101-jarige verbeter valskermspringrekord

Verdun Hayes (Foto: Facebook)

ʼn 101-jarige man van Engeland het ʼn nuwe valskermspringrekord opgestel.

Bryson William Verdun Hayes is nou amptelik die wêreld se oudste tandemvalskermspringer. Hy het verlede jaar vir die eerste keer met ʼn valskerm gespring.

“Verlede jaar se valskermsprong was ʼn ongelooflike ervaring. Ek dink ek het ʼn aanvoeling daarvoor, want dit het gemaak dat ek dit net weer en weer wil doen.” En hoe het dit gevoel toe Hayes se voete weer die grond raak? “Ek was heeltemal in die wolke!” sê hy.

Sy seun, Bryan, en kleinseun, Roger, en twee agterkleinkinders, Joe en Stanley, was onder die agt familielede wat saam met hom die groot stap gewaag het. “Hy wou dit al vir baie jare doen, maar sy vrou het hom nie toegelaat nie,” het Ian Honnor, ʼn familielid van Hayes, vertel. “Hy beskou homself as ʼn man met baie waagmoed. Hy het nog nooit iets van dié aard gedoen nie.”

Hayes het ongeveer R40 000 ingesamel vir ʼn organisasie wat gesinne ondersteun met lede wat in Engeland se weermag dien. Hierdie kwessie lê Hayes veral na aan die hart omdat hy vernoem is na ʼn bekende veldslag in die Eerste Wêreldoorlog, naamlik die slag van Verdun. Sy pa wat aan die geveg deelgeneem het, het sy swanger vrou gevra om hul kind na dié veldslag te vernoem. Hayes was self ook ʼn veteraan wat in die Tweede Wêreldoorlog gedien het.

Die vorige rekordhouer was Armand Gendreau van Kanada. Hy was ook 101 jaar oud. Hayes was egter 34 dae ouer toe hy gespring het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.