11-jarige se terapiesessies baie gewild

Emotional Advice Kid, Instagram

Emotional Advice Kid, Instagram

ʼn 11-jarige bied al die afgelope nege weke lank, elke Sondag, terapiesessies vir New Yorkers wat graag sy raad wil hoor.

Ciro Ortiz se “spreekkamer” is oop vir enigiemand, solank hulle met die ondergrondse trein ry.

Ortiz het sy stalletjie by Bedford L-stasie in Brooklyn staangemaak en bied advies aan angstige New Yorkers wat ʼn paar minute lank wil sit en gesels. Sy kantoor is ʼn opvoutafeltjie en twee stoele. Sessies duur ongeveer vyf minute lank en kos $2.

Ortiz, wat homself die “Emotional Advice Kid” noem, sê hy is geïnspireer om persone te beraad nadat hy self by die skool onder boelies deurgeloop het. Hy gebruik die geld wat hy insamel, gewoonlik $50 (ongeveer R700) om kos en snoepgoed te koop vir kinders by sy skool wat dit nie kan bekostig nie.

Hy het al persone gehelp wat raad wou hê oor verhoudings, of selfs persone wat skrikkerig is vir verandering. Een getroude paartjie het by hom aangeklop en die man het bely dat hy sukkel met die idee dat sy vrou onlangs ʼn vegan-dieet begin volg het.

“Ek het vir hom gesê sy kan nie kwaad word omdat hy vleis eet nie,” het Ortiz aan die New York Post verduidelik. “Sy hou daarvan om te eet wat sy wil en hy wil eet wat hy wil, so hulle moet dit net hanteer.”

Volgens hom voel mense dinge was “soveel beter in die verlede”. “Ons moet verandering aanvaar,” verduidelik hy aan dié persone. “Dit gaan gebeur, dit gaan altyd gebeur. Die lewe verander deurgaans.”

Volgens Jasmine Aequitas, Ortiz se ma, was hy aanvanklik op sy senuwees en baie onseker van homself toe hy eers met sy spreekkamer begin het, maar ná ʼn paar weke was die vrees daarmee heen. “Nou kom hy terug en vertel van die wonderlike mense wat hy ontmoet het. Hy ontmoet baie nuwe vriende,” het sy gesê.

Ortiz meen hy kry sy talent by sy ouers, want hulle het hom geleer om altyd goedhartig te wees met enigiemand en sy passie na te streef. Hy het egter geen planne om ʼn berader te word as hy groot is nie, hy wil graag eerder videospeletjies ontwerp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mooi storie ·

Dit is net eenvoudig n mooi storie van begin tot einde. Buiten n diens wat hy lewer, gebruik hy die opbrengs om n verskil te maak!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.