11 jaar lange projek om replika van wêreldbekende tapisserie te maak

Mia Hansson by haar replika van die Bayeux -tapisserie (Foto: ADRIAN DENNIS/AFP)

Mia Hansson van Engeland is besig met ’n 11 jaar lange projek om ’n lewensgrootte replika van die wêreldbekende Bayeux-tapisserie te maak.

Hansson, wat in Swede gebore is en voorheen ’n onderwyser was, het in 2016 met die projek begin en spandeer daagliks ure lank daaraan om ‘n replika van die 70 m lange tapisserie, wat die Normandiese inval van Engeland deur William die Oorwinnaar uitbeeld, te skep.

“Ek het niks gehad om te doen nie en ek was regtig baie verveeld; ek het dus gedink ek het ’n projek nodig wat ek nie oorhaastig kan voltooi nie, en wat is groter as die Bayeux-tapisserie?” het Hansson (47) by haar huis in Wisbech in Cambridgeshire, Engeland, aan AFP gesê.

Die byna 1 000 jaar oue oorspronklike tapisserie is ’n simbool van die gereelde onstuimige verhoudings tussen die VK en die Europese vasteland.

Hansson, wat al meer as 20 jaar in Brittanje woon, werk die afgelope vyf en ’n half jaar drie tot vier uur per dag aan haar weergawe en het in Januarie die halfpadmerk bereik.

Sy moet die tapisserie opgerol hou, want haar huis is nie groot genoeg om dit oop te vou nie.

Mia Hansson by haar replika van die Bayeux -tapisserie (Foto: ADRIAN DENNIS/AFP)

Die 11de-eeuse borduurwerk, wat vermoedelik in Engeland gemaak is, is in 2007 amptelik deur Unesco as ’n belangrike artefak erken. Die tapisserie word in ’n museum op die dorp Bayeux in die Normandië-streek van Noordwes-Frankryk gehuisves.

Volgens Hansson het sy nie baie in die geskiedenis belanggestel toe sy met die projek begin het nie, maar om die 626 karakters saam te voeg het haar ’n kenner gemaak.

“Jy het alles, jy het voëls en drake, kamele, perde, skepe, geboue … en niks is ooit dieselfde nie,” sê sy. “Selfs al is daar twee perde, gaan hulle nie dieselfde wees nie. Daar sal nooit ’n herhaling wees nie.”

Hansson gebruik sewe verskillende kleure wol op ’n linnebasis. “As ek reg onthou het ek sowat 8 000 meter wol in totaal bereken,” het sy gesê. Sy het haar nog vyf jaar gegee – tot 13 Julie 2027 – om die projek te voltooi, of altesaam 11 jaar tot die dag nadat sy begin het.

Volgens Hansson sal sy moontlik die tapisserie verkoop sodra dit voltooi is. “Dit sal lekker wees as hy homself betaal sodat ek kan sit en ontspan,” het sy gesê. “As iemand vir my ’n aanbod maak wat ek nie kan weier nie, sal dit gaaf wees.”

Die oorspronklike Bayeux-tapisserie
(Foto: LOIC VENANCE/AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.