2021 se mullet-koning aangewys

Die 2021 Mullet Cup-kampioen Nicolas Vanderkelen (4 September 2021) (Foto: Guillaume Souvant/AFP)

Aanhangers van die mullet, die ikoniese en byna onverklaarbare haarsnit van die 1980’s, het ʼn nuwe held toe ʼn Belg se kort-na-lang lokke as Europa se beste aangewys is by ʼn fees in Frankryk.

Of jy nou daarmee spot of spog, die mullet – die “business in the front, party in the back”-haarstyl – is meer as net ʼn haarstyl vir die 500 mense wat Saterdag die fees in Cheniers, ʼn dorpie in sentraal-Frankryk, bygewoon het.

“Dis ʼn leefstyl; om vir jouself te kan lag,” sê Hubert, wat al die pad van België gereis het waar die eerste nieamptelike Europese Mullet-kampioenskap twee jaar gelede gehou is.

Deelnemers het met hul styl gespog of in rye gaan staan om ʼn haarknip te kry deur professionele stiliste. Organiseerders sê daar sou baie meer mense gewees het as daar nie Covid-19-beperkings was op openbare byeenkomste nie.

Dit wil voorkom of daar ʼn algemene eenstemmigheid heers dat mullets – altans vir mans – op die beste lyk wanneer die persoon ook met treffende wangbaarde, ʼn groot-liga baard of minstens ʼn snor spog.

Dit wil voorkom of die pandemie moontlik die mullet ʼn hupstoot gegee het, omdat mense wêreldwyd van die afsonderingperiode gebruik gemaak het om ʼn nuwe styl te probeer.

“Een van my vriende, het net vir die grap, vir iemand anders, wat bietjie depressief was, gesê hy lyk soos ʼn mulletkop – en dit is hoe ons met die idee vorendag gekom het om ʼn byeenkoms te hou,” sê Johan Detour.

Sowat 100 mense het ingeskryf vir die kompetisie, maar Nicolas Vanderkelen, ʼn Belgiese vragmotorbestuurder, is uiteindelik as koning gekroon. Hy sê hy het al 20 jaar lank ʼn mullet.

Hy volg Gauthier Istin van Frankryk op vir die titel. Istin het gesê hy is bly om die titel oor te dra. “Ek het ʼn paar van my hare in die trofee gesit – ek hoop die volgende kampioen doen dieselfde!”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

VaalDonkie ·

Daai ou ry ‘n El Camino en sy meisie is 14 jaar oud. Jy weet dit sommer net.

Belinda ·

As die Brakpanners geld gehad het om te reis na Europa, het een van hulle beslis die prys eerder losgeslaan.

VaalDonkie ·

Ek dink nie hierdie kompetisie was oop vir professionele nie

Francois Le Cochon ·

Van Brakpan gepraat, het Brakpan se Tops al ‘n Spar gekry?

Misky ·

Sjoe Francois, dankie, jy het my dag gemaak!!!!! Lanklaas so lekker gelag

Strandloper ·

Ons eie parlement sou los hande gewen het. Die kopdoek voelverskrikker is my gunsteling

Elinette ·

O nee … nie vir my nie. Daar is min goed wat my laat gril tot in my tone … (1) ‘n snor/bakkebaard bokbaard of volbaard en (2) mans met bors hare wat hier tot by hul kuiltjie vir my lê en koekeloer … (3) mans met oor- of neus hare wat 1cm lank na buite hang en dan (4) mans (of mense) met “mullets”. Eh-eh, ek verkies netjies, skoongeskeerde mans …. uhm, dis nou die dag ás ek na mans (of mense, for that matter) kyk ….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.