103-jarige spog met wêreldrekord in atletiek

Die 103-jarige Julia Hawkins neem deel aan die 50 m-wedloop by die 2019 Nasionale Senior Spele in Albuquerque, New Mexico (17 Junie 2019) (Foto: Brit Huckabay/National Senior Games Association via AP)

Julia “Hurricane” Hawkins (103) van Baton Rouge in Louisiana in die VSA, spog met ʼn splinternuwe wêreldrekord in haar afdeling – vir vroue ouer as 100. Sy het Maandag die 50 m-naellope by die Senior Spele in Albuquerque, New Mexico, in 46.07 sekondes kafgedraf.

Hawkins, ʼn voormalige juffrou, het in 2017 ook ʼn wêreldrekord opgestel toe sy in minder as 40 sekondes 100 m afgelê het. “Ek het gedink dit sal lekker wees om as 100-jarige 100 meter te hardloop,” het sy aan KRQE gesê.

Sy was nog altyd aktief, maar het eers in die ouderdom van 101 haar hardloopskoene aangetrek. Volgens haar help sport haar om haar liggaam en siel skerp te hou en sy het geen planne om vinnig haar skoene op te hang nie.

Sy het ʼn stuk grond van ongeveer 4 000 m² en 50 verskillende tipe bome. “Ek stap graag in my tuin. Ek werk graag aan die bome.”

Hawkins is nie vreeslik beïndruk met haar bynaam “Hurricane” nie. “Ek verkies veel eerder die ‘flower lady’.”

Sy hoop om ander persone aan te moedig om gesond te leef. “En dat mense sal besef dat jy enigiets op enige ouderdom kan doen.”

Meer as 13 000 atlete van oor die VSA heen het vanjaar ingeskryf vir die Nasionale Senior Spele wat van 14 Junie 2019 tot 25 Junie 2019 aangebied word. Altesaam 20 verskillende items word aangebied en die Spele word by 16 verskillende liggings gehou.

Lees meer hier: Albuquerque Journal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

SM ·

Ek het gegoogle – sy het die 100 meter in 46.07 gedoen.. nie 50 meter nie. Sy lyk fantasties vir 103! Goeie voorbeeld vir ons almal.

LIEZL ·

Sy was seker die enigste in haar groepie vir die wedloop, 100 jaar oud en ouer. Want sjoe, dit wil gedoen wees. Dit sit nie in enige ou se broek nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.