3 000 jaar oue slagoffer van haai-aanval gevind

No 24 se oorskot (Foto: Kyoto-universiteit)

Daar is af en toe stories in die nuus oor haai-aanvalle, maar in ʼn studie wat Woensdag gepubliseer is, het Oxford-navorsers hul ontdekking van ʼn 3 000 jaar oue slagoffer, wat deur ʼn haai aangeval is, onthul.

Die navorsing in die Journal of Archeological Science: Reports wys dié oorskot is die vroegste direkte bewys van ʼn haai-aanval op ʼn mens en ʼn internasionale navorsingspan het noukeurig herskep wat gebeur het, deur gebruik te maak van argeologiese wetenskap en forensiese tegnieke.

Die navorsers het ondersoek ingestel oor bewyse van gewelddadige trauma op die oorskot van prehistoriese jagter-versamelaars by Kyoto-universiteit in Japan. Alyssa White en prof. Rick Shulting het die oorskot van ʼn man ondersoek wat traumatiese beserings opgedoen het. Die oorskot is in gemeenskaplike Tsukumo-begraafplaas by die Seto-binnesee gevind wat vroeër opgegrawe is.

“Ons was aanvanklik dronkgeslaan oor wat die 790 beserings kon veroorsaak het,” het die twee in hul verslag gesê. “Daar was só baie besering en tog is hy in die gemeenskaplike begraafplaas begrawe.”

Die beserings was grootliks aan die arms, bene, voorkant van die bors en maag.

“Deur ʼn proses van eliminasie het ons menslike konflik buite die kwessie gestel asook aanvalle deur gewone diere of aasvreters.”

Omdat argeologiese gevalle van haai-aanvalle uiters seldsaam is, het hulle na forensiese haai-aanval-gevalle ondersoek vir leidrade en met kenner George Burgess van die Florida-program vir haai-navorsing gewerk.

Die span het bepaal die man, bekend as No 24, is tussen 1370 en 1010 v.C. dood. Die verspreiding van die beserings dui daarop dat die slagoffer gelewe het toe hy aangeval is. Sy linkerhand is afgeskeur – waarskynlik toe hy homself probeer verdedig het.

No 24 se liggaam is kort ná die aanval gevind en saam met sy mense by die begraafplaas begrawe.

Opgrawingsrekords wys sy regterbeen was vermis en sy linkerbeen is bo-op sy liggaam in ʼn omgekeerde posisie geplaas.

“Gegewe sy beserings was hy klaarblyklik die slagoffer van ʼn haai-aanval. Die man het waarskynlik saam met vriende visgevang, omdat sy liggaam vinnig gevind is. Gebaseer op die karakter en verspreiding van die tandmerke, is hy waarskynlik deur ʼn tierhaai of grootwithaai aangeval.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.