103-jarige vrou ry nou fiets ná rybewys verval

Argieffoto (Foto: Dorinel Nedelcu / Pixabay)

ʼn 103-jarige vrou van Italië, wie se rybewys verval het, is deur die polisie voorgekeer toe sy een aand by vriende wou gaan kuier het in ʼn motor wat nie verseker is nie.

Die polisie het omstreeks 01:00 ʼn oproep ontvang oor ʼn motor wat gevaarlik bestuur word in Bondeno, ʼn dorp met sowat 13 000 inwoners naby Ferrara, het die polisie in ʼn verklaring gesê wat AFP Donderdag ontvang het.

Polisiebeamptes “was baie verbaas toe hulle die vrou se geboortedatum sien”, lui die verklaring.

Giuseppina Molinari, ook bekend as Giose, is in 1920 gebore. “Sy is 103 jaar oud, maar kan nog steeds in ʼn motor klim en Bondeno toe ry om by haar vriende te gaan kuier,” het die polisie bygevoeg.

Sy het “waarskynlik” in die donker deurmekaar geraak en toe verdwaal.

Molinari se rybewys het twee jaar gelede verval. Bestuurders in Italië, ouer as 80, moet elke twee jaar ʼn mediese toets ondergaan om hul rybewys te hernu.

Giose is beboet en is deur die polisie huis toe geneem.

Sy wil egter nie net by die huis sit nie.

“Ek sal vir myself ʼn Vespa aanskaf,” het Molinari aan die plaaslike koerant La Nuova Ferrara gesê, met verwysing na die Italiaanse handelsmerk wat bromponies vervaardig.

Intussen beplan sy om met haar fiets by vriende te gaan kuier.

Alan Fabbri, burgemeester van Ferrara, self oorspronklik van Bondeno, het haar lewenslustigheid bewonder. “Ek sal vir Giose eerder ʼn medalje gee as ʼn boete. Dis ongewoon om soveel innerlike krag te hê. Dit gee my hoop vir my eie oudag!” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.