40 000 aansoeke om op eiland na katte om te sien

Foto: God’s Little People Cat Rescue/Facebook

Die eienaars van ʼn katversorgingsoord op ʼn afgeleë Griekse eiland (“ʼn klein paradys”) het ʼn advertensie op Facebook gepubliseer en gesê hulle is op soek na iemand wat tydelik na die bedrywighede kan omsien en die 55 katte kan versorg.

Hulle het gedink dit sou die ideale werk wees vir die regte persoon – iemand wat natuurlik lief is vir katte, maar ook iemand wat vir ʼn ruk lank relatief in afsondering wil woon “in ʼn klein huisie” wat by die vergoeding ingesluit word.

“Deel hierdie plasing so ver en wyd as moontlik!!” het hulle op Facebook geskryf en gedink hulle sal dalk 25 of 50 aansoeke kry. Binne enkele weke het hulle egter 40 000 aansoeke gekry, berig Karin Brulliard van die Washington Post.

Net om die aansoeke te verwerk het byna ʼn voltydse werk geword vir Joan en Richard Bowell, oorspronklik van Denemarke en Engeland, wat nou op die Griekse eiland Syros woon.

Joan en Richard het aanvanklik saam met hul twee katte na Syros verhuis. Toe ʼn rondloperkat egter in 2010 twee babatjies in hul tuin gehad het (een van hulle was siek), het die egpaar hulle ook “aangeneem”. En só het “God’s Little People Cat Rescue” begin.

Foto: God’s Little People Cat Rescue/Facebook

“Mense dink diere is iets wat jy net kan optel en weer kan uitsit, maar dit is nie hoe ons daaroor gedink het nie,” het Richard (66), ʼn skrywer en filosoof, aan die Washington Post gesê. “Ons moes in ʼn stadium onsself daartoe verbind dat ons hulle nooit sou verlaat of hulle in ʼn slegter toestand sou los as wat ons vir hulle gebied het nie.”

In 2018 het die oord nou byna 60 katte. Richard het egter ʼn aanbieding vir werk by die Verenigde Nasies in New York ontvang en Joan het planne om met nóg ʼn katversorgingsoord buite die stad te begin.

Sy het die advertensie op 5 Augustus op Facebook gepubliseer sodat iemand bedrywighede by “God’s Little People” kon oorneem.

Dag ná dag, sê Joan, het sy tot 1 600 e-posse van 90 verskillende lande wêreldwyd ontvang. Van die briewe was vlugtelinge wat hul inkomste huis toe wou stuur, ander was vroue wat uit verhoudings wou wegkom waar hulle mishandel word, en verskeie aansoeke was van persone wat self al probeer het om katte te red.”

Die egpaar was verstom oor die hoeveelheid aansoeke en hulle wou dit duidelik stel dat, alhoewel die werk in ʼn plek geleë is wat ander as ʼn paradys sou beskou en dat jy na verwagting net vier ure lank per dag sal besig wees met die katte, is dit ʼn regte werk en jou hart breek as jy dalk ʼn kat van kant moet maak. “En natuurlik moet jy skoonmaak waar die katte gemors het!”

Jeffyne Telson (links) en Joan Bowell (regs) (Foto: God’s Little People Cat Rescue/Facebook)

Joan en Richard het uiteindelik iemand gekies: ʼn 62-jarige vrou van Kalifornië, Jeffyne Telson, wie se man op die advertensie afgekom het en dit vir haar aangestuur het. Jeffyne het self ʼn katversorgingsoord in Santa Barbara bestuur en Griekeland al ʼn paar keer besoek. Die Bowells het na Kalifornië gereis om ʼn onderhoud met haar te voer en sy is aangestel.

Jeffyne sal waarskynlik net ʼn paar maande lank die oord bestuur voordat ander finaliste uit die soektog die werk sal oorneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Blommie ·

Dis n baie mooi storie, so min mense lief katte.
Ek natuurlik is baie lief vir n kattekind, maar my man hou glad niks van katte en my dogtertjie is hoegs allergies vir katte.
So agv die liefde vir my mense kan ek net nooit n katte baba aanhou nie.
My seun is net so lief vir katte soos ek, maar as ons iewers gaan kuier waar daar kat is dan speel ons maar daar met die kat.

Veronica ·

Ek het self al 22 katkinders gehad. Huidiglik net18 . Vier verloor, drie agv ouderdom en enetjie met n hart defek. Almal is “rescues” en almal gesteriliseer op ouderdom 6mnde. Ook is my erf agter toe met n spesiale heining sodat hul net in die huis en agterplaas kan beweeg. Ek is absoluut gek oor my katte. Hulle is betroubaarder as mense. Bly om te lees dat daar nog mense is wat n hart het vir n kat. Hulle is ongelooflike diere.

Fris Chris ·

Ek het ook 4 “rescues”. Enetjie wat deur ma weggegooi was omdat sy hom nie meer kon voer nie, twee wat by die waterpype uitgespoel het gedurende ‘n storm (ma het verdrink) en enetjie wat net een aand in die winter kom hitte soek het in die huis. Elke keer het my trane geloop as ek hulle gekry het en kon red. Na wat hulle deurgemaak het as klein babies word hulle nou tot in die grond in bederf. Daar was ‘n rede hoekom ek hulle moes kry. Weet nognie presies wat die rede is nie, maar sal hulle vir niks verruil nie. Die dankbaarheid wat hulle daagliks toon is meer as genoeg betaling.

Lizelda Jv Rensburg ·

Ek sal my voortande gee vir so lewe met soveel kieter-katte!

KarelKat ·

Ek was my hele lewe lank ‘n katliefhebber tot ek eendag ‘n rondloper-katjie opgetel het en huistoe geneem het. Kort voor lank was ek oortrek van omlope! Die gejeuk,my doktersrekening en die kat se veearts-rekening het my totaal genees van katte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.