3D-skilderye vir visueel gestremdes

Die bekendstelling van die 3D-weergawe van Gustav Klimt se bekende skildery, "Die soen"

Die bekendstelling van die 3D-weergawe van Gustav Klimt se bekende skildery, “Die soen”

Een van die gesogste skilderye in Europa, “Die soen” deur Gustav Klimt, hang in die Belvedere-museum in Wene. Visueel gestremdes kan nou ook dié skildery “sien”.

Meer as ʼn miljoen mense besoek jaarliks die museum om eerstehands die skildery, wat die Oostenrykse kunstenaar in 1908 geskep het, te sien en danksy 3D-tegnologie is die kunswerk nou ook vir blinde persone toeganklik.

Die 3D-drukwerk bring vorm en definisie aan die skildery, en blinde persone kan die definisie voel wat hulle nie kan sien nie. Dié weergawe, wat net in wit gedruk word, verteenwoordig die oorspronklike kunswerk in reliëf en kan dus deur visueel gestremde persone ondersoek word.

Terwyl museumbesoekers aan die 42 x 42 cm groot 3D-model raak, aktiveer spesifieke sensors oudio-inligting oor die spesifieke deel van die skildery.

“Ons wil ʼn nuwe hoofstuk begin om kuns beskikbaar te maak vir blinde persone en visueel gestremdes,” het Rainer Delgado, van die Duitse Vereniging vir Blindes en Visueel Gestremdes.

Delgado het bygevoeg dat replikas in die toekoms selfs buite die museumbedryf vervaardig kan word, om die werke selfs nog meer toeganklik te maak. “[Blinde persone] kan dalk in die toekoms self ʼn 3D-drukker by hul huis hê, en sal dan die 3D-lêers van die museum se webwerf kan aflaai.”

Die Belvedere-museum se poging om kuns meer toeganklik te maak vir blinde persone, volg in die spore van ander instansies soos die Metropolitan Museum of Art in New York wat ʼn spesiale “raak-afdeling” het. Dié versameling bevat, onder andere, ʼn Romeinse marmervoet en ʼn 20ste eeuse Eskimo-standbeeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.