel om voortvlugtige misdadigers te jaag, weggesteekte dwelmmiddels op te spoor en mense met spesiale behoeftes by te staan. Ons het waghonde, jaghonde en selfs honde wat skape bymekaar kan jaag. Daar is ook al ʼn hele rits flieks van honde gemaak wat in buitengewone omstandighede hulself bewys het.

Hier is ʼn paar honde wat nie gehuiwer het om hul eienaars of selfs vreemdelinge in lewensgevaarlike situasies by te staan nie.

  1. Jess en die asma-aanval

Jess (Foto: halifaxcourier.co.uk)

ʼn Negejarige Jack Russell het in Cleckheaton, Engeland, haar eienaar se lewe gered danksy haar vinnige optrede. Rebecca Brookes, Jess se eienaar, het op ʼn dag ʼn erge asma-aanval gehad. Terwyl sy onbeheersd gehoes en na asem gesnak het, het Jess besef sy is in die moeilikheid. Sy het dadelik Rebecca se asmapompie in die kamer gaan haal. Ná Rebecca van die asma-aanval herstel het, wou sy sien of dit net toevallig is dat Jess haar te hulp gesnel het. Sy het die asmapompie in ʼn ander vertrek gelos en weer gehoes om te sien wat Jess sou doen. Groot was haar verbasing toe Jess na die asmapompie begin soek het, dit opgespoor en vir haar gebring het. Rebecca het haar pa daarvan vertel. Hy wou ook sien of dit werk en het begin hoes. Jess het egter geweet dit is nie ʼn asma-aanval nie, en het nie reageer nie. Jess is nou ʼn groot hulp en gaan haal Rebecca se motorsleutels, skoene en selfs haar briewe.

  1. Tod en die ratelslang

Todd (Foto; heavy.com)

Paula Godwin het in Anthem, Arizona in die VSA saam met haar honde gaan stap. Todd, ʼn herdershond, het gesien Paula gaan op ʼn ratelslang trap. Net toe die ratelslang Paula sou pik, het die jong hondjie voor haar ingespring en die ratelslang het hom op sy snoet gepik. Paula het Todd dadelik na ʼn plaaslike dierehospitaal gehaas vir behandeling. Todd het die byt oorleef en ten volle herstel.

  1. Layla en die inbrekers

Layla (Foto: ajc.com)

Kelsey Leachman van Louisville in Kentucky in die VSA het Layla, ʼn Amerikaanse veghond, in 2016 aangeneem toe sy haar verwaarloos aangetref het. Sy was ondervoed en bedek met vlooie en bosluise. Op die aand van die inbraak was Kelsey en Layla in die sitkamer. Kelsey het sit en televisie kyk toe Layla skielik opgespring, in die kombuis in gehardloop en geblaf en gegrom het. Kelsey het dadelik besef iets is verkeerd. ʼn Vreemdeling het in haar kombuis gestaan. Kelsey wou na die voordeur hardloop, maar die inbreker het haar agternagesit. Layla het deurgaans geblaf en die man aan sy bene gebyt. Kelsey kon uit die man se greep ontsnap en Layla het die man uit die huis gejaag. Kelsey het dadelik die polisie ontbied, maar hulle het die verdagte se spoor by ʼn nabygeleë hoërskool verloor. Beamptes vermoed hy het in ʼn motor gevlug.

  1. Chrome en die huisbrand

Chrome (Foto: kxan.com)

ʼn Familie van Bastrop County in Texas, VSA, het ʼn hond, genaamd Chrome, in 2017 by ʼn diereskuiling aangeneem. Laura Smith, Chrome se eienaar, en haar twee seuns het een aand in hul huis gelê en slaap toe Chrome haar omstreeks 01:00 wakker gemaak het. Chrome het by haar gebly totdat sy besef het ʼn brand het uitgebreek. Chrome het daarna die twee seuns gaan haal. Almal kon uit die huis ontsnap voor die huis deur die brand verwoes is. Foutiewe bedrading was vermoedelik die oorsaak van die brand.

  1. Die beeshond en die kwadfiets

Die Australiese beeshond (Foto: abc.net.au)

ʼn 56-jarige man van Queensland in Australië het op ʼn afgeleë gebied met sy kwadfiets omgeslaan. Hy was onder die fiets vasgekeer en kon nie hulp ontbied nie. Hy was ʼn hele aand lank onder die fiets vasgekeer en het begin verkluim. Hy sou waarskynlik gesterf het as dit nie vir sy Australiese beeshond was nie. Sy hond het by hom gebly en hom warm gehou. ʼn Buurman het met sy perd gaan ry en toe die omgeslane kwadfiets opgemerk. Hy het stilgehou en paramedici ontbied. Garth Snaidero, paramedikus van Capricorn Helicopter Rescue Service, het bevestig dit man sou waarskynlik nie sonder sy getroue vriend oorleef het nie. Die man en sy hond is met ʼn helikopter na ʼn hospitaal geneem vir behandeling.

  1. Pickle en die beer

Tiffany Merrill en haar 2.2 kg poedel, Pickle, was einde Augustus vanjaar op pad uit huis in Black Mountain, Noord-Carolina in die VSA, toe ʼn aggressiewe beer skielik op hulle afgestorm het. Volgens Tiffany het die beer waarskynlik tussen 70 kg en 90 kg geweeg. Sy het vir haar lewe gevrees en vir haar kinders geskree om hul slaapkamerdeure toe te maak. Sy het agter ʼn rusbank ingespring voor die beer haar kon gryp. Pickle kon die beer se aandag aflei en hom uit die huis lok. Die beer en Pickle het buite baklei en toe die beer homself uiteindelik uit die voete maak, het Tiffany dadelik met Pickle na ʼn veearts gejaag. Dit was ongelukkig te laat. Pickle het noodlottige beserings opgedoen. Tiffany het slegs geringe beserings opgedoen.

  1. Noah red eienaar met longontsteking

Noah (Foto: easybranches.com)

Jane Lavergne van Ottawa in Kanada het longprobleme en maak staat op ʼn suurstoftenk om haar te help om asem te haal. Sy het een aand baie gesukkel om asem te haal en besluit om eerder op die grondverdieping op die sitkamerbank te slaap. Sy het egter haar bewussyn verloor toe sy die volgende oggend ʼn glas water wou kry. Haar 11-jarige Yorkie-Pomeranian, Noah, het besef sy is in die moeilikheid en het vinnig met die trappe boontoe gehardloop om Jane se man, Ken, wakker te maak. Hy het aanhoudend by die deur bly blaf totdat Ken reageer het. Ken het gesien sy vrou lê in ʼn vreemde posisie en het dadelik hulp ontbied. Jane is na ʼn hospitaal geneem en dokters het bevestig sy het longontsteking. Met haar bestaande longprobleme het die longontsteking daartoe gelei dat sy haar bewussyn verloor het. Paramedici het aan Ken gesê sy sou waarskynlik binne ʼn paar minute gesterf het, as hulp nie dadelik ontbied is nie.

  1. Ruby en die koolstofmonoksied-vergiftiging

Ruby (Foto: wivb.com)

Ronene Ando en haar man, Chris, woon in Lake View, New York in die VSA. Hulle is voorstanders vir veghonde en het self ook ʼn veghond, Ruby. Sy is ʼn opgeleide terapiehond vir die “Paws for Love”-inisiatief by die plaaslike DBV. Ruby het een aand onophoudelik begin blaf. Omdat sy ʼn opgeleide hond is, het die egpaar besef iets moet verkeerd wees. Toe hulle begin ondersoek instel, het hulle propaangas begin ruik. Dit was waarskynlik weens ʼn nuut geïnstalleerde verwarmer in hul kelder. Die egpaar kon uit die huis ontsnap voor die koolstofmonoksied hulle kon vergiftig.

  1. Nanook en die stappers

Nanook (Foto: cbsnews.com)

Scott Swift van Girdwood in Alaska woon naby die 39 km lange Crow Pass-staproete. Sy hond Nanook, ʼn Alaskiese poolhond (husky) is baie lief daarvoor om stappers op hul staptogte te agtervolg en hy ken die hele roete baie goed. Scott is al só gewoond daaraan, dat hy nie bekommerd is as hy sien Nanook het weer verdwyn nie. Amelia Milling, ʼn gehoorgestremde student aan die Rochester Instituut van Tegnologie, was op haar eie op ʼn drie dag lange staptog op die Crow Pass-roete toe sy gegly en ongeveer 183 m ver geval het. Nanook het uit die bloute tot haar redding gekom. Hy het by haar gebly en haar gehelp om weer by die staproete uit te kom. Amelia het egter gegly toe sy ʼn rivier wou oorsteek. Nanook het haar vir ʼn tweede keer gehelp en haar gehelp om na veiligheid te kom. Amelia kon hier ʼn “SOS”-boodskap op haar satelliettoestel uitstuur en Nanook het by haar gebly en haar bly lek om seker te maak sy bly wakker totdat reddingsbeamptes in ʼn helikopter opgedaag het. Scott het later ontdek dat Nanook gereeld nie net ander stappers begelei nie, maar ook hulle lewens red. Nanook het intussen minstens drie ander stappers gered – en dit is net diegene van wie Scott gehoor het. Toe media oor Nanook se heldedade berig het, het dosyne ander persone ook na vore gekom en hul stories gedeel. Nanook is glad nie opgelei om ʼn reddingshond te wees nie, maar dra nou met trots ʼn halsband met die woorde, “Crow Pass Guide Dog”.

  1. Dallas en die motorongeluk

Charles en Dallas (Foto: ctvnews.ca)

Charles Bailey van Cape Breton Island in Kanada het ʼn paar dae, voor hy deur New Waterford in Nova Scotia gery het, harsingskudding opgedoen. Hy het sy bewussyn agter die stuurwiel verloor en met sy bakkie ʼn telefoonpaal getref. Die voertuig het ʼn paar keer gerol voor dit in die middel van ʼn woud tot stilstand gekom het, op ʼn plek waar verbygangers hom nie sou opmerk nie. Toe Charles wakker word, was hy in ʼn hospitaalbed in ʼn hospitaal in Halifax. Alhoewel hy niks van die ongeluk kan onthou nie, glo sy ma dit is danksy Dallas, Charles se hond, dat hy vandag lewe. Dallas was deurgaans by Charles en het hom warm gehou en seker gemaak dat hy nie verkluim nie. Dallas en Charles was vermoedelik 10 ure lank in die voertuig. Eers toe iemand vir Dallas naby die pad opmerk, het hulle op die ongelukstoneel afgekom. Charles het bloeding op die brein opgedoen, derdegraadse vriesbrandwonde aan sy regtervoet en ʼn fraktuur in een van sy rugwerwels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Tanja ·

Dankie vir positief. Ons het ontsettend nodig om te hoor dat daar goeie dinge gebeur, daar buite.

Lily Rose ·

Diere is wonderlik en baie slimmer as wat mense partykeer dink.
Katte doen ook dieselfde. Ons kat het jare terug my man kom wakker maak deur op die mat voor sy kant van die bed te krap en snaakse gromgeluide gemaak.
Sy het aangehou om dit te doen tot my man opgestaan het. Waarna sy vooruit in ons gang gehardloop het en op die trap gestop het en omgeloer het na waar ons kombuisvenster was.
Voor my man in die kombuis ingegaan het, sien hy gelukkig toe hoe ‘n flits lig ingeskyn word.
Hy het toe by een van die slaapkamers gaan uitloer en gesien dat drie was besig om in te breek en nog net een diefwering staaf moes oopbuig, dan kon hulle inklim in die huis.
Hy het op hulle geskree waarna hulle rustig weggeloop het en gelag het.
Die hele volgende dag het ons kat kort-kort na daardie venster gekyk.

Lily Rose ·

Diere is wonderlik en baie slimmer as wat mense partykeer dink.
Katte doen ook dieselfde. Ons kat het jare terug my man kom wakker maak deur op die mat voor sy kant van die bed te krap en snaakse gromgeluide gemaak.
Sy het aangehou om dit te doen tot my man opgestaan het. Waarna sy vooruit in ons gang gehardloop het en op die trap gestop het en omgeloer het na waar ons kombuisvenster was.
Voor my man in die kombuis ingegaan het, sien hy gelukkig toe hoe ‘n flits lig ingeskyn word.
Hy het toe by een van die slaapkamers gaan uitloer en gesien dat drie was besig om in te breek en nog net een diefwering staaf moes oopbuig, dan kon hulle inklim in die huis.
Hy het op hulle geskree waarna hulle rustig weggeloop het en gelag het.
Die volgende dag het ons kat kort-kort na daardie venster gekyk.

Bossie ·

My diere het nog nooit só n heldedaad gedoen nie, maar hul gee my moed om elke dag uit die bed op te staan. Onvoorwaardelike liefde en aanvaarding. Krul op teen my pynlike rug. Gee net liefde

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.